Waar is die Van Helsdingens heen? Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 23 February 2024 08:00
Untitled Document

Waar is al die sterk manne van anderdag heen? En ek praat nie van vandag se kannetjies wat hulle spiere kunsmatig in die gym oppomp en dan met ’n help-my-sterk-lyk-hempie in stedelike nagplekke loop en pou nie.

Nee, ek praat van die plattelandse legendes van weleer waarvan elke distrik sy kwota opgelewer het. Hulle was die wildewragtigs wat met drie sakke mielies kon aanstap sleepwa toe en die vasgevalde voertuig met gemak uit ’n moddergat kon lig. 

Die krag het deels in die gene geloop en is aangewakker deur harde, eerlike werk wat uit noodsaak voor hulle deur gelê is. Maar dan was daar ook in elke bepaalde gebied daardie één blikemmer waarvan almal geweet het en niemand mee gelol het nie. As daar oor dié ou gepraat is, is dit saggies en met die nodige respek gedoen.  

Die sterk manne van weleer was gewoonlik groot van gestalte maar ook nie altyd nie. Só onthou ek ene Van Helsdingen van Derby. En dit was, glo my, regtig sy van. Hy was ’n kort kêrel, maar breed – baie breed en sonder enige vet aan sy vyf-voet-ietsie-lyf.

In die plaaslike lafenisgaatjie van Derby het ek van hom gehoor en net daar en dan besluit ek wil met eie oë die stories wat vertel is – met die nodige respekte natuurlik – bevestig. Julle sal my vergewe dat ek sy voornaam vergeet het. Gegewe die uitsonderlike van is dit egter tog te verstane.

Van Helsdingen van Derby was toe nie meer ’n jonkman nie. Hulle het vertel dat Pagel se sirkus hom vroeër raakgeloop het en op die plek gehuur het om sy kragtoertjies voor gehore uit te voer. Ek is vertel dat ek hom die volgende dag in ’n bepaalde gebied sou kry waar hy doenig was met die brandhoutbesigheid wat hy in dié houtskaars-wêreld bedryf het.

Met navraag en soek, spoor ek uiteindelik vir Van Helsdingen en sy tweedonkie-houtkarretjie die volgende dag op ’n bloekombosplaas ’n ent buite die dorpie op. Dit gebeur toe só dat ’n doringdraad ons daarwees skei en ek klim deur die draad om die man in die kamp waar hy sy hout gehaak het, te gaan ontmoet.

Hy is saggesproke en beskeie as die vrae oor sy krag kom. En is dit nie vreemd, vra ek, dat so ’n kort outjie só sterk is nie? Nee, hy is nie só sterk nie, verseker hy my; nie soos hy eens was nie en nie naastenby soos sy oorlede pa of sy oom Swartgert of oom Pagel van die sirkus self nie, maar hy kom reg.

Met die groetslag sê Van Helsdingen hy is ook op pad terug dorp toe en hy volg dieselfde kortpad as die een waarmee ek netnoumaar aangekom het. As ek nie omgee nie, sal ek hom asseblief help om sy houtwa op die kortpad te kry? Ek moet net so ’n bietjie wag, vra hy. 

Daarop span Van Helsdingen sy twee donkies net daar neffens die draad uit. Hy vra my om langs die deuskantse dropper die draad net so effens plat te druk en toe sak hy onder die vaal donkie in en lig hom jou sweerlikwaar bo oor daardie effe platgedrukte doringdraad en sit hom sagkens aan die anderkant neer. 

Voor ek van my verstomming kon herstel doen hy dieselfde met die groter swartbont donkie en toe pak hy die houtwaentjie gelaai met bloekomhout, en met ’n effe aangepaste tegniek doen hy dieselfde. Ek het dit met my oë gesien.

Hy is jammer hy moes my pla met die draad se platdruk, sê Van Helsdingen met ’n blinkigheid in sy oë wat moet opkyk na my eie, maar dis nou maar die moeilikgeit met kortgatgeit . . .

Gerhard Kleijn, Februarie 2004

 

© 2024 Die/The Bronberger