He don’t look so good . . . Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 23 April 2020 08:00
Untitled Document

Hulle wat dit oorvertel, vertel dit as die ware reinheid oor: Dit het, só sê hulle, knap ná die begin van die tweede Engelse Oorlog iewers in die Vrystaat gebeur.

Op ‘n sekere Riemlandse plaas het ‘n bejaarde oom Muller agtergebly, nie oor hy wou nie, maar omdat hy te oud gereken is om saam op kommando te vertrek.

Ook het daar op die plaas, buiten ‘n paar vroue en kinders, ‘n aantal perde agtergebly wat met die nodige vervoer en ander takies op die plaas gehelp het.

Só gebeur dit toe dat daar op ‘n dag ‘n paar Kakies in ‘n stofwolk die plaaswerf binnejaag. Hulle is daar, sê hulle vir oom Muller, om perde te kom koop. Onthou, dit was nog aan die begin van die oorlog voor die Kakies begin vat en plunder het wat, waar en wanneer hulle wou. Nog in die tyd van gewillige koper en verkoper – kan jy maar sê.

En hulle bied toe nogal ‘n heel billike aantal ponde per perd vir die vyfstuks diere aan. Oom Muller aanvaar die aanbod as gewillige verkoper en omdat hy ‘n eerlike en regverdige oom was, haal hy sy beste Rooitaal uit om die hoof Kakie mee te deel: “That one horse don’t look so good.”

Vir die Kakies het al die perde min-of-meer almal dieselfde gelyk – nie te ‘good’ nie, omdat die bestes diens op kommando gedoen het. En hulle is fort met die nuwe aankope, elk gehalter agter ‘n Engelsman en sy eie perd aan.

Die volgende dag, só word dit oorvertel, is die hoof Kakie erg omgekrap terug by oom Muller op die plaas met een van die perde in tou. Hy eis op die plek die geld wat hy vir die perd betaal het terug.

“This horse you sold me, sir,” raas die Engelsman, “is as blind as a bat.”

“Yes, but I told you,” antwoord die oom, “that one horse don’t look so good”.

Diep dink . . .
In dié tyd van inperking, kan ‘n mens se gedagtes soms ongestoord dwaal en soms word diep denke uit eensame opsluiting gebore. Een só ‘n denker, oom Buks Barnard van ‘n plaas op Elandshoek, deel soms sy gedagtes op die Bronnie se bakkiesboekblad. Ou Poon haal op sy beurt graag enkeles daarvan hier aan:

“Is die storie waar wat hulle my vertel dat ‘n hawelose analfabeet niks het om oor huis toe te skryf nie?”

“As mense net wil besef hoe ontsmettend belangrik dit is om hulle hande te was.”

Dokter: “Mnr Niehaus, jy sal minder moet drink. Jou bloedmonster het verdamp voor dit die laboratorium bereik het.”

“Ek kon ook ‘n parlementslid geword het, maar ek sukkel vreeslik om in die dag te slaap.”
Dan vra oom Buks watter dier bestaan 75% uit wol. En sy antwoord is: “Wolf.”

Hy vertel ook van die ou wat gekla het dat sy seun vasbeslote is om ‘n renjaer te word. “As ek jy was,” antwoord die ou se vriend, “sou ek nie in sy pad gestaan het nie”.


Ondersteun die Bronnie
Die gevolge van die inperkingstyd noop ons om ‘n beroep op lesers te doen. As onafhanklike gemeenskapspublikasie bring Die Bronberger die afgelope 18 jaar jou gemeenskapsnuus gratis na jou toe. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en as jy ‘n vrywillige bydrae lewer, help jy ons om dit wat jy graag wil lees, te skryf. Hoe klein of groot ook al, help jou finansiële bydrae ons om ‘n eiesoortige gemeenskap aan te hou dien.
Elektroniese oorplasing:
Naam: 
Bronberg Uitgewers                          
Bank: 
First National Bank
Tak: 
Olympus Plaza                          
Takkode: 
258155
Rekening: 
62446997407
Soort: Tjek   
Verwysing: 
Donasie (jou naam)
E-pos: 
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger April weergawe in elektroniese PDF formaat:

 

© 2024 Die/The Bronberger