Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 28 April 2015 23:25
Untitled Document

Toe maak hulle mos ‘n Kentakkie Tjieken hier op die dorp oop en net dié van julle wat klein dorpies ken, sal kan verstaan watter monumentale gebeurtenis dit kan wees, sê Gert Mossie.

Maande lank al lewe die mense van die omgewing in bykanse onhoudbare afwagting op die groot openingsdag, sê Gert. En toe breek dit uiteindelik aan .  .  .

Hulle het die plek langs die Sjinees se winkel by die besigste van die dorpie se twee stopstrate staangemaak: Tipies getooi met sy spitsdakkie en rooi-en-wit korporatiewe kleure en nogal met ‘n ‘draaif-throe’ en alles. En ja, kompleet met ‘n borsbeeld van kolonel Sanders homself buite voor die deure, sê Gert Mossie.

Die week of twee voor die opening het ‘n leerskare stukwerkers, uitgedos in rooi gestreepte voorskootjies en spitskeppies, biljette in die dorpstrate, by die supermark, apteek, bottelstoor, en ander kernpunte op die dorp uitgedeel.

Die biljette nooi almal uit na die ‘grênd oupenieng’ van die Kentakkie en wys op die ‘oupenieng specials’. Alles amper verniet met ‘n gratis Coke daarby, sê Gert.

Nou is dit só dat die Kentakkie-konsessiehouer van die dorp duidelike begrip het vir waar die kern van sy klandisie vandaan sal kom. Daarom is die eregas en ou wat die opening met ‘n rede en ‘n lintknip en alles sou waarneem, die leier van die plaaslike ‘Joefliga’ van Malema se ‘Economic Freedum Faaiters’ en glo ook ‘n  stadsraadslid op die koop toe. Goodluck Mushlango voer hy die naam.

‘n Menigte van ‘n mense-mengelmoes het vir die groot opening en die amper-verniet Kentakkiehoener opgeruk. Saam met Goodluck daag ‘n erewag van die EFF se joefliga met rooi oorpakke onder rooi beretkepse en in wit Wellington-boetse op. So reg in pas met Kentakkie se korporatiewe kleure, sê Gert Mossie.

Die menigte het geduldig voor in die parkeerplek saamgedrom terwyl ou Goodluck onder ‘n gejuig in die rooi gang van die erewag wuiwend naderstap om sy ding te doen. Die podium met ‘n mikrofoon vir die rede en alles staan voor die deure. Die deure is toegespan met ‘n rooi-en-wit lint, bestem om later deur Goodluck met ‘n skêr geknip te word. Vlak neffens die podium is die borsbeeld van die kolonel homself. En dis net daar wat die moeilikheid begin het:
“What is this statue?” wil Goodluck by die konsessiehouer weet. “She is the Colonel,” sê konsessiehouer, maar hy sê dit soos een met Ingels as derde taal dit sal lees.

“Colonial?!!!” gil Goodluck dit ten hemele uit. “Who is she, Jan Smuts!?”. Goodluck raak driftig en hy gryp die mikrofoon in sy hand vas: “Comrades!” skree hy. “We will take down this colonial statue! We will put the chicken mis on this colonial Smuts! We will put here the statue of Comrade Juju!”

“Viva!” gil ‘n groot deel van die skare. “Viva!” “Pay back the money! Pay back the money!” val die rooi erewag-brigade in. Dis chaos, sê Gert Mossie.

Die oproerigheid word erg aangeblaas toe oom Kalfie Cronjé van Bokkraal die mikrofoon by Goodluck gryp. “Raak julle aan Jannie Smuts dan raak julle aan Kalfie Cronjé!” weergalm sy bewe-stem dit oor die ganse dorp uit.

Dit het die polisie met honde, die buurtwag, mynsekuriteit, ‘n tafeldoek oor die kolonel se kop en gratis Kentakkiehoener gekos om die gemoedere uiteindelik te kalmeer, sê Gert Mossie.

Ou Poon het dié bydrae op 1 April aangestuur – Red.

 

© 2024 Die/The Bronberger