Oorle pa gooi Pye deur venster Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 28 May 2013 15:28
Untitled Document

Kyk, hy het regtig niks teen vroue nie, sê Groot Piet in die hoek, en gelukkig vir Allen Prentjies hoor Groot Piet nie sy gemompelde: “Dis oor jou pens te groot is,” nie.

Maar, sê Groot Piet nou, hy raak al mooi keelvol met dié dat vroue die hele dag so in ‘n man se keel afgedruk word – en Allen Prentjies mompel weer iets wat Groot Piet gelukkig weer nie hoor nie.

As dit nie die een of ander bewusmaking oor vrouekwale of oor diskriminasie of lelikwees teen vroue of ‘n veldtog oor die wonder van vrouwees is nie, is dit ‘n vrouedag van aard of ‘n Moedersdag of ‘n ding wat ‘n ou in die moeilikheid kry oor jy nie alles kan onthou nie, sê Groot Piet.

Hoekom, wil Piet ‘graag’ weet, word daar nie so ‘n bohaai oor mans gemaak nie?

“Maar natuurlik word daar,” sê Allen Prentjies nou sonder om te mompel. “Lyk my jy vergeet baie gou, ou Piet. Net anderdag het ons ‘n hele pa’s-naweek gehad,” sê Allen en koes gou agter sy koerant in as Groot Piet hom aangluur.

Gert Mossie ken moeilikheid as hy dit sien kom en probeer Groot Piet se aandag aftrek. Hy sien in die koerant, sê Gert Mossie, die rugbykaptein van daai laaste Engelse kolonie in Afrika kla oor daar te veel Afrikaners is die kolonie se span is.

“Gmf!” snork Groot Piet verontwaardig. “Dit is soos om te sê daar is te veel olifante in ‘n trop olifante.

As die knapie in hierdie land saam met Engelse wou rugby speel dan moes hy op skool gebly het.

“En as hy nie in die grootmenswêreld saam met Afrikaners wil rugby speel nie, dan moet hy maar in Amerika gaan speel. Hy moenie dink hy kan in Engeland gaan speel nie, want daar is deesdae net soveel Afrikaners in elke Engelse span as in sy kolonie se ou spannetjie,” sê Groot Piet.

Of hy kan onderkaptein van die nuwe Oos-Kaapse ‘Kings’ loop word, meen Gert Mossie. Hy weet daar is net so baie Afrikaners in daai span, maar hulle mag blykbaar nie Afrikaans praat nie, sê Gert. Want hy kom agter hulle is die enigste Suid-Afrikaanse span wat hulle lynstaanroepe in Engels roep. Hy het iewers gehoor die hoof-koning van die span gooi op jou rugbytrui op as jy Afrikaans praat, maar hy weet nie hoe waar dit is nie, sê Gert Mossie.

Hy het dan nog altyd gedink ‘Daniel’ is ‘n Afrikaanse naam. ‘n Mooi Afrikaanse naam, sê Vinnige Fanie.

Op ‘n man se baadjie en aan sy naam, moet jy hom nooit takseer nie, sê Gert Mossie. Jare gelede was krieket in hierdie land net soos rugby – maar net andersom, sê Gert. Hy bedoel, toe was dit grootliks Engelse wat krieket gespeel het, soos dit Afrikaners is wat rugby speel, sê Gert.

En toe kies hulle op ‘n dag ‘n kaptein vir die krieketbokke – ja die krieketspan was ook Springbokke, of eintlik Springbucks, sê Gert – en hulle kies jou wrintiewaar ‘n Van der Merwe as die Springbucks se kaptein.

Hy was so ‘n opgeskote kannetjie toe hy ‘n dag saam met sy oorle Pa voor die draadloos sit en luister hoe die Springbucks toetskrieket speel. Die Springbucks doen veldwerk en elke keer as Van der Merwe naby die bal kom of iets as kaptein doen, dan sê die Engelssprekende radiokommentator: “The English speaking Wan de Murwie’’ doen dit, of die “English speaking Wan de Murwie” sê sus.

Hy kon sien sy oorle pa was nie baie ingenome met dié kommentator se voortdurende ‘English-speaking Wan de Murwie’ nie, sê Gert Mossie, maar wat later gebeur het toe die Springbucks gaan kolf, het hy nie verwag nie en sal hy nooi vergeet nie.

Die Springbucks het maar swaar getrek dié dag, sê Gert, en toe kondig die kommentator aan dat die ‘English speaking Wan de Murwie’ nou instap om te loop kolf. Hy dink dis met die tweede of derde bal wat na die Springbucks se ‘English speaking Wan de Murwie’ geboul word, dat sy paaltjies doer spat. Uit vir ‘n nulletjie.

Die laaste strooi vir sy oorle pa, sê Gert Mossie, en wat veroorsaak het dat oorle Pa daai Pye-draadloos optel en by die venster uitsmyt, was toe die kommentator dit uitgil: “Bowled! Bowled! Vannemerwe is out! Vannemerwe is out for ‘n duck!”

 

 

 

© 2024 Die/The Bronberger