Oupa Shangai se spekskietstories Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Wednesday, 20 December 2023 08:00
Untitled Document

Gert Vlakplaas sê die foto van die Engelse oorlog in Die Bronberger laat hom dink aan die storie wat sy oupa Shangai, wat terloops ook nooit getroud was nie, hom vertel het oor die veldslag wat hier naby gewoed het.

Oupa Shangai en sy groepie krygers is aangesê om die opmars van die Kakies hier anderkant by die drif in die spruit te stuit. Die spruit het ’n kuil neffens die drif gemaak en so agter dié kuil het hulle die Kakies ingewag. En toe kom die vyand in hulle derduisende aan oor die vlakte – soos treksprinkane.

Rooiwarm
Oupa Shangai en sy krygers lê aan en begin skiet en laai, skiet en laai so vinnig as wat hulle kan, en die Kakies bly aankom. Die mausers se lope is naand rooiwarm en dan druk hulle die loop so in die kuil om dit te laat afkoel.

Nie lank nie of die water in die kuil begin stoom en toe kook dit vir die vale soos die krygers telkens loop in die water druk, maar al wat ophou aankom is die Kakies. En die krygers bly skiet selfs toe die water in die kuil naderhand heeltemal drooggekook het.

Oupa Shangai sê toe hy weer aanlê en toeknyp het die loop van die mauser voor toegesmelt. Maar hy skiet nog ’n skoot en daar trek hy en die mauser teen ’n spoed oor die droë kuil tussen die vyand in.

Gelukkig het hy sy bajonet voor aan die mauser en soos hy deur die Engelse linies vlieg maai hy links en regs onder hulle. Hy is naderhand deur die Kakies en hy sien die opstal van die weduwee Van Wyk voor, links van hom. Hy gee sy lyf so draai en pyl reguit op die opstal af. Die weduwee sien hom aangevlieg kom en maak net betyds die voordeur oop en hy kom met die bajonet stewig gepen in die swaar katelstyl tot stilstand . . .

Jakkalsstreke
Almal weet hoe slim jakkals se kind is en dis ook alom bekend dat die jakkalse van die Bronberg veral slim is. Die einste Gert Vlakplaas se einste oupa Shangai het glo vertel van dié ougat jakkals van toeka wat oor die rante en vlaktes van die Bronberg geheers het. Gou het die jakkals die gepaste naam, Slinks, gekry.

Slinks was glo ’n kalant wat byvoorbeeld presies die gewoontes van die plaasmense geken het en sy jagtogte daarvolgens beplan het. As die gesin Sondag afsit nagmaal toe, het hy sonder moeite enige hoenderhok binnegedring – oupa Shangai kon sweer hy had sy eie sleutel – en dan vir hom net die plompste hen uitgesoek vir sy Sondagmiddagmaal.

Met bosluistyd is Slinks gesien dat hy ’n vinnige draai in die beesdip maak om die lastige parasiete op hulle plek te sit.

Maar dit is sy gewoonte net voor paartyd aanbreek waarvoor Slinks veral onthou word. In daardie dae het die volkies se vrouens nog hulle wasgoed by die gladdeklippe in die Zwavelpoortspruit gewas.

Dan het Slinks glo net ’n entjie stroomaf oor ’n droë boom tot in die middel van die stroom beweeg, sy harige lyf ewe netjies in die water laat gly en terwyl hy met sy formidabele tande aan ’n tak vashou, toegelaat dat die blouseepwater sy pels pragtig skoon spoel. Dan was hy bekwaamgereed vir die aand se vrywerk.

Gerhard Kleijn – Desember 2002

 

© 2024 Die/The Bronberger