Die jag is oop Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 18 August 2023 08:00
Untitled Document

Met die jagseisoen nou knap verby en die biltong al lekker droog of reeds iets vir die geheue vertel Gert Vlakplaas die storie wat sy oupa Shangai vertel het oor sy grootoupa Shangai wat ook nooit getrou het nie.

Dit was in die dae van die voorlaaiers en grootoupa Shangai sit een voormôre met sy perd, Kameel, af om ’n iets vir die pot te gaan haal. Grootoupa Shangai was ’n skut duisend en lood was skaars. Daarom vat hy net een koeël saam. Dis genoeg. Hy wil net een bok skiet. Padkos is twee geelperskes en biltong.

Die wêreld was toe nog wyd en woes en die jagveld het die neiging om sy grense al hoe verder van die opstal af te verskuif soos die jare verbyloop. Ses ure te perd ver kry grootoupa ’n troppie rooibok en hy lê aan op ’n groot ram. Net voor hy vasknyp skel ’n vervlakte kwêvoël en die ram sit op loop. Dis mis. Die eerste misskoot wat grootoupa Shangai sedert hy vier jaar oud was, geskiet het.

So tussen die kragwoorde deur sien hy uit die hoek van sy oog, doer duskant, ver op ’n rantjie die grootste koedoebul denkbaar staan. Die koeël is nou op en grootoupa laai desnoods met een van die taaipitperskepitte wat hy nog aan’t suig was. Hy stamp vas, lê fyn aan en trek los.

Hy sien die grote koedoebul swik toe die perskepit met ’n stofontploffingtjie tref, maar die bul sit oomblikke later op loop.

’n Jaar of wat later is grootoupa Shangai weer in dieselfde omgewing en jou werklikwaar, op dieselfde rantjie sien hy in die verte ’n allemintige koedoebul met die alleryslikste horings denkbaar. Dié keer is die voorlaaier met ’n loodkoeël gevoer en toe die skoot geklap het, sink die bok op die plek neer.
Toe grootoupa Shangai heelwat later by die bok opdaag sien hy ’n ding wat jy dalk nie nou sal glo nie, sê Gert Vlakplaas.

Uit die horings uit groei die gesondste geelpersketakke. ’n Behoorlike geelperskeboom is op die trotse koedoekop geil aan’t groei. En by nadere ondersoek blyk dit dat die boom dra. ’n Magdom sulke piepklein koedoetjies hang halfryp aan die takke . . .
Gerhard Kleijn, Augustus 2003

Die perfekte sin
Dit maak vir hom perfekte sin, sê ou Sopies Oosthuizen. Hy wag geduldig totdat Pienk Piet in die hoek eindelik half vies vra wat dan nou vir ou Sopies sulke vreeslike sin maak.

“Jy sien Piet,” sê ou Sopies, “jy kry ’n buffeltrop. Nou, as die leeus jagmaak op dié buffeltrop vang hulle elke keer die swakste, stadigste buffel, reg?”

“Reg,” antwoord ou Sopies homself. “Op dié manier word die stadiger buffels geleidelik minder en gevolglik word die trop al hoe vinniger. Dis die natuur se manier om die trop ’n beter kans op oorlewing te gee,” sê ou Sopies.

“Net so werk dit met die mens. Almal weet dat drank die breinselle aanval. Net soos die leeus met die buffeltrop doen. Só vat die bier elke keer die stadigste breinsel in sy kake vas en maak hom dood . . . Dis ook geen wonder nie dat ek na elke bier ’n bietjie slimmer raak,” sê Sopies.
Gerhard Klein, Augustus 2005

 

© 2024 Die/The Bronberger