Boks vir ’n Boerseun Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 10 December 2019 08:07
Untitled Document

Liewe oom Kersvader. Dis al weer ekke oom, Daantjie van Donkerhoek hier. Waar vlieg ‘n jaar dan heen, oom? My ma wil weet.

Gaan dit goed met oom en tannie Kersmoeder en die takbokke en die kabouters wat oom-hulle help met die pirsente?

Oom, my pa sê ek moet dalk liewer hierie jaar vir oom Kersvader ‘n iemuil stuur as ‘n brief. Die posketoor is in hulle (kinners mag nie die woord sê nie – behalwe as dit ‘n ertappel of koffie is) in. So sê my pa en amper alles wat eensoppetyd gewerk het, is ook soos die posketoor daarin in, sê my pa.

Ek virstaan nie iemuil nie, oom. Eintlik is dit ‘n epos. My ma sê so. Hoe lank vat ‘n iemuil Noordpool toe, oom?

Nou het ek gewonner of dit oor die posketoor so in sy ertappel in is dat oom toe nie laasjaar vir my die rooi kanoeboot gebring het nie? Miskien het my brief en ‘n anner outjie se brief so met die koffiedinges by die posketoor deurmekaar geraak.

Nou sit die anner outjie seker met my rooi kanoe en ek het sy simpel skooltas gekry. My pa sê dit is ‘n grênd boeksak en ‘n kombie en ek moenie met die witbrood onder my arm kla nie. Maar ek het regtig nie ‘n witbrood gekry nie, oom. Net die ou boeksak.

Toe wonner ek ook of oom Kersvader nie dalk ‘n tak nader aan Donkerhoek het waar ‘n mens virkeerde pirsente vir die regtes kan omruil nie? En dog ek vra maar net, oom. Die anner outjie is seker baie hartseer oor sy mooi boeksak.

Dis beter om te gee as om te kry, oom Kersvader. My ma sê so. Sy sê dit laat ‘n mens goed voel en bly wees as jy gee waar dit nodig is en dit maak jou gelukkig en dis die regte ding om te doen. Oom en tannie Kersmoeder moet seker verskriklik gelukkig wees en goed voel oor al die gee wat oom en die tannie elke jaar gee.

Kyk nou maar net die ding met die Boks vir ‘n Boervrou en hoe wonnerlik dit is dat so baie mense dink aan die arme mense wat onder die droogte in die land buk. Ek weet nie hoekom die droogtetannies en ooms buk nie, maar my ma sê die droogte doen dit en dit is nie lekker nie en dit maak haar hart bly dat so baie mense gee waar mense onder die droogte buk.

Ek wil ook my hart bly maak, oom Kersvader. En daarom stuur ek hierdie jaar se lysie van pirsente vir oom en vra dat oom dit liewer gee vir die kinders wat onder die droogte buk en swaar kry.

Nou pla iets my net ‘n bietjie, oom. Daar waar dit so bukkend droog is, is daar seker tog nie ‘n dam waar ‘n rooi kanoe op kan ry nie? Dalk kan oom Kervader dit van my lysie vir die Boks vir ’n Boerseun afhaal. Ons dam het gelukkig nog water, oom . . .

Groete vir die tannie en die takbokke en kabouters oom Kersvader en mooi ry.

Van Daantjie, plot 1930, Donkerhoek.

 

© 2024 Die/The Bronberger