Agterdeur toe as jy verkeerd gestem het Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 20 May 2019 10:00
Untitled Document

Dit was in die ‘goeie’ ou jare toe dinge nog heel eenvoudiger en baie duideliker was: Jou hond se naam was Wagter, jou seun se naam was Jannie, jou dogter was Lenie en die melkkoei was Blommetjie, sê Gert Mossie.

In daardie jare was die keuses minder en makliker. Jy kon kies of jy van Ford gehou het en of jy meer van Chev gehou het. Jy was ‘n Fordman of jy was ‘n Chevman: Die een óf die ander – nooit altwee nie, sê Gert.

Jy was of ‘n Sap of jy was ‘n Nat. As daar toentertyd verkiesing gehou is, het jy óf vir die Natte gestem, óf jy het vir die Sappe gestem – of jy was (behoede jou tog) ‘n draadsitter.

Hulle vertel dat daar iewers op ‘n plaas in die Waterberge in daardie tyd ‘n omgekrapte ou kêrel genaamd Grootkoos Oosthuizen geboer het, sê Gert Mossie. Oom Grootkoos was ‘n Chevman en hy was ‘n Natstemmer.

Dit was juis so entjie voor verkiesingstyd toe oom Grootkoos en sy buurman Rooikoos le Roux een oggend op die voorstoep sit en boer, vertel Gert Mossie.

Die twee buurmanne sit nog so en trek aan die Springboktwak in hulle pype toe hulle van ver af ‘n swart ‘seloonkar’ in ‘n stofwolk sien aankom. Met die riemtelegram het oom Grootkoos gehoor dat die Sappe een van hulle vername volgelinge uit Johannesburg gestuur het om werwingswerk vir die komende verkiesing in die Waterberge te kom loop doen.

Nie ‘n baie wyse besluit van die Sappe was dit om ‘n knapie wat nog klam agter die ore was Waterberge toe te stuur nie en baie swak deurdag was dit om iemand te stuur wat boonop Ingelssprekend was.

Met ‘n netjiese aktetassie in die hand, klim die Sapwerwertjie uit sy Fordkar en stap tot by die voorhekkie: “Good morning. May I come in?” laat die outjie hoor. Nou het oom Rooikoos later vertel wat min of meer gevolg het, sê Gert Mossie.

Op hierdie plaas, sê oom Grootkoos, kom alle smouse by die agterdeur in. “I beg your pardon?”, sê die werwer. O, sê oom Grootkoos, bedelaars kom ook agterdeur toe, maar hulle mag nie by die huis inkom nie.

“Please,” sê die knaap, “I don’t understand Afrikaans all that well”. “The afterdoor,” antwoord oom Grootkoos. “Smouses and bekkers and men what sell fings, must come to the afterdoor.”

“No, you don’t understand. I am not selling anything. I am from the United Party,” sê die verstomde werwertjie.

“O, dan wil jy nog hier by my instap en ‘n groot klomp strooi (oom Grootkoos het ’n sterker woord gebruik) en gemors beloftes aan my staan en verkoop.”

“I just want to have a word.” Daarvoor, sê oom Grootkoos, is jy nou heeltemal te laat. Ons het vroegoggend al Boekegevat . . .

Oom Rooikoos het vertel dat die stomme Sappie toe maar weer in ‘n stofwolk met sy Fordkar vort is.

En die Sappe kon in daardie distrik met die verkiesing nie veel uitrig nie, sê Gert Mossie.

 

© 2024 Die/The Bronberger