Hier kom die Bronnie! Print E-mail
News - Kommentaar
Wednesday, 20 May 2020 19:58
Untitled Document

Ja, in die ou holruggeryde uitdrukkings soos – ‘daar is altyd iets om voor dankbaar te wees’ – lê die reine waarheid verskuil. En ja goed dan – ‘elke donker wolk het wel ‘n silwer randjie’.

Selfs in die ongekend frustrerende omstandighede, te wyte aan die koms van korona: Selfs te midde van die ooglopend ondeurdagte en duidelik belaglike besluite en van onbekwames en skynbaar magsdronkes in dié gevaarlike tye, word ligpunte tog ook gebore.

Ook in ons gemeenskap tree omgee-mense na vore om ander in nood, gebore uit die virus en die hantering daarvan, by te staan en te ondersteun.

Só het Die Bronberger sy gemeenskap die afgelope 18 jaar leer ken: Mense met harte wat omgee. Mense wat mekaar in die moeilikste van omstandighede bystaan en ondersteun: Vasbyters en aanhouers: Wenners.

Agtien jaar reeds publiseer die Bronnie elke maand ‘n gedrukte glanstydskrif vir sy gemeenskap: Gratis. Dit kon ons bloot vermag deur die oorweldigende ondersteuning van ons lesers en uitsluitlik met die rugsteuning van ons adverteerders.

En toe, oornag, word almal se wêreld op sy kop gekeer deur die onvoorsiene verskyning van ‘n vreemde en dodelike virus en die gevolglike poging en maatreëls (ons sê nie altyd verkeerd of sleg nie) om die gevolge daarvan te bekamp.

Skokkend was dit vir ons en derduisende ander geesdriftige tydskriflesers, toe tientalle groot en bekende publikasies, wat oor baie dekades heen met sterk korporatiewe rugsteuning van eens magtige maatskappye uitgegee is, onlangs finaal die knie moes buig en die deure sluit.

Die Bronnie was van meet af aan ‘n onafhanklike tydskrif wat deur ’n egpaar-span en enkele vryskut-medewerkers uitgegee word. Ons had genoeg ervaring in dié veld om van die begin af te kon vrede maak daarmee dat ons nie gaan ‘ryk word’ (finansieel gesproke) uit die Bronnie nie en dit was ook nooit die oogmerk nie. Ons wou doen waarvoor ons lief was en dit as deel van en binne ‘n gemeenskap waarvoor ons omgee, doen.

Soos die meeste van ons lesers en adverteerders is ons ook deur die ongewone omstandighede gedwing om aan te pas en te innoveer. Vir ons was tou-opgooi en deure sluit nie ‘n opsie nie.

Ons het dae en nagte lank kopgekrap en getob en verlede maand het ons, met die hulp van vriende en kundiges, ons behoorlik aanlyn tuisgemaak. En ook dié sukses het ons vierkantig te danke aan ons vasbyt-adverteerders, ons lesers en die genade.

Die geweldige positiewe terugvoer wat ons ervaar het, word net bo-langs in dié maand se briewekolom weerspieël. Hierdie is die tweede Bronnie wat elektronies uitgegee word. En al is ons hoe dankbaar daarvoor, is die baie belowende ‘silwer randjie’ duidelik in sig dat die glanspapier-Bronnie vanaf Junie weer op sy pos kan wees!


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger Mei weergawe in elektroniese PDF formaat:

 

© 2024 Die/The Bronberger