Ore vertel ‘n storie Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 22 May 2018 10:01
Untitled Document

Ore, sê Gert Mossie, kan ‘n storie op hulle eie vertel. Seker ook net as ‘n mens baie mooi luister, laat Groot Piet uit sy hoek uit hoor.

Hy druk anderdag die beeldradio se aanknoppie, sê Gert Mossie, en daar sit ou Riaan (Haas Das) Cruywagen jou werklik en nuus lees, net soos wat hy dit al van so ver terug af doen as wat menseheugenis strek.

Die ou het ook nie veel verander nie. Sy stem is net so seker en sterk en sy aanbieding ewe glad as wat dit toentertyd was. Hy het ’n beter pruik langs die pad aangeskaf en ‘n paar plooitjies bygekry, maar wat merkbaar verander het, is die allemintige stel ore.

Die goed het so met die jare saam duidelik aan’t groei gebly, sê Gert, totdat dit nou sweerlik net-net saam met sy gesig en pruik in die ruimte van die TV-skermpie inpas.

En dis so met die aanskoue van ou Riaan en sy ore dat hy weer aan die Duitser se navorsing dink. Hy kan nie onthou waar hy dit gelees het nie en hy weet ook nie meer wat die navorser se naam was nie, maar hy onthou die oreteorie goed.

Die betrokke Duitser het destyds in diepte die verband tussen ore en intelligensie nagevors. Amper soos iemand aspris se navorsing oor die verband tussen ‘n ou se voete en sy goete, net anders, sê Gert.

Die Duitser het tot die gevolgtrekking gekom dat mense met groter ore neig om slimmer te wees as mense met kleiner oortjies. Hoe groter die ore hoe slimmer die mens. Of anders gestel – kleinoormense is gewoonlik nie so nie slim soos grootoormense nie. Hy dink die navorser het ondermeer Nobelpryswenners as sy basis gebruik en dan ook na verskillende volkere gekyk, sê Gert Mossie.

Hy weet nie juis presies hoekom hy hierdie aardskuddende inligting met hulle deel nie, sê Gert en hy kyk na Groot Piet in die hoek. Groot Piet se oortjies pas glad nie by die res van hom nie en hy tuur nou nogal dreigend terug na Gert.

Maar die goeie nuus vir diegene met klein oortjies, sê Gert, is dat ore aanhou groei so met die jare saam. Die gevolgtrekking is dus: Soos die jare aanstap en die ore al groter en groter word, word die oordraer ook al hoe slimmer en wyser. Dalk laat dit julle ouens met die ore ‘n bietjie beter voel, sê Gert Mossie.

 

© 2024 Die/The Bronberger