Die dag toe die oom die bôl vra Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 21 April 2023 11:19
Untitled Document

Andermaand se spekskietstories het baie Bronbergers na vore laat kom met hulle eiesoortige swaarslukverhale.

Albie vertel byvoorbeeld hulle het in sy studentedae net ná ’n rugbywedstryd dié oom in die ou Bell-hotel se kroeg ontmoet. “Ek sien julle kannetjies speel rugby,” sê die oom. “Ek was mos ’n Springbok. In die vroeë dertigs.”

Albie vertel die oom sê hy is in daardie jare gekies om sy land in Engeland te verteenwoordig. Hulle het dertig dae en dertig nagte met die Springbok Castle oor die waters gevaar.

Die reeks was gelykop en alles het van die laaste toets afgehang. Op Twikenham nogal, sê die oom.

Die telling was 12 elk en met nog net ’n paar minute se speeltyd oor kry die Springbokke ’n strafskop op hulle eie kwartlyn vlak teen die oorkantste kantlyn. Die oom sê toe glo vir sy kaptein, of hy was self die kaptein, Albie onthou nie mooi nie: “gee vir my die bôl,” is in elk geval wat die oom sê.

En die oom wys hy gaan van dié allerverskriklike afstand af pale toe skop en die skeidsregter krap sy kop ’n slag en wys die oom gaan pale toe skop en die skare raak doodstil.

Die oom sê hy maak vir hom ’n yslike hoop modder (dit reën mos altyd daar, sê die oom) en hy sit die bal versigtig met die een skerp punt wat na die pale wys en die ander een wat na die oom wys op die hoop modder. En die rekordskare is doodstil as die oom begin terugtree. Hy treë terug verby die pale, oor die doodlyn en tot teen die suidelike pawiljoen.

Die skare is doodstil in die oorkantste kantlynpawiljoene en hulle kyk met hulle koppe skeef gedraai stip na die oom wat daar onder die suidelike pawiljoen staan. Die oom haal diep asem, korrel ’n slag so oor sy duim wat hy soos ’n visier tussen sy regteroog en die bal met ’n reguit arm voor hom uithou. ’n Mens kan ’n tiekie hoor val.

Die oom lig homself so hoog op sy tone voor hy die ent pad na die bal toe begin afnael dat die modder so spat. Niemand maak ’n geluid nie as hy sy linkervoet (“ek is mos links,” sê die oom) met ’n boog deurswaai en die bal met ’n geweldige slag tref. Die skare se oë ruk van die oom se voet af in die rigting van die Engelse se pale en dis so stil soos die graf. Seker ’n volle minuut gaan verby terwyl almal stip staar na die pale. Dan begin die koppe ronddraai en die skare brul as hulle sien die oom het met sy kragtige skop sy voet binne in die bal ingeskop wat nou omgedop soos ’n tweede vel oor die oom se linker tôk gespan is . . .

Geskryf in April 2003 deur Gerhard Kleijn

 

© 2024 Die/The Bronberger