Oor vuilbaardvrese en roomriviere Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 16 November 2023 12:00
Untitled Document

Dit was ’n goeie dag op die bosplaas. Oom Wilhelm het met sy derde koppie koffie in die hand op die ingegaasde rondomstoep van die ou opstal gesit en kyk hoe boer die bul en die windpomp vir hom ’n wins los.

Hy kon van die kombuis se kant af die egalige pieng-pieng-pieng hoor soos die tannie die sêpperyter met ’n geoefende, ritmiese beweging van haar stewige arm draai. Die lewe is mooi, het oom Wilhelm gedink. Dié naweek kom Kleinkoos met die honde om die vuilbaard wat die kalf gevang het te skiet en dan is die hele wêreld weer reg. By die gedagte aan die leeu kry oom Wilhelm ’n nare gevoel in die krop van sy maag. Vir ’n leeu is hy baie bang.

Longdrop
Oom Wilhelm spog graag daarmee dat hy ’n man van vaste beginsels en van vaste gewoontes is. Sy oë draai nou van die bul se manewales in die verte af om te kyk waar die son nou sit en skuif dan in die rigting van die longdrop wat ’n entjie skuins voor die opstal teen ’n bultjie staan – hoër as die huis soos dit ’n ordentlike troon betaam.

Dit is tyd vir sy uitstappie troon toe, dink oom Wilhelm en hy staan van die riempiesbank af op en kies koers longdrop toe.

Hy het sy sit net lekker gekry en begin lees aan die geel bladsy uit ’n ou Landbouweekblad wat hy van die spyker aan die muur afgepluk het, toe hy dit hoor.

Sweerlik is dit ’n leeu wat sommer hier naby die brul van ’n honger vuilbaard gebrul het.

Die vrees van die duiwel neem besit van oom Wilhelm. Die lendelammerige longdrop is geensins opgewasse teen ’n honger leeu nie. Hier sal hy moet uit.

Poetsie
Wat oom Wilhelm nie geweet het nie is dat Kleinkoos vroeër aangekom het en besluit het om sy oom ’n poetsie te bak. Hy weet hoe bang oom Wilhelm vir ’n leeu is en ervare leeujagter wat Kleinkoos is, kon hy die koning van die diere nommerpas namaak.

Oom Wilhelm se kakiebroek bewe behoorlik waar dit nog om sy enkels lê. Hy staan in die deur van die longdrop en loer versigtig eers om dié hoek en dan om daardie een.

Dis toe dat leeu hier vlak langs hom met ’n dawerende brul uit die lang gras opspring. (Kleinkoos met die leeuvel wat gewoonlik in die voorhuis op die vloer lê oor hom gedrapeer.)

Kaalbas
Hulle sê oom Wilhelm het hom skoon uit sy kakiebroek uit gehardloop en kaalbas die skuinste af op die huis afgepyl. Soos die kraai vlieg was die longdrop in lyn met die kortkant van die gaasstoep. Die mense wat gesien het, sweer oom Wilhelm het teen so ’n geweldige spoed deur die gaas gebars dat die afbeelding van sy koddige lyfie agterna perfek daarin gesien kon word.

Soos die sonde dit wou hê kom die tannie met ’n groot skottel room op pad botterkarring toe net om die hoek toe oom Wilhelm sy ietwat onwaardige toetrede tot die huis maak.

Sitvlak
Dit was glo die alleraardigste ding om te aanskou. Met die trefslag blerts die room uit die skottel soos ’n wit riviertjie in vloed op die lang rooi gepoleerde stoep af. En oom Wilhelm se momentum van die asembenewende wedloop bult af, dra hom mee op sy kaal sitvlak saam met die gladde roomstroom stoep af tot doer aan die ander punt.

Hulle sê, man van inbors en maniere wat hy is, het oom Wilhelm ’n ‘more niggie’ ingekry toe hy verby Kleinkoos se vrou Lettie skuif waar sy verstom in die deur gestaan en kyk het.

Voorwaar ’n mooi dag toe oom Wilhelm met sy bas in die room beland het . . .

Gerhard Kleijn – November 2004

 

© 2024 Die/The Bronberger