Roem kom helaas te laat om vurige skilder se lewe te red Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 14 June 2024 08:00
Untitled Document

Angie Kleijn

’n Kunstenaar wat baie Pretoria-tonele in die vroeë 1900’s op die skilderdoek verewig het, kon net die laaste ses jaar van sy lewe voltyds aan sy kuns toewy. Toe hy uiteindelik die kans kry, het hy “vurig en onon­derbroke” geskilder en dit is juis dié passievolle benadering wat sy dood veroorsaak het.

So sê dr Francois Verster in ‘Pieter Wenning, eensame, talentvolle baanbreker’. Pieter Wenning kon weens finansiële redes eers op die ouderdom van 41 jaar voltyds begin skilder. Hy is dood toe hy 47 jaar oud was.

Francois skryf dat Pieter in 1916, met DC Boonzaier se finansiële ondersteuning, na Kaapstad gereis het. Hy het ’n ateljee in Nuweland gehuur en het op tipiese intense wyse begin skilder, dikwels in reënweer. Sy swak gestel, wat juis die rede was waarom hy na Suid-Afrika geïmmigreer het, kon dié toestande nie hanteer nie.


’n Selfportret
Bron: dbnl.org – Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929

Gebore
Pieter Willem Frederik Wenning is op 9 September 1873 in Den Haag, Nederland gebore. Hy is aan die Rijks Hoogere Burgerschool in Leeuwarden opgelei en sy kunsonderwyser, Bubberman, het vroeg reeds dié seun se talent raakgesien. Hy het probeer om Pieter se ouers te oortuig om hom ’n loopbaan as kunstenaar te laat volg. Alhoewel Pieter se pa in heraldiekkuns gespesialiseer het, het hy hom afgeraai om kuns te studeer.


‘Wolke, Pretoria’ deur Pieter Wenning
Bron: wikiart.org

Pieter het ná skool as klerk by die Hollandsch Ijzeren Spoorweg Maatschappij gaan werk. Hy is gou tot buitelandse korrespondent in die klaringsafdeling bevorder omdat hy ’n goeie kennis van Duits, Frans en Engels gehad het. So het hy reise na Frankryk, Duitsland, Switserland, Engeland en Skotland onderneem.

Hy het in 1898 met ’n weduwee, wat twee kinders gehad het, getrou: Hillegonda Kramer-Bennink (Julie 1866 – Februarie 1919). Pieter en Hillegonda het twee seuns gehad: Harco en Siegfried.


Pieter aan die werk
Bron: Wikipedia

Pretoria
Pieter het ’n pos by JH de Bussy en Kie, boekhandelaars en uitgewers, se filiaal in Pretoria gekry. In Junie 1905 het hy en sy gesin met die Gaika in Durban geland. ’n Brief van koningin Wilhelmina aan die goewerneur van Transvaal het hulle in staat gestel om as Hollandse immigrante in Pretoria te woon, waar hy in sy vrye tyd geskets en skilder het.


Jacob Hendrik Pierneef se pastelskets, genaamd ‘Pieter Wenning met Pretoria in die agtergrond’
Bron: artsandculture.google.com

JH de Bussy en Kie het in 1911 ook begin om etse en afdrukke (onder meer Japannese houtdrukke) en kunstenaarsmateriaal te verkoop en Pieter was in beheer van dié afdeling. Hy was lid van die Pretoriase tak van die Frieslandse Vereniging en was later ook ’n vertaler by die hooggeregshof.


RSA 1980: Pieter Wenning
Bron: Bobshop.co.za

Individualiste
Saam met JH Pierneef en George Smithard, het Pieter in Mei 1911 ’n stigterslid van Die Individualiste geword, ’n groep kunstenaars wat hulle werk saam in Pretoria uitgestal het. Hulle eerste uitstalling was op 20 November 1911 en die groep het aanvanklik bestaan uit Marcelle Piltan (mev W Morley), Selina C Harding, Madge Cook (mev B Phillips Denham), Nina Murray, Sydney Stent, mnr G Schild en JH Pierneef.


Pieter se skildery, ‘’n Blik op Daspoort’, 1911
Bron: Universiteit van Pretoria Museums

Sydney Stent was ’n leerling van G Crossland Robinson van Kaapstad en monsieur Bourotte van Brussel. Nina Murray het ’n kunsateljee, gebaseer in Kerkstraat 438, tussen Du Toitstraat en Arcadiabrug, gehad. Sy is opgeteken as onderwyser en kunstenaar en was Pretoria se tweede vroulike fotograaf. Die eerste een was MRB Robertson.

Later het mnr RO Gross, mej SC Harding, Coenraad Meischke en mnr H Siemerink by die groep aangesluit. Pieter is tot sekretaris van die groep benoem en in 1912 het mej G Anderson en mnr
JL Gärtner aangesluit en Fanie Eloff is uitgenooi om saam met hulle uit te stal. Ander bronne noem dat Frans Oerder en Erich Mayer ook deel van dié groep was.


Durban 1980-05-06: Pieter Wenning
Bron: Bobshop.co.za

Berig
Die ‘Rand Daily Mail’ van 30 Julie 1912 berig oor Die Individualiste se tweede uitstalling van 29 Julie tot 1 Augustus by die Pretoriase Stadsaal. Die berig lui dat Pieter Wenning ’n skildery van Donkiekamp uitgestal het, JL Gärtner die uitsig vanaf die Uniegeboue, Nina Murray het ’n blik op Pretoria vanaf die perseel van die regeringsgeboue uitgestal en Marcelle Piltan se skildery was ‘On top of a kopje’.

Die oorgrote meerderheid van die skilderye is by Meintjeskop geskilder. Pierneef het ’n skildery, genaamd ‘Naby Apiesrivier’, een van Meintjeskop en nog een van die Apiesrivier naby Hovesdrift met Meintjeskop in die agtergrond, uitgestal.


Pieter in Tokai, geneem deur sy seun, Harco
Bron: Die Kunste, dr Francois Verster

Die Individualiste het Pierneef glo gereeld na Meintjeskop vergesel om te skilder en te skets. In die Johannesburgse Kunsgalery is daar ’n pastelskets van Pierneef (gedateer 1910), wat ’n sittende Pieter Wenning uitbeeld, besig om teen die hange van Meintjeskop te teken met Pretoria in die agtergrond.

Dit is danksy die aanmoediging van hierdie en ander kunstenaarvriende, dat Pieter met sy kuns kon voortgaan. Hy het sy lewe lank met geldelike probleme geworstel, selfs ná sy eie etspers in 1912 uit die buiteland aangekom het en hy sy eerste bundel etse, ‘Johannesburg Impressions’, gepubliseer het.


Die Individualiste omstreeks 1911, van links: Dr Grünberger, Nina Murray, Marcelle Piltan, Pierneef, mej Harding van die Normaalkollege, Pieter Wenning en mev Stent
Bron: Wikipedia

Kaap
Pieter het in 1913 in die Johannesburgse tak van De Bussy gaan werk en daarna, in 1915, by
JL Van Schaik in Pretoria. In Maart 1916 maak DC Boonzaier en ander kunsvriende dit vir Pieter moontlik om drie maande lank sonder geldelike sorge in die Kaap te gaan skilder.

In 1917 en 1918 het Pieter grootliks in die Kaap gewerk, maar ook na Lourenco Marques, Durban en Zanzibar gereis.


Pieter in Oktober 1919
Bron: Wikipedia

Sy vrou is in 1919 oorlede, iets wat hom nog meer laat inkeer het, en Pieter het in die omgewing van Nylstroom, Potgietersrus, Pietersburg en Nelspruit gaan skilder. In die herfs van 1919 is hy terug Kaap toe en sy gesondheid het daardie winter vinnig verswak.

Om geld vir sy lang beplande reis na die Ooste te kry, het Pieter in 1920 feitlik sy laaste 20 skilderye vir slegs £200 verkoop. Hy kon egter nie ’n skeepsgeleentheid kry nie en is op 7 Januarie 1921 in ’n uiters verswakte toestand terug na Pretoria. Hy is op 24 Januarie 1921 in die Zuid-Afrikaansche Hospitaal aan tuberkulose oorlede.


Pieter se skildery, ‘Wonderboom, Pretoria’
Bron: straussart.co.za

Gesog
Pieter se seun, Harco, skryf in sy boek, ‘My father’, dat sy pa se skilderye ná sy dood skielik uiters gesog was en dat mense wat hom blatant uitgebuit het in sy sukkelbestaan as kunstenaar, tóé skielik almal groot kenners en aanhangers van sy werk was.

Pieter het tussen 300 en 400 olieverfskilderye voltooi, en na raming net soveel etse en tekeninge – in potlood, kryt, soms met die toevoeging van waterverf. Vandag hang sy werk onder meer in versamelings in die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Galery in Kaapstad, die Pretoriase en Johannesburgse Kunsmuseums, die William Humphreys Galery in Kimberley en die Wits Kunsmuseum.


Pieter se landskap, ‘Vanderhovensdrif, Apiesrivier’
Bron: wikiart.org

In ‘Die Suid-Afrikaanse Heldegalery’ skryf dr CA Luckhoff: “Min kunstenaars het soveel invloed op andere in Suid-Afrika uitgeoefen as Pieter Wenning . . . Hy was die inluier van die egte impressionistiese beweging in die skilderkuns in Suid-Afrika, en daar kan met ’n mate van waarheid van ’n Wenning-kultus in Suid-Afrika gepraat word.” Wenningstraat in Groenkloof is na Pieter vernoem.

 

© 2024 Die/The Bronberger