Mense sit die plat in platteland Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 20 October 2023 08:00
Untitled Document

Wat is dit wat van die plotteland die platteland maak? Wat maak hom anders? Jy kan maar vra wat maak die platteland plat?

Ja, dit is daardie windpomp wat met sy eentonige tjierts-tjierts-deuntjie die blinkwatertjie geduldig tot in die slykdam spoeg-en-sluk, spoeg-en-sluk en dit is die bekslaanhek wat net op ’n baie sekere manier sonder enige ernstige beserings ge-oop en getoe kan word.

Dis die kraai van die haan soggens klokslag ’n halfuur voor die son sy aanslag begin en die weemoedige geroep van die Afrika naguiltjie na sy maat in die sterk skemer – good-lord-deliver-us, good-lord-deliver-us . . .

Platteland is die reuk en irritasie van stof en veldbrandas wat die droë noordweste wind opwaai terwyl ’n bejaarde perd hangkop en half skeef in die karige koeltetjie van ’n kiepersol staan.

Maar dis ook die uitsien en hoop op daardie unieke, vars reënreuk wat saam met die suidoos aankom en wat die einste ou perd met lawwe uitbundigheid trotskop en opskoppend rigtingloos deur die veld laat galop. En dit is die werklike waardeer en dankbaarheid as die eerste swanger somerdruppels die stofpaaie in modderbaddens omskep.

Dié dinge en baie meer maak die platteland anders, maar dit het ook ’n sterk invloed op die vorming en wese van ’n andersoortige mens. En dit is bowenal die mense wat die plat in die platteland sit.

By plattelanders is dit nie bloot by die kontreiwinkel instap, koop en loop soos wat stadsmense doen nie. Dis instap, groet en kuier en klets voor jy jou plaasmelk, brood en paraffien aankoop, groet en gaan.

As ’n plattelander jou vra hoe dit met jou gaan is dit omdat hy regtig wil weet. Plattelanders skud nog blad en soengroet beteken kaplaks vierkantig op die mond en nie ietwat vieserig half op die wang, half in die lug nie.

Natuurlik praat plattelanders oor mekaar, maar hulle praat ook met mekaar en hulle praat reguit. As hulle skinder, dan skinder hulle ook reguit.

Op die platteland groet jy die ou wat van vooraf met die plotpaadjie afgery kom en as hy ’n plattelander is, groet hy jou terug. Hy maak pad vir jou om verby te kom as die padreserwetjie aan sy kant meer rybaar is as die een aan jou kant en jy doen dieselfde vir hom. As dit ’n vrou in die voertuig is, lig jy jou hoed as jy een op het.

En jy jaag nie op die stofpaadjies nie. Al is jy ook haastig, hou jy terug want jy is ’n plattelander en jy weet wat jou stofopskop doen aan die mense wat neffens die pad bly.

As die veld afbrand gaan jy help hokslaan en as jou buurman of sy buurman of dié se buurman se water opdroog en jou boorgat hou nog, dan help jy ook want jy ken ’n gesukkel met water. Plattelanders mors nie met water nie, al het hulle ook ’n oorvloed daarvan. Min goed maak ’n ware plattelander meer emosioneel omgesukkel as iemand wat water misbruik.

Plattelanders gebruik nog byname, nie uit nydigheid nie, maar met deernis en om verwarring uit te skakel. Omdat hier byvoorbeeld heelwat Piette in die Bronberg bly het ons ’n Pienk Piet, ’n Piet Gras (hy dek grasdakke), Piet Hoender, Piet Neus, Piet Skiet, Piet Tonnel en Piet Hotel. Almal Piette wat help om die plat in die platteland te sit.

Gerhard Kleijn, Oktober 2003

 

© 2024 Die/The Bronberger