Die verstand te bowe Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 28 January 2020 14:00
Untitled Document

Sommige goed, sê Gert Mossie, gaan sy verstand eenvoudig te bowe. “Ja, en dit behoort seker nie te moeilik te wees nie,” laat hoor Grootpiet uit sy hoek. Nee man, met sy verstand skort nie te veel nie, maar nou die anderdag wanneer, sien en hoor hy ‘n vreemdheid wat hy glo geen gesonde verstand met sekerheid sal kan kleinkry nie, sê Gert.

Hy sit ewe rustig by ‘n vriend op dié se dorpshuis-stoep en kuier toe ‘n rumoerse geraas by die huis hier oorkant hulle opklink. Só erg en onverwags is dit dat die kosbare inhoud van sy glas met ‘n boog teen die stoepdak beland. Hy het letterlik sy tiermelk weggeskrik, sê Gert Mossie.

Toe hy effe tot verhaal kom, sien hy vriend se buurman oorkant die straat met ‘n vreemde kontrepsie in die hande. En dit is buurman se kontrepsie wat die onaardse rumoer voortbring. As jy dalk al te naby aan ‘n straler-vliegtuig wat opstyg, gestaan het dan sal jy min-of-meer die geraas van die kontrepsie verstaan, sê Gert. Die verskil is dat die vliegtuig se oorverdowendheid gou in die vêrte verdwyn, terwyl buurman se raasmasjien tot malwordens toe net aanhou en aanhou.

Hy merk toe dat die oorsaak van die onrus in buurman se hande ‘n blaasmasjien is wat met supersoniese wind en oordrom-barstende geraas die blare wat uit die bome op sy sypaadjie en straat beland het, aanjaag. Met sy orkaan-raasmasjien blaas hy die onskadelike blare weg totdat dit op hopies voor sy onskuldige bure weerskant van hom se sypaadjies loop lê.

‘n Paar goed oor hierdie aardige masjien en optrede, verstaan hy glad nie, sê Gert. Hoekom wil die ou in die eerste plek nie blare op sy sypaadjie en in die pad voor hom hê nie? As dit hom dan regtig so pla, hoekom kry hy nie ‘n hark of ‘n stil suigmasjien nie? Dan kan hy mos ‘n nuttige komposhoop maak. Hoekom dink hy sy bure wil sy blare hê? En wat hy veral nie verstaan nie, is hoekom iemand in die eerste plek só ‘n gedoente uitgedink het sonder om dit met knaldempers toe te rus?

Wat die hele spulletjie vir hom nog nutteloser maak, sê Gert Mossie, is dat die gewone, natuurlike wind net ‘n rukkie later daardie einste hopies aangekeerde blare geskep en die hele omgewing, ook op die raasmasjien-eienaar se sypaadjie, loop neersit het.

Goliat
Ou Eus de Clerk besluit toe mos hy gaan dié seisoen ook vir die TLU se groot pampoenkompetisie inskryf. Hulle noem dit die Goliat van Gat-kompetisie. Jy koop die pitte van vorige wenners, plant en versorg die plant met die hoop om die grootste pampoen vir die jaarlikse beoordeling by die Pioniersmuseum in te skryf.

Eus het gereeld verslag gedoen oor hoe dit met sy pampoenprojek gaan. Sy wenpampoen-in-wording het hy ‘Frittertjie’ gedoop en hy mag maar want dis nie ‘n boerpampoen nie, maar van daardie geel Amerikaanse spookpampoene.

In sy laaste opdatering sê Eus: “Dit is met groot leedwese dat ek u moet meedeel dat Frittertjie van Gat, seun van Goliat van Gat, nie meer met ons is nie. Die amptelike storie is dat die goeie feë van Aspoestertjie hom in ‘n koets verander het en dat hy nou ‘n taxi-besigheid bedryf. Dit is egter ‘n liegstorie.

“Die waarheid is dat Frittertjie van die begin af maar ‘n lui Van Gat en ‘n slap Van Gat was en net manlike blomme vervaardig het. Hy het ook omgegaan met torre en peste. Sy blare het soggens aan flarde gehang ná ‘n nag se gefuif en rinkink met sy gogga-vriende.

“My tuinier het op die verlepte Van Gat afgekom, hom uit die grond gepluk en vlak by ‘n stukkende skoen op die asgate gaan gooi. Só het Frittertjie dan aan sy einde gekom en sy Van Gat gesien.”

 

© 2024 Die/The Bronberger