’n Bang hond uit die boonste rakke Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 14 June 2024 08:00
Untitled Document

Hulle het destyds groot geboer op die vlaktes van toe se Wes-Transvaal. Hulle het mielies geboer en bees – pa en seuns.

Pa was ’n voorslagboer, ’n opperste korrelkop en ’n omgeneukte entjie mens wat nie geskroom het om die sambok in te lê as seuns of volk volgens hom aanjaag nie. Al wat ’n asem was op die plaas het behoorlik katvoet getrap om nie aan die oubaas se verkeerde kant te beland nie.

Een mooi aand kry ek vir Joop – die oudste seun – in die plaaslike drinkgat waar hy weer woes aan die kuier is. Joop was effe uitermatig lief vir kuier. Ek wonder toe hardop teenoor Joop of hy nie half bang is vir wat sy pa sal doen oor dié kuiery en die babelasgeboer wat desnoods moet volg nie.

Plaashond
Dis toe dat Joop my vertel van sy wonderlike hond. Hy het baie lank gesoek vir die perfekte plaashond en na baie onsuksesvolle proeflopies met ander minder wonderlike honde, het hy hom nou gekry en boer hy en die hond te heerlik sonder vrees vir die oubaas.

Die geheim is, sê Joop so half agter sy hand uit, die geheim is ’n bang hond. En dis nie maklik om vandag die regte bang hond te kry nie, verseker hy my. Hy het vir Leeu in die statte op ’n buurplaas raakgeloop. Die waardevolste bang hond wat hy nog gehad het. Hy ruil hom vir niks in die wêreld nie.

Die ding werk só. Vroeg soggens, want op hulle plaas moet jy vroeg roer, laai hy vir Leeu agter op die bakkie en hulle vertrek om te gaan boer. Dis ’n groot plaas en dit kos soms ’n ent se soek om die regte koelteboom ver van die ergste gewoel af te kry.

Roesrus
Daar maak hy die bakkie staan en Joop lê rustig voor met sy hoed so half oor sy oë om die ergste roes af te slaap. Leeu bly agter op die bakkie. Hy sal nooit afklim nie want hy is te bang.
Hy weet dis doodsake as sy pa hom só sou betrap daarom moet hy seker maak die kajuitvenster van die bakkie is oop.

Leeu is beslis die beste bang hond wat hy nog teëgekom het, want iets of iemand dink nog net daaraan om hulle koelteplek te nader, dan vlieg Leeu van die bakkie af, deur die oop venster tot bo-op Joop. Hy het altyd genoeg tyd om uit sy roesrus te ontwaak en doodluiters verder te boer sonder dat sy pa ooit onraad kan merk. ’n Bang hond is sowaar ’n boer se beste vriend . . .

Gerhard Kleijn; Januarie 2004

 

© 2024 Die/The Bronberger