Iemand ’n skoeternes oopgespit? Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 20 October 2022 11:41
Untitled Document

Hy weet nie of iemand ’n nes hier iewers oopgespit het nie, maar dit klink al vir hom asof hier deesdae al hoe meer skoeters in die omgewing van Elandshoek rondjaag, sê oom Buks Barnard nou die anderdag. Party is beslis ook op die Nooitgedachtpad, maar jy kan hulle duidelik van sy lappie aarde af hoor, sê hy.

Nou sal almal wat in ons kontrei se landelike gebied daagliks moet ligtrap en tande kners op verwaarloosde, gat-en-grond-paaie, weet dat nog ’n by-nadeel van dié vrotpaaie ’n toestroming is van rasende ruiters op brullende veldfietse wat die gebied gereeld aspris binneval. Vir hulle is dit lekker. Vir die meeste inwoners is die stof en geraas minder aangenaam.

Dalk het die toename van skoeters minder met pret as met petrol te make: Duur petrol. Hoe ook al, oom Buks is eintlik ietwat van ’n uitsondering in soverre dit onverdraagsaamheid en krapperigheid oor die voortdurende sure inval van die skoeter- en brulfiets-bendes gaan.

Nee, hy kerm nie en hy kla nie; die feit dat hy hulle kan hoor ontstel of ontsenu hom nie in die minste nie. Dit is darem binne perke en net ’n mens met ’n skuldige gewete vereis absolute, doodse stilte rondom hom, sê oom Buks. Boonop was hy ook baie, baie jare gelede jonk.

Die geluid van vele skoeters is in elk geval skoner, musikaler en oorstrelender as die primitiewe geluide wat ’n sekere plaaslike radiostasie deurentyd onder die aanmatigende naam van “musiek” pleeg.

Party van die skoeters brom, ander bulk en nog ander gons. Maar dit pla hom nie. As hy hom in die posisie bevind het dat hy vandag nog voluit geleef het, sou hy seker maar net soos Elandshoek se skoeterruiters op Apiesdoring- en Olienhoutweg rondgery het.

Party van die skoeters klink vir hom ook maar gehawend. Daar is een op die Nooitgedachtpad wat so ongelyk loop en so terugvuur dat ’n mens soms wonder of die arme ding vorentoe of agtertoe ry.

Maar die kroon word gespan deur een motorfiets smiddae op die teerpad. Hy het blykbaar net ’n eersterat sodat hy teen onmoontlike omwentelinge van die enjin hoog en histeries skree. Weet sy ruiter dat hy van hier af klink of hy op die myn se sirene hier verbyjaag?

Maar in die nuwe Suid-Afrika het daar min dinge oorgebly om te geniet – gun die jongmanne tog die genot van ’n ritjie op hulle runnikende, grommende, gillende en brommende ysterperde, sê oom Buks.

As daar iemand is wat ’n kontak by die myn het – vind tog uit of hulle sirene nog daar is . . .

 

© 2024 Die/The Bronberger