Grootskaalse taalmoord Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 29 July 2013 02:44
Untitled Document

Hy hoor gisteraand daai vaal mannetjie wat die ‘Groen’ program op beeldradio aanbied, praat van die ‘predaators’ wat hulle ‘têratoorie’ beskerm, sê Gert Mossie en hy plak sy Duitse bruisdrankie vies op die toonbank voor hom neer. Gert voel sterk oor sy taal.

“Ja, dié vaal outjie kan nogal kleurryk met die hogere taal omgaan,” sê Groot Piet in die hoek. Maar hy sal dit enige dag verkies bokant die taalmoord wat deesdae op internet-kletswerwe, soos Vleisboek, gepleeg word, sê Piet.

“Op ons tievie, op ons kompoeters word ons moedertaal vermoor,” waag Allen Prentjies dit agter sy koerant uit. As die spreekwoordelike ‘kyk’ kon doodmaak, sou Allen Prentjies se kanse op oorlewing nie baie goed gewees het nie.

Hy het mos loop aansluit by die dorp wat naaste aan hom is se Vleisboekblad, sê Groot Piet, en die goed wat daar kwytgeraak word, is genoeg om oorle CP Hoogenhout in sy graf te laat tol.

Maar wag, sê Piet, ek wys jou. Hy haal sy slimfoontjie uit en skuif nader aan Gert Mossie.

“Kyk hier wat vra hierdie ou.” Piet druk die foontjie onder Gert Mossie se neus in: “Het iemand n Boston terrier reen? Wil met my teef teul,” staan daar. Hy dink nogal dis teen die wet, sê Gert.

“Hier adverteer iemand ‘n foon soos myne,” sê Piet. “Tyd dat jy een aanskaf, Gert, maar jy sal moet spring want iemand anders stel belang. Kyk,” sê Piet: “hi ek soek dae foon maar ek kry die geld 15 jy sal bare vir my asb?”

“Sal jy versekering by hierdie ou koop,” wil Groot Piet weet: “is onafhaanklik en dra gerus kliente se belange na aan die hart!”

En as jy op soek is na ‘n ander bakkie, lees hier: “Ek het 2 weke trug splinternuwe propshaft ingesit en sy shocks is oorgedoen. Hy het `n vol service history en het 210 000 km op. Dit is `n 2008 model en hy het al die ekstras op, sy bak is gerubberize en hy het seiltjie op, nuwe voorbande op en sy agterbande is ook redelik nuut nog. hy het nudge bar en towbar op en roll bar (chrome).”

“Minstens weet ek nou uiteindelik wat ‘taaiers’ in Ingels is,” sê Gert Mossie.

Hulpvaardig, is die mense van dié groep. Kyk net: “nee ma ek trai go kry sys ook op groep sy adveteer kare wat gespy word of iets! ma ek kykl go vi n no.”  “Ai,” sê Gert, “almal weet tog dit is motors wat reggemaak word in Afrikaans.”

“En hier is nog ‘n paar voorbeelde van grootskaalse taalverminking,” sê Groot Piet:
“hey! se my dai wasmashien wat mens nie me parte voor kry nie kan mens hom iewer verkoop vir parte? en as mens kan waar? want die ding nou n groot wit oliefant en miskien kan iemand hom gebruik?”

“Paneelkloppers opsoek!!!!! Meer inligting skakel …”

“Daai meroen rooi bike dis n nice bike like dit.”

“Weet iemand dalk van 'n plummer in die omgewing asb.”

“Moet dit nie ‘plommer’ in Afrikaans wees nie,” vra Gert Mossie en dis sy beurt om onder Groot Piet se ‘kyk’ deur te loop.

 

© 2024 Die/The Bronberger