Aan sy baadjie meet jy '?n man nie Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 27 January 2014 22:26
Untitled Document

Sy naam was Billy.

Hy het woeste hare gehad, ʼn T-hemp en denimbroeke met gate in gedra, met geen skoene nie. Dit was letterlik sy hele klerekas vir die vier jaar op kollege. Hy was egter briljant en het ʼn gelowige geword terwyl hy op kollege was.

Oorkant die kampus was die kerkgebou van ʼn netjiese en baie konserwatiewe gemeente wat ʼn bediening vir die kollege se studente wou begin, maar nie regtig geweet het waar om te begin nie.

Een Sondagoggend daag Billy by die kerk op, geklee in sy gewone T-hemp, denim, ongeskeer, sy hare wat wild staan en kaalvoet.

Die diens het reeds begin en Billy het in die paadjie afgestap op soek na ʼn sitplek, maar die kerk was stampvol en daar was nie ʼn enkele sitplek beskikbaar nie. Van die gemeentelede het kriewelrig rondgeskuif en ander het ongemaklik onder mekaar gefluister.

Voor by die preekstoel het Billy besef dat daar geen sitplek beskikbaar is nie, en hy het toe homself, kaalvoete gekruis, op die mat tuisgemaak.

Teen daardie tyd was die gemeente alreeds erg opgetrek oor die situasie en die atmosfeer so dik dat jy dit byna met ʼn mes kon sny.

Juis toe merk die dominee dat een van sy ouderlinge van heel agter in die kerk op pad is na Billy toe.

Die oubaas was reeds in sy tagtigs, met silwergrys hare en, soos altyd, netjies geklee in sy swart driestuk pak. Almal het hom geken as ʼn waardige, Godvresende man. Met sy kierie het hy statig en hoflik sy weg gebaan na die jongman daar voor die preekstoel.

Die kerk was doodstil, behalwe vir die getik van die ouderling se kierie op die vloer. Alle oë was op die oubaas vasgenael en die gemeente het skaars asemgehaal, want hulle het geweet hy loop nie draaie as dit by reg en verkeerd kom nie.

Selfs die dominee het gespanne en in stilte gewag om te sien wat gaan gebeur.

Toe die ouderling uiteindelik die jongman bereik, het hy sy kierie laat val en stadig en met groot moeite op die mat neergesak, Billy met ʼn kopknik gegroet en effe uitasem gefluister: “Nou sit jy darem nie so alleen nie.”

(Met erkenning aan Anoniem.)

xxx

Aan sy baadjie, moet jy ‘n man nooit meet nie, sê Gert Mossie. Die ander manne in die kuierplek het stil geraak. Hulle peins oor die storie van Billy wat Gert flussies vertel het. “En ‘n vrou moet jy ook nie aan haar baadjie oordeel nie,” sê Gert nou. “Of aan haar rok, of haar juwele, of haar hare, of haar grimering, of haar skoene nie.”

“Of aan die os, of aan die esel waarmee sy getroud is nie,” laat hoor Allen Prentjies van agter sy koerant uit.
 

© 2024 Die/The Bronberger