Lees, vreet en dieet Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 19 November 2019 14:39
Untitled Document

Die ou mensdom, sê Gert Mossie, verstom hom by die dag al hoe meer en meer. “Sê my, ou Gert,” laat hoor Grootpiet uit sy hoek, “praat jy nou as ‘n buitestander?”

Nee man, hy praat eintlik oor lees, sê Gert. Hy dink bitter min van vandag se mense trek nog dikwels, of net soms, ‘n ordentlike boek nader om die ontvlugting, ontspanning, opvoedkunde, kennis en pure genot wat die lees daarvan bied, te ervaar.

Nou, een ding wat sy alie se deksel is, sê Gert, is al die kookboeke wat deur elke aspirerende kok en sy maat geskryf, uitgegee en wel wyd gelees word. En telkens, kan jy maar loop kyk, tel ‘n kleinhuisie vol van dié kosboeke onder die beste verkopers. Ons mense hou duidelik van resepte lees en hulle hou van eet, sê Gert Mossie.

Die dubbeldeksel op sy dinges, sê Gert, lê egter in die absolute ironie daarvan dat ander blitsverkopers onder boeke – net ‘n trappie agter kookboeke – dieetboeke is. En dit verstom hom van die ou mensdom. Hulle wil vreet, maar hulle wil ook maer wees.

Wat die finale kersie op die koek op sy dingesdeksel sit, is wat dié eienaardige verskynsel van vreet-en-dieet noodwendig tot gevolg sal hê en ook het, sê Gert. En dit is die legio ‘dieet-kookboeke’ wat jy op boekwinkelrakke kan kry. Dieet-kookboeke: ‘n Goeie voorbeeld van ‘n oksimoron, as hy al een gehoor het.

Behoede tog, sê Grootpiet. Hy self het dure en bitter sware ervaring van só ‘n dieet-kookboek. Besluit sy dierbare vrou mos op ‘n droewige dag dat hy wat Grootpiet is, sal baat daarby om heelwat gewig af te skud. 

Gewapen met ‘n splinternuwe gedoente wat hulle ‘n dieet-kookboek noem en ‘n netjies uitgedrukte oefenprogram, het sy vrou hom oortuig om soos ‘n lam ter slagting met haar maerwordpad (vir hom) af te stap. Sy het die boek en oefenprogram een aand ná ‘n lekker beesstert en baie aartappels voor sy gesig gehou, en met daardie kyk in haar oë gesê: “Van more af!”

Haai siestog, sê Piet, hy weet sy wederhelfte het dit baie goed bedoel en hy het maar ter wille van die vrede belowe om by die plan in te val. Dit was sweerlik die moeilikste drie dae van sy lewe . . .

Hier teen die einde van die tweede dag van sweet en vas, was dit duidelik dat hy nie die ideale kandidaat vir hierdie spulletjie is nie. Hy was so honger dat hy daardie aand die getroue ou ‘Kook en Geniet’ van die rak af gegaps het en skelm in sy binnekamer loop lees het in ‘n desperate poging om die vreeslike honger te stil. Elke dan en wan het hy ‘n traantjie van verlange weggepink, sê Grootpiet.

Op die vierde dag het hy sy voet dwars neergesit. Die skaal waarop hy verplig was om elke dag van foltering te klim, het geen gewigsverlies gewys nie. Hy weet nie of sy vrou heeltemal oortuig is nie, sê Piet, maar hy het lank en ernstig aan haar verduidelik dat sy familie oor al die eeue heen so baie weeg, omdat hulle ‘n swaar beenstruktuur het.

 

© 2024 Die/The Bronberger