Maak duur grappie enige ‘sensus’? Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Saturday, 20 August 2022 05:27
Untitled Document

Wie, vra ou Charles Thompson nou die anderdag wanneer, ken nog ’n sens? Hy praat nou van ’n sens in die sin van ’n hand-werktuig waarmee koring gesny is. Met sy lang tande kon dié stuk gereedskap ’n gerf op slag bymekaar maak en netjies neersit net daar waar jy hom wou neersit.

Wie, wil ou Charles toe daarby weet, ken nog ’n sensus? Die doel hiermee is die bymekaarmaak en tel van die land se inwoners. Sodoende kan later gerekende besluite en beplanning gedoen word. In groot dele van dié ondermaanse word dit ook só gedoen.

Wie ken Suid-Afrika? Hier lyk dit vir hom wat Charles is, of ’n sensus jare der jare reeds ’n totale sinnelose mors van tyd en geld is: ’n Duur grappie.

Hy is byvoorbeeld glad nie getel nie, sê Charles. Altyd het hy gedink hy is nogal ’n gerekende man, maar dit blyk nou hy dat hy nie meer tel nie? Beteken dit dat hy nou statisties ontelbaar is? Tel hy met ander woorde nou glad nie meer in dié land nie?

Vertel my nou, sê ou Charles, is ek uitgetel omdat ek te min skape het (wat ook nie getel is nie) en nie die moeite werd is om iewers vorentoe in tel te wees om ‘onteien’ of belas of wat-ook-al te kan word nie?

Dalk moet hy en ander wat misgetel is tog maar hulle seëninge tel. Vroeër was jy net ’n statistiek. Nou is jy bloot net nie meer in tel nie . . .

Wat hom nou onwillekeurig laat dink aan die tyd toe Mike Schutte-grappies so in tel was, sê Gert Mossie. Een van die honderde anekdotes wat ten koste van dié innemende oorlede bokser oor-en-oor oorvertel is, was ook oor die sensus: Wat, wou Mike glo by Kallie weet, is hierdie sensus waaroor almal praat? Waarop Kallie toe verduidelik dat ‘hulle’ die mense tel. Hoekom, wou Mike na diepe nadenke weet? Is daar dan een weg?

Hy wonder of ‘mode-grappies’ uit die mode uit geraak het, of het dit, soos so baie ander mooi ou gebruike, soos gesels, weens sosiale media van die aarde se gesig(boek) – (soos die Ingelsman sou sê) – af verdwyn, vra Gert Mossie.

Hy onthou uit sy toentertydse kindertyd die talryke olifant-grappies: Hoe weet jy daar was ’n olifant in jou yskas? Jy sal sy spore in die botter sien . . .

En seker die langslewende en talrykste mode-grappies van lankal was die swetterjoel Van der Merwe-grappies van destyds. Die stomme Koos van der Merwe was die hoofkarakter in die meeste hiervan.

Wat hy nou die nag uit die mond van ’n Engelse kommentator by die Statebondspele tot vervelens toe gehoor het, was allermins ’n grap, sê Gert. Dit sou eerder as ’n verstommende ongelooflikheid in onkunde beskryf kon word.

’n Volwasse man van redelike geleerdheid en kennis oor internasionale sport, sou ’n mens kon aanneem, sou minstens weet van Suid-Afrika en dan desnoods ook kennis dra van die bekende Van der Merwes van dié geknelde land, sê Gert.

Daarom was dit vir hom ’n op-die-rug-val-oomblik toe die Ingelsman na ’n betrokke vroulike deelnemer uit dié land verwys as ‘When duh Murve’ – uitgespreek soos ‘nerve’. Tot vervelens toe hou die vent aan met sy ‘when duh murve’ al skree hy wat Gert is al hoe luider en driftiger vir die man om hom op sy minagtende, bespotting van ’n trotse Suid-Afrikaanse van te probeer wys . . .

 

© 2024 Die/The Bronberger