Noem jy dit nou verduistering? Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 17 February 2023 11:25
Untitled Document

Hy wonder nou, hier waar hulle met die dreuning van ’n kragopwekker in die agtergrond, ’n koue enetjie met ys in die watergat geniet, hoeveel name nog uit die Rooitaal opgediep gaan word om Eskom se mislukte kragvertoon te omskryf, sê Gert Mossie.

Net het hulle gewoond geraak aan ‘load shedding’, toe raak dit ‘blackout’ en hy is bevrees voor lank gaan diep gebelgdheid uit sekere kringe dié benaming laat sneuwel. Oor die kleur-kwessie en -keuse waarskynlik, sê Gert.

Hy wonder ook oor die vertaling van dié jammerlike toedrag van sake na Afrikaans. Sou ‘load shedding’ dan nie na regte vrag-storting en nie beurtkrag moet wees nie? En hoe dan nou met ‘blackout’? ’n Mens sou dit seker verdonkering of verduistering kon noem, sê Gert. Of is laasgenoemde reeds gereserveer vir iets wat met geld by Eskom en soortgelyke instansies gebeur?

Hy het altyd gedink, sê Grootpiet-in-die-hoek, dat blackout die Ingels vir uitpaas is. Soos wat hulle Engelse onderwyser, ou Hamlet, jare gelede amper gedoen het toe die Smit-tweeling (Smit met ’n ‘h’, het hulle daarop aangedring) saam nie genoeg punte gekry het om Engels te slaag nie.

Oor die jare heen het baie van ons mense maar langtand en langsaam aan die vreemdheid van die ingevoerde Rooitaal vat gekry, sê Gert.

Soos buurman Koos van vriend Buks net die anderdag daarop wys toe hy ’n blink, nuwe tang aan sy buurman wys. Op die tang is die naam, ‘Titan’, netjies aangebring en buurman Koos merk toe op dat hy nogal bly is dit is duidelik nie ’n Engelse tang nie, want as dit was sou hulle seker geweet het hoe om ‘tighten’ te skryf . . .

Nou dink hy terug aan die ware storie uit vervloë se dae wat vertel is oor ou Sopies Oosthuis, die slang en die vreemde verskynsel (vir destyds op daardie plattelandse dorpie) van ’n Engelse kroegman.

Nou is dit oorvertel dat ou Sopies, soos die meeste mense op en om dié Waterbergse dorpie van destyds, nie te goed oor die weg gekom het met die aanwending van dié vreemde taal nie. Op ’n dag besluit ou Cohen, die hotel-eienaar, om ’n regte Engelsman uit Engeland uit as kroegman aan te stel.

Soos die meeste ander gereelde besoekers aan die dorpie se watergat, kon ou Sopies darem meestal regkom omdat die Britse kroegman die basiese Afrikaanse woorde soos brêndie en water darem kon verstaan, sê Gert Mossie.

Nou vertel hulle dat Sopies op ’n dag in ’n baie vrolike luim die kroeg uit is op pad huis toe. Soos dit sy gewoonte was kies hy kortpad deur ’n bloekombos en om hom stewiger op sy twee rye spore te hou, buk ou Sopies om ’n bloekomlat op te tel wat as kierie ingespan sou word.

Tot sy allerverskriklikste skok kom die stomme Sopies agter dat die ‘kierie’ wat hy opgetel het eintlik ’n uitgevrete pofadder was. Hy het daai pofadder glo met ’n bloedstollende gil bo oor die hoogste boom in die bos geslinger, in sy spore omgevlieg en met onmeetbare spoed terug gehol kroeg toe.

Hier aangekom het ’n angsbevange Sopies sy beste Engels uitgestal: “Brêndie, brêndie, a dappel end make kwiek!” skree ou Sopies. Op die kroegman se vraag, “What is the matter?” trek ou Sopies los: “Aai fought it was, it was a bloekomlaait end all de taaim it was a poefmelaaider!”   

 

© 2024 Die/The Bronberger