Liewe tannie Kersmoeder . . . Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 07 December 2018 10:24
Untitled Document

Liewe oom Kersvader en tannie Kersmoeder. Hoe gaan dit met tannie, tannie? En met die oom? As mens wil hê dat iets reg gedoen moet word, moet jy ‘n vrou vra. My ma sê so. Werk dit daar by tannie-hulle ook so, tannie? Ek weet oom Kersvader bring die pirsente, maar sal tannie tog kyk dat hy dit hierdie jaar reg doen, asseblief tannie? O ja askies, dis ek, Daantjie van Donkerhoek hier, tannie en oom.

Sal tannie asseblief vir oom Kersvader sê hy hoef nie die trekkertjoep te bring wat hy laasjaar vergeet het nie. Ons gaan nie hierdie jaar weer see toe nie, tannie. Die diesel se prys is nou só hoog, tannie, dat Bronkhorstbaai vanjaar net so ver is as wat die see laasjaar was. So sê my pa.

Tannie kan asseblief kyk dat oom Kersvader hierdie jaar ‘n kanoeboot oplaai om saam te bring tot hier op Donkerhoek. ‘n Rooie of bloue, dankie tannie. Dis vir die dam. My pa sê as ons gelukkig is, gaan ons vir ‘n paar dae Bronkhorstbaai toe. Verder sit ons net hier op die plot en spaar geld.

So sê my pa. Wat is blakfraaiday, tannie? Want op blakfraaiday het my pa die selle ding gesê: Ons sit by die huis en spaar baie meer geld as die mense wat soos mal goed die winkels storm. My pa sê in hierdie land is dit elkgeval elke dag blakfraaiday en dit lyk hom dit raak elke dag net al blakker.

My ma sê my pa is te negetief, maar ek virstaan dit nie. Is tientief dan nie beter as negetief nie, tannie? My ma sê hy moet posetief wees, maar ons het nog nie tot by pose leer tel by die skool nie.

Sal tannie ook baie seker maak dat oom Kersvader weet hoe vreeslik soet ek die hele jaar was? Mans virgeet mos al die belangrike dinge en hulle onthou ook net wat hulle wil. Ek het gehoor toe my ma vir tannie Bessie van oom Sakkie met die hoenders van langsaan só sê.

Vra maar vir tannie Bessie hoe soet Daantjie van langsaan is. Dan hoef tannie nie eers vir my ma of my juffrou te vra nie. Tannie Bessie weet, want sy het gesê ek is baie soet toe ek vir haar die bottel gebring het.

Ek het die bottel brannewyn by oom Sakkie se dammetjie gekry toe ek vir ertwurms gegrou het, toe vat ek dit vir tannie Bessie. Ek skrik eers toe die tannie sê, ‘vandag is die duiwel los,’ maar toe sê sy toemaar en ek was sommer baie soet.

Weet tannie wat die kriks van ‘n saak is? My juffrou sê die kriks van ‘n saak is die belangrikste. Kort, sê sy, en kragtig. So, tannie Kersmoeder, die kriks van die saak is dat tannie asseblief moet seker maak die oom laai my kanoeboot op en bring dit vir my. Eintlik kan die oom maar die trekkertjoep wat hy laasjaar virgeet het ook oplaai – vir my boetie Dolfie.

Sê ook vir oom Kersvader hy moet mooi ry en ek dink dis dalk ‘n goeie plan as tannie hierdie jaar saamkom, net om seker te maak als loop reg.

Groete van soet Daantjie van Donkerhoek.

 

© 2024 Die/The Bronberger