Ou Grondvoël se eerste solovlug Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 23 October 2018 11:34
Untitled Document

‘n Misverstand is ‘n ding wat nogal ‘n aardige nadraai tot gevolg kan hê, sê Gert Mossie. En hy praat nie nou van die goed wat sekere politici en ander afvalliges oënskynlik tussen die ore dra nie. Hy praat van die onverwagte dinge wat gebeur as mense mekaar verkeerd, of skoon mis verstaan.

Soos nou onlangs met die Bronnie se verjaardagvieringe. Hy verneem, sê Gert, dat die mense van die Bronnie ‘n uitnodiging gerig het aan lesers en adverteerders om mee te doen aan die verjaardaguitgawe deur ‘n lesersbrief te skryf of ‘n advertensie te plaas.

Miskien was dié uitnodiging ietwat misleidend, want dit is deur die inwoners van minstens een aftreeoord effe misverstaan. Bel ‘n woordvoerder van die oord toe die Bronnie se kantoor op ‘n mooi dag en kondig ewe opgewonde aan: “Ons kom almal, dankie! Ons sal 189 siele wees.” Heel uit die veld geslaan en sonder om te wil mislik wees, vra die mens van die Bronnie wie die 189 siele is en waarheen dit is wat hulle dan wil kom om wat te maak? “Ons kom almal na die Bronnie se verjaardagpartytjie toe,” sê die woordvoerdersiel. ‘n Ligte misverstandjie, sê Gert, wat ‘n ligte ‘mistykie’ sou afgee as die span in partytjiestemming vir die vieringe sou opdaag.

Dit laat hom nou weer dink aan ‘n ding wat op ‘n lankaldag hier op Tygervallei gebeur het, sê Grootpiet-in-die-hoek. Dit was in die dae toe elektriese omheinings nog nuwe deurbraaktegnologie was, sê Piet.

Ou Blinkes Bothma was een van die eerstes wat só ‘n kragbelaaide heining om sy hoewehuis laat span het en om dié aardigheid in te wei en met sy kragtige drade te spog, nooi ou Blinkes ‘n klompie vriende vir ‘n braai en so oor.

Hy is nou nie seker of dit ‘n geval van misverstaan, mistasting, of dalk net misrekening was nie, maar die gaste op dié inwydingsbraai was met dit wat dié aand gebeur het, nogal kwaai geskok, sê Piet.

Een van die genooides was ou Grondvoël van Wyk. Almal het Grondvoël geken as ‘n voortvarende en avontuurlike ou wat vir geen uitdaging sou terugstaan nie. Hy het sy bynaam verdien omdat hy na baie jare se volhardende probeer en vlieglesse by Kitty Hawk steeds nie daarin kon slaag om sy vlieënierslisensie te kry nie: Grondvoël.

Dié wat daardie aand op ou Blinkes se braai was, vertel dat die manne om die vuur op ‘n kol afstap na die erf se grens toe om die vreemde elektriese omheining van nader te bekyk, sê Grootpiet. Daar gekom, waarsku ou Blinkes sy gaste nog om nie te naby aan die gedoente te kom nie, want hy het die skokfaktor op volstrekte gestel.

Die aand was al ‘n goeie ses biere sterk en met die vroue binne besig om slaai te maak, besluit die manne dat dit ‘n goue geleentheid vir ‘draailoop’ is. Altyd gereed vir ‘n uitdaging en vir ‘n kans om te spog, besluit ou Grondvoël hy gaan die sterkte van sy straal uitstal deur sy ding bo-oor die hoë kragdraad te doen en voor iemand kon keer, hef hy aan. 

Of hy nou sy eie vermoë oorskat het, of die hoogte van die omheining onderskat het weet hy nie, sê Piet, maar dit was ‘n hele, nare gedoente toe daai draaistraal die kragdraad tref. Die vonke spat al straal-langs af totdat die kragtige stroom met die onnoembare kontak maak. Met ‘n bloedstollende gil wat die hele gebied se honde aan’t blaf en tjank sit, klim die ou, asof teen ‘n onsigbare leer uit, die aandlug in, voor hy hard met moeder aarde kennis maak, waar hy lê en krul en kla terwyl daar so ‘n rokie uit hom uit draai.

Hulle sê dit was daardie aand op Tygervallei sweerlik ou Grondvoël se heel eerste solovlug . . .

 

© 2024 Die/The Bronberger