Anderste name word gou alledaags Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 19 August 2019 21:01
Untitled Document

Hy verstaan sekere dinge, sê Gert Mossie, ander probeer hy verstaan, terwyl sommige goed hom net heeltemal dronkslaan. “Het jou mos gewaarsku,” sê Grootpiet-in-die-hoek, “dat jy moet ligloop vir daai goed wat jy by die Mampoerfees aangekoop het”.

Nee man, sê Gert, wat hom dronkslaan, is die name wat Afrikaanssprekendes deesdae vir hulle stomme kindertjies uitdink. Onskuldige bloedjies word lewenslank opgesaal met eienaardige, volksvreemde name. Gaan kyk maar na enige skole-rugbyspan of -netbalspan. Skielik is só ‘n span deurspek met outjies genaamd Kyle Koekemoer, Jean-Luc van Wyk, Keagan Kleynhans, Megan Meintjies, Mira van der Merwe en ‘n magdom dergelike vreemdsoortige name wat Afrikaanssprekende mense aspris vir hulle telge gegee het, sê Gert Mossie.

Wat die ding eintlik half hartseer-ironies maak, sê Gert, is dat mense dié en ander aardige doopname kies oor hulle wil ‘anders’ wees. Wat eintlik aan’t gebeur is, is dat ek en jy, ou Piet, en ander wat nog familiename gekry het, in werklikheid vinnig besig is om diegene te word wat ‘anders’ is.

As die ‘vreemde’ name naderhand nie meer so vreemd is nie, sê Gert Mossie, kan mense dalk net die Ingelse voorbeeld volg en die name van blomme en plante vir hulle kinders inspan. As die Engelse dan name soos Heather, Holly, Iris, Lily, Poppy en dies meer kan gebruik, kan ons mos ewenwel Vygie Viljoen of Tjienkerientjee Taljaard kry. Leeubekkie Lourens, Gousblom Gous, Sewejaartjie Sevenster, Gesiggie van Heerden, of Viooltjie van Aarde inspan om anders te probeer wees.

Op die koop toe, sê Gert, is daar vir die manlikes ook in ons eie taal ‘n klomp gepaste plantname beskikbaar: Name soos Rooipypie Roux, Haak-en-steek Hofmeyer, Wildedagga Willemse, Poepuintjie Petoors en Stinkafrikanertjie Hanekom, is net ‘n paar moontlikhede.

En wat daarvan as ons die voorbeeld van ons buurland anderkant die Limpopo se boorlinge volg, sê Grootpiet. Deesdae is daar derduisende van hulle aan ons kant van die Limpopo en elke tweede siel wat by jou om ‘n ‘piece job’ kom aanklop sit opgesaal met ‘n naam soos Innocent, Silence, Surprise, Eversmile, Clever of so iets.

Verrassing Vermeulen, Slimkop Smit, Papielag Pieterse en Tjoepstil Taljaard kan ook mos lekker anders wees, meen Piet.

Aan die ander kant het die Amerikaners nou weer die anderste gewoonte om mense na plekke, stede en state te vernoem, sê Gert Mossie. Hy dink aan bekendes met name soos Indiana, Denver, Dakota, Paris (daai een by die Franse gesteel), Orlando, Madison en Kimberly, wat hulle seker by ons gesteel het.

Sou ons nou die Amerikaanse voorbeeld volg, sê Gert, en ons hou die pleknaamsaak mooi plaaslik en eg Afrikaans, kan dit nogal ‘n aardige andersgeit afgee. Koekenaap Koekemoer klink mos vir hom na ‘n naam wat die aandag behoort te trek en te hou. Die naam, Pofadder Papenfus, het ‘n lekker byt aan hom en om meer gestalte aan korter vanne te gee kan jy jou kind byvoorbeeld Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskiet Nel noem . . .

 

© 2024 Die/The Bronberger