Oor werk en vriendskap Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 29 July 2014 09:20
Untitled Document

Vaagweg begin hy tekens ondervind dat die ouderdom uiteindelik vir hom ook op pad is, sê oom Buks Barnard anderdag. Sy ou oë wil nie sonder 'n bril lees nie, sy litte word al hoe strammer, sy kragte word minder en sy asem raak korter.  

Daarby begin hy dinge vergeet, sy tande is gedaan en word al hoe minder, sy hande raak al hoe dommer en die grysheid begin in sy hare deurslaan.  Die enigste troos dat hy nog nie werklik oud is nie, is die feit dat die wysheid darem nog nie gekom het nie, sê oom Buks.

Dit laat hom dink aan die oukêrel wat besluit het dit is tyd vir hom om weer die arbeidsmark te betree, sê Gert Mossie. Die ouman van anderkant die 70, hoor van ‘n sekere betrekking wat hom aanstaan en sy kleinseun laai vir hom ‘n aansoekvorm van die interweb af, sê Gert. Dié aand loop sit die ou by die kombuistafel, neem sy Bic op en vul die vorm in. En dit is werklik soos die aansoekvorm ingevul en ontvang is, sê Gert Mossie.

VOLLE NAME: Gerhardus Jacobus Wilhelm Arnoldus van Aarde.
NOEMNAAM: Ou Knorpot.
SEKS: Niks op die oomblik nie, maar ek werk daaraan.
VERLANGDE POSISIE: Besturende direkteur of algemene bestuurder, maar as dit nie beskikbaar is nie, sal die pos wat julle adverteer ook maar reg wees.
VERLANGDE SALARIS: So R150 000 per maand sal gaaf wees, met ‘n aandele-opsie en ‘n goeie aftreeplan, maar as dit nie moontlik is nie, kan ons onderhandel.
OPVOEDKUNDIGE AGTERGROND: Ja.
VORIGE POSISIE BEKLEE: Teiken vir middelvlak-bestuur se vyandigheid.
VORIGE SALARIS: Te lank terug om presies te onthou, maar dit was baie minder as wat ek werd is.
REDE VIR VERLATING VAN VORIGE POS: Dit was ‘n goor werk met simpel base.
URE BESKIKBAAR VIR WERK: Enige, maar nie altyd alle nie.
WERKSURE VAN VOORKEUR: 1.30 nm tot 3.30 nm – Dinsdag, Woensdag en Donderdag.
UITSONDERLIKSTE PRESTASIES BY U VORIGE WERK: Ek het nie een van die simpel base aangerand nie.
HET U ENIGE SPESIALE VAARDIGHEDE? Ek verloor nie sommer my humeur nie.
KAN U 50 KILOGRAM OPTEL EN DRA? Waarvan en waarheen?
BESIT U ‘N VOERTUIG? Ek dink ‘n meer gepaste vraag sou wees of ek ‘n kar het wat loop.
HET U ENIGE SPESIALE TOEKENNING OF ERKENNING ONTVANG? Wel, ek het die kantoor se rugbylootjie drie keer gewen.
WAAR SIEN U USELF OOR VYF JAAR? Op my eie bosveldplaas sonder skuld of ‘n hangende grondeis.
NAASTE FAMILIE? So 25 kilometer.
KAN U SERTIFISEER DAT DIE BOGENOEMDE INLIGTING JUIS EN VOLLEDIG IS? By benadering, ja.

En hulle sê, ou Van Aarde het toe die werk gekry, sê Gert Mossie.

As hy voorheen bekommerd was oor die vertrapping van die Afrikaanse taal, dan is hy nou seker daarvan dat ons taal in die diep en donker moeilikheid is, sê Groot Piet uit sy hoek uit.

Hy kyk mos deesdae ook op die rekenaar na vleisboek en dié goed, sê Piet. Net gister sien hy ‘n lelike gedoente wat iemand in sulke vet letters in ‘n rooi blok op sit en daar staan dit vir die wêreld om te sien: “Like en share as jy Afrikaans love!”

Hy het nou al honderde ‘vriende’ op die vleisboek, waarvan hy net ‘n handvol van Adam af ken, sê Piet.
Weet julle hoe verskil die vriendskap tussen manne en vriendskap tussen vroue, wil Allen Prentjies weet. Vertel maar, sê Gert.

Wel, sê Allen, ‘n vrou het een nag glad nie huis toe gekom nie. Toe sy die volgende oggend opdaag vertel sy haar man dat sy by ‘n vriendin se huis oorgeslaap het. Die man bel toe later haar tien beste vriendinne. Nie een het iets van ‘n oorslapery geweet nie.

‘n Man, sê Allen, het een aand ook glad nie huis toe gekom nie. Toe hy die volgende oggend opdaag vertel hy sy vrou dat hy by ‘n vriend se huis oorgeslaap het. Die vrou bel toe later sy tien beste vriende: Agt het bevestig dat hy wel daar oorgeslaap het en twee het gesê hy is nog daar.

 

© 2024 Die/The Bronberger