Straatname van toet af verkeerd Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Wednesday, 25 April 2012 00:41
Untitled Document

“Ken een van julle Latyn?” Groot Piet sit in die hoek met sy neus begrawe in die grootste Afrikaanse dagblad in Gauteng en in die wêreld: “Hier staan iets in Latyn wat ek glad nie verstaan nie,” sê Groot Piet.

“Man, ek het Latyn in matriek gehad,” sê Gert Mossie.
“Nou sê dan vir my wat beteken ‘disce aut discede’”, vra Piet half vermakerig.

“Nee,” sê Gert Mossie, “jy moet darem verstaan dat Latyn baie verander het vandat ek laas op skool was.”

“Dit beteken,” sê Allen Prentjies, (Allen is eintlik Ingels en behoort meer vertroud te wees met vreemde tale) dat jy moet leer of jy moet voertsêk.”

“Ja,” sê Groot Piet “nou, só was dit mos in die ou dae; die goeie ou dae,” sê hy. “As jy nie wou leer nie, het jy gedop en as jy nie wou luister nie het jy gevoel.”

“En as jy gereeld genoeg en goed genoeg gevoel het, het jy geleer,” lê Vinnige Fanie sy eie wysheidseiertjie.

“Nie vandag meer die geval nie,” sê Groot Piet. “Die kinders van vandag maak nes hulle wil - en leer is beslis nie iets wat kinders van alle tye af van nature ‘wíl’ nie. Maar ‘hulle’ word nie gedop of gedo-, eh, gedinges nie en beland desondanks in reggestelde, verantwoordelike poste,” sê Piet.

Ja, hy het ‘n onlangse agenda van ‘n belangrike raadsvergadering van Pretoria se Tshwane-metroraad onder oë gehad en “julle sal nie glo wat lees ek daar nie,” sê Allen Prentjie.

“Wat ek daar lees is natuurlik in Engels,” sê Allen, en as iemand nie verstaan nie sal hy dit probeer vertaal.

“Ja asseblief,” sê Gert Mossie, want Ingels het ook baie verander vandat hy nog laas op skool was.
“Een item op die agenda,” sê Allen, se hofie lees: “Pubic places and streets names.”

“Net só,” sê Allen Prentjies. Allen sien Vinnige Fanie krap sy diepdink-krap agter sy oor en hy wil net begin verduidelik toe Gert hom stilmaak.

“Ja, maar dit kon bloot ‘n onskuldige tikfoutjie of twee gewees het,” sê Gert. “Presies wat die amptenaar gesê het toe hy hom bel,” sê Allen, “maar dié harige foutjies is drie keer in die teks herhaal.”

“Kan jy nou dink,” sê Groot Piet, “waffer vreeslike spelfoutgoggas kan opduik as die stadsraad nou wild en wakker gaan loop verander aan Pretoria se straatname, soos wat hulle wil, en dieselfde akademies benadeelde amptenare moet die goed op die amptelike stukke neerpen?”

“Moontlik,” sê Allen Prentjies, “maar dis ook nie net die nuwe voorheen benadeelde amptenare wat spelfoute kan maak nie. Die ou, voorheen bevoordeelde Pretoriase amptenare het dit ook gedoen.”

Hy lees anderdag in dieselfde, grootste Afrikaanse dagblad dat die geskiedkundige, Eric Bolsmann, meen die stadsraad moet eers die spelfoute op die huidige straatname regmaak, voor hulle miljoene wil uitgee om nuwe verkeerdgespelde name te wil instel, sê Allen.

“Mooi só, ou Eric!” sê Gert Mossie. “Dis hoog tyd dat iemand uit die foute van die verlede leer om die foute van die hede te vervolmaak. Gee daai man ‘n Bols,” sê Gert.

“Hy het altyd gedink,” sê Vinnige Fanie, “dat ‘n paar van die voorheen bevoorregte straatname nie lekker deur die voorheen bevoorregte amptenare gespel is nie. Vat nou maar vir Popelstraat en Proesstraat?”

“Die ding met die goeie ou dae is,” sê Gert Mossie, “dat ‘n ou maar vandag moet geniet, want as jy bevoorreg genoeg is om die lewe te hou, gaan hierdie die goeie ou dae wees waarna jy eendag sal verlang.”

 

 

 

© 2024 Die/The Bronberger