Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 27 October 2014 23:49
Untitled Document

Hy kyk anderdag toevallig ‘n program op die beeldradio raak, sê Gert Mossie. Dit gaan oor sulke wilde manne in Amerika wat verwoesting saai onder die kaaimanne, wat hulle aldaar alligators noem. Net, hulle sê nie ‘alligators’ vir die goed nie, hulle sê net ‘gators’, of  ‘gayters,’ sê Gert Mossie.

En in Australië het hulle ‘kangaroos’, maar hulle noem die ding net ‘n ‘roo’, of ‘n ‘roe’. Nou wonder hy wat sou gebeur as ons hier te lande só onverskillig met ons eie dierename omgaan? Dink net hoe sou ‘n tipiese kinderstoretjie oor die diereryk dan kan klink, sê Gert. Dalk só iets:
“Eendag was daar ‘n groot ou fant met ‘n seer tand. Oom Fant sit toe af rivier toe waar hy gehoor het ‘n baie slim dil bly. Die dil is ‘n tandedokter, het oom Fant gehoor.

“Op pad rivier toe loop die fant ‘n jaan raak. Dis oom Gom die brandwagjaan, wat goed bekend is vir sy kennis van die bosveld. ‘Middag meneer Jaan,’ sê oom Fant. ‘Weet meneer Jaan dalk waar ek die tandedokterdil kan kry? My linker fant-tand is verskriklik seer.’

“Die jaan gaan sit plat op sy bas en krap agter sy oor. ‘Oom Fant, ek dink jy sal die dil in die groot koeikuil in die draai van die rivier kry. Dis waar die dil sy praktyk saam met sy assistent, mej Kewaan, bedryf. Jy sal die kewaan aan haar wit kepsie kan uitken. Ek hoor oom Rennie, die noster, het net gister ‘n baie suksesvolle wortelkanaalbehandeling by dr Dil en mej Kewaan ondergaan’, sê die jaan.

“Die ou fant met sy seer tand vat die voetpad verder af rivier toe. Hy kom by die koeikuil aan, maar sien glad nie die dil of die kewaan nie. Net ‘n groot doebul wat met sy draaihorings agter ‘n doringbos staan.

Oom Fant vra die doebul of hy nie dalk die tandedokterdil of die kewaan-nursie gesien het nie. Die doe sê nee, hy het nie, maar hoekom vra hulle nie die makierie nie. Die makierie sit doer bo in die doringboom en hierdie makierie is nie ‘n bok nie, hy is ‘n voël met baie goeie oë en geen tandpynprobleme nie.

“Die doebul vra die makierie, doer bo in die boom, of hy nie dalk die dil en die kewaan daar onder in die koeigat sien nie. Nee man, sê die makierie, dis hulle ‘lanjsbreak’ en hulle sit daar in die boskroeg en bene pik. Dalk sit hulle en tanne tel, sê die fant. Soek seker pasiënte, sê die makierie. Hy sien juis die meelperde en die trop bra’s sit en suip weer in die boskroeg en almal weet hoe baie tande in die bek dié spul het.

“Hy wil nou nie die jaan agter die bult gaan haal nie, sê die doebul, maar hy dink oom Fant gaan meer as diltrane huil as die half getrekte tandedokterdil ná sy ‘lanjsbreak’ aan daai moewiese groot tand moet boor . . .”

En só kan ‘n plaaslike dierestorie klink as ons soos die Amerikaners en die Aussies met ons dierename begin mors, sê Gert Mossie.

Allen Prentjies wil opsluit weet wat dan toe van oom Fant se seer tand geword het, maar Gert Mossie volstaan: Allen sal moet wag vir volgende week se episode, sê Gert.

Die storie laat hom na die goeie ou tyd verlang, sê Groot Piet-in-die-hoek. En na die bosveld. Hy verlang na die dae toe mense nog stories vertel het, toe tandepasta nog wit was en rakbietokse nog swart. Deesdae kry hy skoon ‘arc eyes’ van al die oranje, geel, rooi en (behoede ons) pienk tokse as hy rakbie kyk. Hy kyk deesdae sy rakbie, om veiligheidshalwe, met ‘n donkerbril, sê Piet.

In die goeie ou dae sou jy ook nie ‘n rakbiespeler of ‘n krieketspeler in ons land met geel tokse en ingekleurde tatoe-arms en nekke en wie-weet-wat-nog gesien het nie, sê Groot Piet. Net matrose, ducktails en Maories was in daardie dae toegelaat om met tatoes weg te kom.

Kan jy jou voorstel hoe dit sal lyk as Fransie Hougaardt en Dale Steyn mekaar vandag in ‘n armdruk-wedstryd moet aanvat? ‘n Kaleidoskopiese verskynsel wat genoeg sal wees om enige toeskouer, sonder die hulp van enige wyn, dronk in die kop te maak, sê Gert Mossie.

Hy lees iewers, sê Allen Prentjies, dat ‘n glasie rooiwyn elke dag baie goed is vir jou gesondheid en hy glo dit.  

Ja, jy kan maar glo, sê Gert Mossie. Hy neem elke aand een glasie rooiwyn vir sy gesondheid. Die ander glase wat daarop volg, is vir sy pittige kwinkslae en sy vernuftige danspassies, sê Gert.

 

© 2024 Die/The Bronberger