Slang nie almal se maat Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 16 March 2023 10:58
Untitled Document

’n Slang, sê Gert Mossie, is nie elke mens se maat nie. Hy lees hoeka anderdag in die Bronnie dat die slange vanjaar kwaai loop in ons kontrei.

’n Slang, sê Grootpiet, kan nie loop nie. Tensy jy nou van sekere politici praat, sê Piet.

Nee man, hy praat van seilende, spoegende, hakskeen-bytende slange, sê Gert. Klink vir hom nog of dit sekere politici kan wees, sê Piet.

Eintlik dink hy so met die slange saam ver terug. En hy onthou sy tante Ivy, sê Gert Mossie. Sy tante Ivy het die verskriklikste vrees vir slange gehad. Sy ouers het gepraat van ’n fobie en beheptheid en goed. Sy oupa, Grootgert, het gemeen tante Ivy was sommer betotteld.

Tant Ivy het nie maklik uit die stad uit vir hulle op die plaas kom kuier nie. Juis nou oor die vrees vir slange. En as sy die slag kom kuier was dit vooraf ’n vreeslike gedoente. Briewe is geskryf en oproepe is maande lank gemaak om seker te maak pa hou die huis en die tuin veilig en slangloos, voor die tante vir haar kuier opdaag, sê Gert.

Tante Ivy het die saak deeglik nagevors. Opdragte is mildelik uitgedeel. Pa moet sorg dat malvas reg om die huis geplant word en op die stoep in blikke staangemaak word. En kakiebos en wilde knoffel moet oral ingeboet word. Gebluste swael gemeng met motbolle en peper moet gestrooi word en moenie vergeet van diesel en jeyes fluid om die huis en oral in die nabyheid nie. En sou iemand ’n slang naby die huis vrekmaak, verbrand die ding dadelik sodat sy trawante bang sal wees om naby te kom.

Só is alles ter wille van die vrede na tante Ivy se wens gedoen voor die dag van haar besoek sou aanbreek en oupa Gert het net sy kop geskud en herhaal dat die hele spul van hulle betotteld is.

Soos dit die gewoonte was, sê Gert Mossie, het tante Ivy met een besoek haastig die groetslag afgehandel en dadelik met haar inspeksie begin. Eers as alles volgens haar reg is, kon die kuier en koffie-drink op die stoep in aanvang neem.

Die plaashuis het nie spoelgeriewe gehad nie, en die long drop was so ’n entjie skuins regs anderkant die tuinhekkie. Die grootste uitdaging vir al wat leef op die werf (honde inkluis) was as tante Ivy die slag noodgedwonge die long drop na vryheid moes aandurf, sê Gert.

Dan is die span kinders met stokke en kieries en die werfhonde vooruit om seker te maak die pad is veilig. Dan moes een of twee van hulle ’n deeglike verkenning van die long drop, van emmer tot dak, maak voor tant Ivy haar sit loop sit.

En op ’n dag, soos die duiwel dit wou hê, was tant Ivy skaars by die hekkie uit of ’n yslike slang kies hier langs haar verby koers iewers heen. Nou was tant Ivy, om dit sagkens te stel, geset: Eintlik baie. Hy het in sy dag des lewens nie só ’n groot mens só vinnig sien beweeg nie, sê Gert.

Sy vlieg in haar spore om en hy kon sweer dat sy net ’n paar tree gegee het, die tuinpaadjie af en stoeptrappe op voor die gaasdeur agter haar toegeklap het en sy na die veiligheid van haar kamer verkas het.

Baie ure later eers, sê Gert, en nadat pa maar ’n wit leuentjie vertel het dat die slang vasgetrek en verbrand is (hulle kon die reptiel nêrens kry nie en het aangeneem hy is die veld in), het tant Ivy dit weer op die stoep gewaag. Sterk koffie en ’n ietsie sterkers vir die senuwees is geniet toe tante Ivy half ongemaklik begin raak.

Dis toe sy met haar aansienlike lyf opstaan en die stoepstoel se kussing optel om dit reg te skud dat dit gebeur: Daar tussen die kussing en die stoel se plank-basis, lê hy. Nooit geweet ’n slang kan só morsdood en só plat wees nie, sê Gert.

Ook nooit geweet ’n groot tante kan so sagkens op een plek in ’n floute neersuig nie, sê hy.

 

© 2024 Die/The Bronberger