Die helfte van 20 kopkrap-sake Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 22 September 2022 09:56
Untitled Document

Synde dat 20 die toornommer in hierdie 20ste verjaar-uitgawe van die Bronnie is, het hy sy laaste R20 op perd nommer 20 in die 20ste wedloop op Turffontein verwed en jou werklikwaar, sê Gert Mossie, daar eindig sy perd toe presies 20ste!

Dit is een van die baie goed wat hom laat wonder, ponder en wakker lê, waarvan hy dan tien (ongelukkig net plek vir die helfte van 20) in hierdie aflewering van ou Poon se praatjies wil vermeld.

2: Wanneer, hoe en hoekom het dit gebeur dat ons mense so kos-befoeterd geraak het? Elke tweede TV-program (ek oordryf nie) gaan oor iemand wat jou wil wys hoe om alles wat jy kan eet en dalk ook nie kan nie, gaar of rou te maak. En Rap, Jan en al sy maats skryf deesdae ’n kookboek. Vroeër kon jy hoogstens ’n ‘Kook en Geniet’ en ’n notaboekie met ouma en buurvrou se neergepende resepte in ’n kombuis kry.

3: Hoeveel kos die swetterjoel ondersoeke en hofsake teen regerings-rampokkers die belastingbetaler? Sou dit nie beter en goedkoper wees om die goed maar te los laat hulle na hartelus voort steel en plunder nie?

4: Hoe lank nog voor die woordjie ‘diens’ deur dié wat na die taal en woordeboeke omsien, weggelaat word uit woorde soos staatsdiens, posdiens en polisiediens? Dis tog iets wat lank reeds in onbruik verval het.

5: Met die laaste besoek van die Britse Koningsgesin aan Suid-Afrika in die 1940’s het minister Paul Sauer met eg Afrikaanse hartlikheid die gesin met hoedlig en bladskud soos volg gegroet: “Dag Jors, dag, Liesbet, dag Magriet en dag Kleinliesbet.” Sou die nuwe koningsgesin kom kuier, wat sou wyle oom Paul gesê het? Karel, Willem, Harrie en Kameel, dalk?

6: Maak supermarkte mense doof? Of lê daar iewers ’n ander rede verskuil wat veroorsaak dat die mense wat daar werk so verskriklik skreeu as hulle met mekaar praat?

7: Het die gebruik uit die Steentydperk (dat ’n mens moet baklei vir jou kos) op ’n manier geneties bly vasklou in mense wat in die verpakkingsbedryf werk? En is dit die rede hoekom dit vandag nog ’n Einstein se berekening en/of ’n Simson se krag verg om kos uit pakkies te kry? Loop veral lig vir dié wat aandui “easy to open” of “simply pull here” – soos by kaas-blokke. Ek lek jou agterent . . .

8: Die doek-toring op die kop van daardie veteraan politikus en gewese vrou (een van vele) van ’n voormalige president – het sy dit opgesit (aangetrek) of is dit iets wat sy iewers heen dra?

9: Wat se gedagtes kry ’n ou as jy ‘hond se gedagtes’ kry? Wat se gedagtes kry ’n hond en hoe sal ons weet wat hierdie gedagtes is? Wie was die persoon wat die eerste keer die hond se gedagtes kon lees?

10: Wat my laat wonder (soos vriend Ben vra) of ’n hond wat verslaaf is aan knoffel se blaf erger as sy byt is?

 

© 2024 Die/The Bronberger