Iets wat deur ?n bees beweeg het . . . Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Sunday, 22 July 2012 07:00
Untitled Document

Hy lees hier in die koerant, sê ou Anneries Skip, dis glo die ANC se ‘visie’ en dis hulle ‘missie’ om die ‘redistribusie’ van grond voortaan op die ‘sober’ manier te doen. Hulle sê, as die vrywillige koper en verkoper-ding nie wil werk nie, dan moet hulle bloot ‘sober’ heengaan en grond onteien, sê ou Anneries en hy plak die grootste Afrikaanse dagblad in die wêreld vies langs hom op die toonbank neer.

Wat hom dronkslaan, sê Gert Mossie, is hoe daar deesdae met ons mooi taal gemors word. As jy nugter daaroor dink, sê Gert, behoort ‘n ‘visie’ na regte iets te wees wat jy in die dam teruggooi oor hy te klein is, en ‘n ‘missie’ is eintlik ‘n klein stukkie gras, as dit deur ‘n bees beweeg het.

Groter hoop
Ja, sê GrootPiet, maar dit kan ook ‘n gedagte wees wat deur ‘n politikus se kop beweeg het en by sy smoel uitkom as hy praat. Dis gewoonlik net ‘n veel groter hoop as dié wat die klein grassie by ‘n bees veroorsaak, sê GrootPiet.

Eenkeer, lank gelede toe hy ‘n teësinnige besoeker aan Ingeland was, sê Gert Mossie, bevind hy hom in een van die ou eilandjie se geskiedkundige begraafplase. En daar sien hy toe dié eienaardige grafskrif: ‘Here lies an honest man and a good politician.’ Waaroor hy nou nog wonder, sê Gert, is hoekom die Ingelse twee mense in dieselfde graf begrawe het.

Politiek pleeg
Waaroor hy nou weer wonder, sê Anneries Skip, is waar die tyd dan heen loop? Hy kan sweer verlede jaar hierdie tyd was dit nog Februarie. En noudat hulle so oor die mense praat wat die politiek pleeg, sê Anneries, voel dit vir hom soos gister dat daar nog ‘n politikus of twee hier te lande was waarvan mense jou werklik gehou het.

Ouens soos wyle Hendrik Schoeman. Mense wat hulle jop kon doen en snaaks was as hulle wou snaaks wees. Nie soos vandag se klomp narre nie, wat lagwekkend is juis as hulle probeer om hulle jop te doen, sê Anneries. Jy kan maar oor hulle sê, soos Hendrik Schoeman op ‘n dag oor ‘n mede-minister gesê het; ‘hy het met sy botter in die gat geval.’

Kontant
Op ‘n boeredag iewers in die Oos-Kaap het Hendrik Schoeman op ‘n dag vir vriend Jasper gevra of hy weet hoekom al dié boere met ‘Mercediese’ ry, sê Gert Mossie. Nee, hy weet nie hoekom nie, antwoord vriend Jasper. Want, sê Hendrik Schoeman, as hulle bus ry moet hulle kontant betaal.

Hy wonder tog wat Hendrik Schoeman oor die Bulle se pikante, nuwe pienk uitrustingtjies sou sê, sê GrootPiet. Hy kan onthou dat Henrik Schoeman gesê het dis net ouens wat pienk onderbroeke dra, wat vis in ‘n restaurant bestel. Groot Piet wys met ‘n sirkel-swaai beweging vir Sakkie agter die toonbank dat hy nog ‘n rondte moet bring.

‘En sommer een van daai heel groot T-bene vir my,’ sê GrootPiet. ‘Voor iemand dink ek dra ‘n pienk pêntie.’

 

© 2024 Die/The Bronberger