Toe nie behep met sitvlakke nie Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Wednesday, 25 March 2020 06:54
Untitled Document

Soms sit hy bloot voor die kassie en rakbie kyk en soms, as sy span swak speel of as die spulletjie hom verveel, sit hy daar voor die kassie en dink, sê Gert Mossie. Hy dink, sê Grootpiet, Gert moet maar eerder net by die ‘kyk’ hou, want hy meen Gert is baie beter daarvoor aangelê as vir dink . . .

Nee man, sê Gert, soos nou die anderdag toe hy nog so sit en kyk na ‘n wedstryd waarin hy nie veel belang het nie, toe ‘n ou se vreemdsoortige Engelse van hom aan die dink en aan die wonder sit.

Só ‘n kortbas mannetjie met baie spoed en ‘n giftige systap. Sy van is Longbottom. Hy het mooi gekyk, sê Gert, maar hy sien by die mannetjie geen afwykings of aardighede nie. Alles blyk in plek te wees en te sit waar en hoe dit veronderstel is om te sit. En toe dink hy en hy wonder . . .

Hy onthou toe ander rugbyspelers (en normale ouens ook) van Engelse oorsprong wat opgesaal sit met dié agterkantse woord as vanne of deel van hulle vanne, sê Gert Mossie.

Ene Winterbottom, kan hy onthou, het kookwater rugby as losvoorspeler gespeel. Nie ‘n bang haar iewers nie en nooit teruggestaan vir niemand nie, of koue voete of koue enigiets op die veld gekry nie.

Hy onthou ‘n Sidebottom (ook met alles op die gewone plek) en ‘n Higgingbottom, ‘n Underbottom, Lowbottom, Sloubottom, ‘n Bottomley en ‘n gewone Bottom ook en hy wonder of die ou Engelse nie dalk effe behep was met hulle agterente nie, sê Gert Mossie.

En toe dink hy: As daardie Sidebottom of een van die ander Bottoms op die veld lê en krul van die pyn nadat sy sitvlak baie hard met die veld kontak gemaak het en die pyn-polisieman vra hom (op Engels natuurlik) presies waar hy seergekry het en wat sy naam is – sal die Bottom-outjie – net om verwarring te voorkom – dalk antwoord: “Op die kwartlyn . . .”

‘Ignoransie’ is nie net altyd ‘bliss’ nie, sê Allen Prentjies nou van agter sy koerant af. Allen is mos Engels, maar volgens die ander ouens in die watergat is hy verder nogal heel gaaf.

Die ‘bottom’ deel in Engelse vanne het niks met ‘n ou se boude of agterstewe te make nie, verduidelik Allen Prentjies. Dit het sy oorsprong in die ou-ou Engelse woord vir ‘n leegte, ‘n ‘hollow’ of breë vallei. Dit, sê Allen, het die ou-ou Engelse ‘n ‘bottom’ genoem. En as iemand in só ‘n ‘bottom’, of in ‘n lang ‘bottom’ of dalk aan die kant daarvan gebly het, dan het sy naam daaruit ontstaan. Dit beteken nie die Engelsman was ‘n agterent of ‘n poe-dinges of ‘n iets nie, sê Allen.

Ja, sê Grootpiet uit sy hoek, wat hom nou ook laat dink aan ‘n ander ou Engelsman met ‘n vreemdsoortige naam wat die wyse woorde kwytgeraak het dat jy ‘n roos enige ander naam kan gee – dit bly steeds ‘n roos . . .

 

© 2024 Die/The Bronberger