Hoop vir moeilike toekoms Print E-mail
News - Kommentaar
Friday, 16 October 2020 12:34
Untitled Document

Die geskiedkundige plaas, Kleinfontein, waar die slag van Donkerhoek – ook bekend as die slag vanDiamond Hill – in die Anglo-Boere-oorlog hom afgespeel het, kan bes moontlik eersdaags onder ‘n slag van ‘n heel ander en blywende en vernietigende aard deurloop. Dit word beoog om silika daar te ontgin en grondeienaars is reeds van dié voorneme in kennis gestel.

Skanse, bouvalle en grafte van groot geskiedkundige waarde wat reeds meer as 120 jaar bewaar word, is ook nie al wat in die ‘Slag van Silika’ tot niet kan gaan nie. As jy vertroud is met die metodes wat vir die ontginning van silika aangewend word, sal jy weet dat die eiesoortige kliprant-omgewing kenmerkend van die Kleinfontein- en Rhenosterfontein-omgewing kan verdwyn. Geheel en al kan verdwyn. ‘n Goeie voorbeeld van wat silika-ontginning aan kliprante kan doen, kan naby Brits gesien word.

Die Bronnie het gepoog om rolspelers wat deur die moontlike ramp geraak kan word, met mekaar in verbinding te bring en die hoop is dat dié nare moontlikheid afgeweer kan word.

Hoop van ander aard              
Die uitwerking wat die Covid-19 pandemie op elkeen van ons se lewens en lewenswyse meegebring het, gaan nog lank met ons wees. Dit sal nie help om mooi broodjies te bak hieroor nie.

Die verslapping van sekere inperkings, soos die feit dat jy nou ‘n bier saam met jou hamburger by ‘n restaurant kan geniet, beteken nie dat alles oornag weer klopdisselboom gaan wees nie. Ook nie die feit dat wêreldwyd na ‘n entstof gesoek word nie. Ons sit met die ding . . .

Maar dit beteken ook geensins dat ons in sak-en-as-stemming moet verval nie. Dit is trouens juis nou die tyd om op hoop eerder as wanhoop te fokus. Die projek wat deur die Tygerpoortse NG-gemeente begin is, waar onderhoude met mense oor ‘hoop’ gevoer word en hulle stories dan per YouTube rugbaar gemaak word, kan as voortreflike voorbeeld gebruik en nagevolg word. Dit is ‘n wonderlike manier om die fokus op hoop te hou en mense die broodnodige moed vir die toekoms te help gee. Lees gerus die berig Mense deel hulle stories van hoop.

Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za
 

© 2024 Die/The Bronberger