Groot Frik leer duur les Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 20 April 2009 12:30
UntitleDocument

Almal weet dat boerdery nie speletjies is nie. Dit is ’n bedryf waar jy heel dikwels bitter en duur lesse geleer word en waar jy jou jis sommer maklik sonder ’n spieël kan sien. So gaan die gesprek tussen ’n groepie vriende, wat ou Faan en ou Frik du Preez insluit, ook op ’n mooi dag dan juis oor die genadelose terugslae wat ’n boer moet beleef en dan maar telkens weer moet opstaan en voortboer.

Ja, sê die een ou in die kuierkringetjie toe ewe ernstig, hy is diep dankbaar vir al die terugslae, want elke keer as iets skeef loop, leer hy ’n waardevolle les. Dan weet hy in die toekoms om dinge anders te doen. Nou vertel ou Faan dat Frik ook mos destyds, ná sy rugbydae, begin boer het. “Dis baie waar,” sê ou Frik toe. Hy het ook so ’n waardevolle les geleer. Hy wat Frik is, besluit toe mos hy gaan met volstruise boer. Sommer groot boer ook. Hy koop toe honderde volstruiskuikens aan en sit tevrede terug dat die boerdery nou sy loop moet loop.

Nou, die waardevolle les wat hy geleer het, sê ou Frik, is dat jy presies net 26 dooie volstruiskuikens op ’n bouerskruiwa kan laai.

Aapstreke oor plaasnaam

Wat my nou weer laat dink aan die voormalige staatspresident, CR Swart (oom Blackie), se plaasstorie. Dis ’n storie wat die meeste van ons seker al ken, maar ek stof hom maar af en sit hom weer voor:

Oom Blackie het vir hom ’n plaas gekoop daar in Brandfort se wêreld. Die lollery was dat die plaas se naam “De Aap” was. Oom Blackie laat toe vir hom ‘n netjiese bord maak wat hy by die afdraaipad na die opstal staanmaak. Daar staan dit toe vir almal om te sien: “De Aap, CR Swart.” Die storie loop dat sekere hoge kuiergaste toe kommentaar lewer oor die naambord wat effens verwarrend kan wees.

Oom Blackie erken toe dat dit vir ’n vreemdeling dalk die verkeerde boodskap kan gee, daarom, sê oom Blackie, het hy besluit om die plaas te herdoop na: “CR Swart, De Aap.”

Maar, reken hy, selfs dit kan die verkeerde beeld uitdra. Hy dink sy plaas moet eerder in die toekoms “De Aap, plaas van CR Swart” heet.

Diep vraagstukke

Soos die jare met ’n ou aanstap raak jy wyser en begin jy meer van die raaisels van die lewe verstaan. Tog bly daar ’n aantal vraagstukke wat knaag. Vraagstukke soos:

  • As iemand met ’n gesplete persoonlikheid dreig om selfmoord te pleeg, sou dit beskou kan word as ’n gyselaarsituasie?
  • So, wat is die spoed van donker?
  • As ’n krokodil klaar geëet het, moet hy minstens ’n uur wag voor hy dit op droë grond kan waag?
  • Het hulle gereserveerde parkeerplekke vir mense sonder gebreke by die para-Olimpiese spele?
  • Hulle maak olyfolie van olywe en sonneblomolie van sonneblomme. Waarvan maak hulle baba-olie?
  • Hoekom maak hulle nie muisgegeurde katkos nie?
  • Hoekom steriliseer die Amerikaners die naald waarmee hulle ’n ter dood veroordeelde ou inspuit?
  • Hoekom plak die gom nie vas aan die binnekant van die bottel nie?
  • Hoekom het Tarzan nie ’n baard nie?
 

© 2024 Die/The Bronberger