Vat dit, of los dit Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 26 March 2018 16:22
Untitled Document

Vat nou maar vir ‘vat’, sê Gert Mossie. Nee wat, hy wil dit nie hê nie, dankie, sê Grootpiet-in-die hoek. Klink te veel na ‘btw’ en dit ‘vat’ nie te veel van daai om hom summier suurbrand te gee nie. Hy sal liewer die ‘vat’ vat waarin wyn of bier gebêre word, sê Grootpiet.

Nee man, sê Gert, hy praat van woorde. Alledaagse woordjies soos ‘vat’ wat die praters van ons mooi taal by wyse van spreke ‘gevat’ het om dit in ‘n legio uitdrukkings en uitlatings te gebruik.

Verstaan mooi, hy probeer nie die taal vlak ‘vat’ nie, sê Gert Mossie, hy dink trouens dit vat skrandere vaardigheid om ‘vat’ so wyd en omvattend aan te wend.

Vat byvoorbeeld vir ‘uitvat’, sê Gert. Nou, dit sal hy vat, sê Grootpiet, as Gert nou sou aanbied om hom uit te vat vir drankies en ‘n lekker groot T-been. Hy sal hom selfs uitvat in sy kispak met ‘n das en sokkies vir die uitvatete, maar vir die ander ‘uitvat’ die ewigheid in, is hy ‘n bietjie minder partydig, sê Piet. Jy sien, sê Gert?

Sy buurman, sê Gert, is ‘n ou wat geen dinges ‘vat’ nie. Net anderdag raak die jafel wat by Buurman se dogter kuier effe te vatterig na sy smaak. Hy vat die jafel toe net daar vas en genoemde jafel laat vat die vlaktes in.

Dit vat duidelik nie veel nie, sê Allan Prentjies agter sy koerant uit, om julle twee op ‘n verbeeldingsvluggie te vat nie. Dit, sê Grootpiet, sal ons maar vat van wie dit af kom . . .

Dit vat hom nou terug na iets wat oom Buks Barnard hom vertel het, sê Gert Mossie. Oom Buks sê hy was saam toe die Bulle se rakbiespan ‘n welwillendheidsbesoek aan ‘n weeshuis in die weste gebring het.

Ná die besoek is onderhoude met die betrokkenes gevoer en oom Buks sê een se woorde het hom diep aan die hart gevat: “Dit was hartverskeurend om die droewige gesigte te sien – sonder enige hoop of vooruitsig in die lewe,” het een van die weeskinders gesê.

Hei versigtig, sê Grootpiet, “as jy aan my span vat, dan vat jy aan my”.

 

© 2024 Die/The Bronberger