Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Wednesday, 25 January 2012 07:52
Untitled Document

Hy weet nie mooi waar dié Valentynsgedoente vandaan kom of wie dit hoekom uitgedink het nie, sê Gert Mossie, maar soos hy dit verstaan, het dit iets met die liefde te doen. En een ding wat hy vir ‘n feit weet, is dat dit ‘n droewige dag vir die liefde in sy huishouding sal wees as hy wat Gert Mossie is weer dié jaar sou vergeet van Valentyn se dag.

Waaroor hy nou weer wonder, sê Groot Piet in die hoek, is hoekom dit alewig ‘ons mans’ is wat al die vervlakste spesiale dae moet onthou wat iemand uitgedink het om vroue hêppie te maak. Hy ly nou nog daaronder nadat hy sy huweliksherdenking een keer, in 1982, per ongeluk vergeet het, sê Groot Piet.

Dit gaan alles oor die liefde, sê Allen Prentjies. Allen is mos eintlik Ingels, maar verder darem nie te sleg nie, al kom Allen volgens Gert Mossie soms met erge skewe en volksvreemde gedagtes vorendag.

Die liefde is vir ‘n vrou baie belangrik, sê Allen nou. As jy as man onthou van Valentynsdag en iets spesiaals vir haar gee of doen op dié dag, dan is dit vir haar ‘n bewys van jou liefde vir haar. En as jy vergeet, wel, ‘n vrou in haar liefde verloën is ‘n gevaarlike ding, sê Allen.

Ja, hy sal ‘n vrou seker nooit heeltemal verstaan nie, sê Gert Mossie. Een ding wat hy wel met die jare saam geleer het, is dat dit nie regtig so belangrik is om te verstaan wat ‘n vrou sê nie. Wat aan die ander kant van kardinale belang is, is om te verstaan wat sy nie sê nie.

Eintlik, as hy moet eerlik wees, sê Gert, verstaan hy ook nie die liefde so mooi nie. Hy dink toe hy nog baie klein was, was dit makliker om dinge te verstaan. Toe het hy gedink die liefde is wanneer ‘n meisie haarself vol parfuum spuit en ‘n ou sit sy Old Spice aan en dan gaan hulle ‘draaif-ien’ toe om aan mekaar te ruik.

Hy dink, sê Groot Piet, as ‘n ou se onthou van al die troudae en Moedersdae en verjaardae en vrouedae en vaaltuindae en ‘wôt nôt-dae’ vir ‘n vrou ‘n bewys van jou liefde is, soos ou Allen sê, dan sal hy vanjaar aspris sy skoonma se verjaardag moet vergeet. Hy moet onthou om dit spesiaal in sy dagboek te skryf sodat hy dit kan vergeet, sê Piet.

Eintlik, sê Allen Prentjies, kry mans ‘n ‘raw deal’ as dit by dae kom. Hoekom, wonder hy, is daar nie iets soos ‘n pêlledag vir mans nie. ‘n Dag vir mans deur mans en oor mans. Dis nou werklik ‘n gawe idee, meen Gert Mossie. ‘n Vriendedag vir manne. Op pêlledag kan al die vrinne dan in die kuiergat bymekaarkom en dan kan elke pêl om die beurt vir al die ander pêlle ‘n dop staan en almal kan net lekker ontspanne saam kuier en grappies maak en strooi praat en só.

Maar dis dan presies wat ons in elk geval gereeld doen, sê Groot Piet.

Ja, dit is so, maar, sê Gert Mossie, met ‘n pêlledag kan ons dit amptelik en wettiglik doen en geen hen sal ooit daarna daaroor kan kraai nie.

En die heel beste van alles sal wees, sê Groot Piet, dat nie jy of Allen of niemand vir my gaan kwaad wees as ek van pêlledag sou vergeet nie en niemand sal dink dis ‘n bewys van my liefde as ek dit dalk onthou nie.

 

© 2024 Die/The Bronberger