Mevrou Huil-die-leser Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 15 December 2022 07:41
Untitled Document

Huil die leser: Askies, maar my ma sê – só sê mens as jy nie mooi weet wie jou brief gaan lees nie. Dan sê jy huil die leser, sê my ma. En my pa sê ons poskantoor booikot Rusland en plekke daar bo naby Pole en Kersvader bly mos in Noord Pool. My pa sê dis om van te huil of te lag want ons poskantoor lewer in elkgeval nie meer pos nêrens af nie.

Nou weet ek nie mooi hoe my brief hierdie jaar by Kersvader gaan uitkom nie. Ek vra dan maar mooi dat oom of meneer huil-die-leser dit vir hom sal aanstuur.

Dis nou nogge ander ding. Dié ding van oom en tannie. Hier oorkant ons het ’n tannie (askies, ’n mevrou) kom bly wat eers lank oor die see gebly het en sy is anders. Sy sê ’n mens sê nie vir ouer mense oom of tannie nie, want hulle is nie met jou tannie of oom getroud nie en dit maak my deurmekaar.

Sy sê ek kan vir haar mevrou noem en vir die oom wat met haar getroud is, moet ek meneer noem en as jy skryf sê jy geagte mevrou. Sy praat baie oor politiekies korrek en woke en goed wat ek glad nie verstaan nie. My pa sê die mevrou is nie politiekies korrek in haar kop nie.

Maar net vir ingeval: Liewe oom meneer geagte Kersvader en tannie mevrou geagte Kersmoeder, ek hoop oom meneer en tannie mevrou kry tog my brief en dat dit goed gaan met die takbokke en die kabouters en almal en met die persente.

As oom nie omgee nie, kan ek maar eers net sê oom en tannie seblief? Ek dink nie die tannie mevrou sal weet nie want ek glo nie sy is mevrou huil-die-leser wat dalk eerste die brief gaan lees nie.

Ek hoop alles loop reg so tussen die politiekies korrekgeit en gewokery en goed deur en dat oom Kersvader nog kan onthou waar ons plot op Donkerhoek is. Onthou seblief die nuwe tannie mevrou bly op die plot oorkant ons en sy sal nie dink dis woke as oom per ongeluk die nuwe paar tokse (sukke bloues met wit strepe, oom) wat ek graag vanjaar vir Kersfees wil hê, by haar aflaai nie. Asseblief oom.

En my boetie, Dolfie, vra seblief ’n rakbiebal: ’n Gilbert, oom, wat deur oom Morné Steyn geteken is, seblief. Dolfie sal oor ’n paar jaar groot genoeg wees om te verstaan, oom Kersvader.

Ek dink ek verstaan nou wat my ma bedoel as sy sê gee my tog krag. Altyd as my pa of ons iets verkeerds doen, dan sê my ma – gee my tog krag. Miskien praat sy nog al die tyd oor die sirkus (my pa sê so) wat hy Peskom noem. Is hulle wat die krag vir die land moet gee, maar siestog, hulle sukkel oom Kersvader. As oom ook vir hulle en my ma net ’n bietjie krag kan bring, seblief oom.

My pa sê eintlik het die land ’n sirkus geword, oom. Dit was lankal – net die nar wat baas is verander elke nou en dan oor kerrupsie. Só sê my pa. Maar die land bly mooi, oom. Dis net die sirkus wat nie lekker werk nie. Dalk het oom ’n goeie nar wat oom nie meer gebruik nie?

Groete oom geagte meneer Kersvader en ook vir tannie geagte mevrou Kersmoeder.

Oom moet mooi ry en onthou die tokse vir my en rakbiebal vir my boetie is vir plot 80 en dis ek, Daantjie van Donkerhoek, wat skryf.

Dankie oom-julle.

 

© 2024 Die/The Bronberger