Jy is wat jy drink . . . Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 28 February 2013 07:55
Untitled Document

Nie dat hy ‘n gewoonte van kroeglê maak nie, maar hy is mos ‘n fyn waarnemer, sê Gert Mossie. En dis van fyn waarneem en oplet dat hy so met die jare saam ‘n gesaghebbende kenner van kroegsitters en hulle drinkgewoontes geword het, sê Gert.

Jy kry verskillende soorte brandewyndrinkers. Maar alle brandewyndrinkers drink baie en die meeste drink te veel en dan praat hulle te hard en vloek baie. Die heel vet ouens wat brandewyn drink, drink dit saam met Coke Light. Die maeres drink dit saam met gewone Coke, sê Gert Mossie.

Die meeste brandewyndrinkers staan en drink – veral die vettes, sê Gert. Tussen slukke sal die geharde brandewyndrinker sy glas hier voor teen sy maag vasdruk, so asof hy wil seker maak die inhoud verstaan waarheen dit op pad is.

As die vet brandewyndrinker by die kroeg sit – gewoonlik nie omdat hy wil nie, maar omdat hy moet – sal hy sy glas dooierus bo op sy bultmaag vashou tussen slukke. Hy sit nooit sy glas op die toonbank neer nie, behalwe as dit leeg is. ‘n Brandewyndrinker vertrou nie maklik sy medemens nie.

Ouens wat wit drank soos cane of vodka drink, sit altyd en drink. Tussen slukke sal hy sy glas op die toonbank neersit, maar nooit sy hand om die glas losmaak nie. Cane-drinkers is gewoonlik bekeerde brandewyndrinkers. Hulle drink nie meer brandewyn nie, omdat hulle meer cane en Oros as brandewyn en Coke kan drink en dis goedkoper. Hulle raas, vloek en sing nie meer soos in hulle brandewyndae nie. Hulle drink net, sê Gert. En mompel tussendeur onhoorbare goed vir hulleself.

Brandewyndrinkers is luid, maar hulle is vulletjies teen jou ernstige rum-drinkers. Die ouens wat brandewyn drink, kan aggresief raak in die kroeg, maar hulle aggressie is gewoonlik teen groter groepe gerig. Groepe soos spietkops, die regering of WP-ondersteuners.

Maar glimlag ‘n bietjie vir ‘n rum-drinker se meisie as jy man-tot-man-aggressie wil ervaar. En as hy boonop sy rum saam met rooi koeldrank drink, is hy eers gevaarlik en moet jy probeer om alle oogkontak met hom of sy meisie te vermy, sê Gert.

Dan kry jy die ouens wat wyn per glas bestel. Witwyn. Met ys. Hierdie ouens is nie aggresief nie. Hulle sit gewoonlik eenkant. Hulle lees altyd koerant. In die glas is net een of twee stukkies ys. Die wynglasie sal voortdurend met sirkelbewegings in sy hand geskommel word. Hy loer telkens by die glas se bek in en hy sal nie sy laaste slukkie vat voor die ys nie heeltemal gesmelt het nie. Eers dan bestel hy nog een.

Whiskey-drinkers vloek, raas, en sing nie soos hulle brandewyn- en rum-broers nie. Hulle vertel ook nie flou vuil grappies en Tolla van der Merwe-stories nie en hulle tjaaf nie die kroegmeisie nie. Whiskey-drinkers gesels hardop met mekaar sodat die kroegmeisie en ander kroegsitters moet hoor. Hulle wil voorgee dat hulle ‘diep’ is.

Jou whiskey-drinker sal goed sê soos: “Ek weet daar is goeie rede vir devaluasie van die dollar, maar onthou wat in 1938 gebeur het.” Of: “ Ek is seker ek is bestem vir iets groots, maar ek is nie seker hoekom ek seker is nie.” Die meeste whiskey-drinkers was ook eers brandewyndrinkers, maar al is brandewyn en Coke nog vir hulle lekkerder, pas dit nie meer by hulle status nie.

Min ouens drink gin, sê Gert Mossie. Gin en tonic val meer in die smaak van vrouens wat besef jy moet te veel wyn afdwing om dieselfde uitwerking te kry. As jy ‘n ou kry wat gin bestel is hy gewoonlik effe verfynd of Ingels.

Bierdrinkers is die room van jou kroegbesoekers. Ordentlike mense, sê Gert: “Kroegdame, gee vir my asseblief nog ‘n ou Castletjie.”
(Met erkenning aan anoniem)

 

© 2024 Die/The Bronberger