Terugslae, tragedies en teleurstellings van Villieria se taalpionier–stigter Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 17 May 2024 14:00
Untitled Document

Angie Kleijn

Villieria is, naas Arcadia en Sunnyside, die derde oudste voorstad van Pretoria. Die storie van die stigter van dié voorstad is een wat vele terugslae, tragedies en teleurstellings insluit. Tog was daar ook avonture op sy ekspedisies as landmeter-generaal en het hy die volksverhale wat hy op sy reise gehoor het sorgvuldig neergepen.

Gideon Retief von Wielligh, ook as Hans Kaapnaar bekend, is op 1 April 1859 op die plaas Vryeguns in die Paarl-distrik gebore. Hy was die tweede van Nicolaas von Wielligh en Martha Maria, ’n nooi Retief, se vyf seuns en is na sy oupa, Gideon Retief, die Voortrekker Piet Retief se broer, vernoem.

Gideon moes vanaf sy sewende jaar vee oppas en ander boerderytakies op sy pa se plaas behartig. ’n Hollandse matroos, Jan Balt, het Gideon se eerste skoolonderrig verskaf. Toe hy 11 jaar oud was, het hy sy pa op ’n handelstog na die Boesmanland vergesel en die stories wat hy daar gehoor het, het hom geweldig beïndruk.

Gideon was maar net 16 jaar oud toe hy lid van die Genootskap van Regte Afrikaners geword het en hy het vanaf 1876 bydraes aan die ‘Patriot’ gelewer.


Embleem van die Genootskap van Regte Afrikaners, wat Gideon ontwerp het
Bron: Wikipedia

Verloor
Sy pa het feitlik al sy besittings weens borgstaan verloor, maar verskeie vriende het ingespring om dit vir Gideon moontlik te maak om aan die Paarlse Gimnasium te studeer. In 1877, toe hy 18 jaar oud was, het Gideon die wapen vir die Genootskap van Regte Afrikaners ontwerp. Die woorde ‘Verenigde Suid-Afrika’ is omring deur die name van die vier suidelike state van Afrika en die leuse ‘Ver Moedertaal en Vaderland’ bo-aan.

Daardie selfde jaar het Gideon die landmeterseksamen afgelê en is as landmeter geregistreer toe hy 21 jaar oud was. Hy het in 1883 na die Transvaal verhuis en is in 1884 as landmeter-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) aangestel.


Gideon en Bettie op hulle troudag
Bron: wikitree.com

Gideon is op 12 Mei 1885 in die Paarl met Elizabeth Johanna Hendrika (Bettie) de Villiers getroud. Sy is op 24 Junie 1860 gebore en was die oudste dogter van die musikus, professor Jan Stephanus de Villiers van die Paarl, en Johanna Maria Wilhelmina, ’n nooi Van der Lingen. Prof Jan was een van die heel eerste musiekprofessors toe die Kaap gekoloniseer is. Bettie se oupa was GWA van der Lingen, die eerste teologieprofessor.

Bettie was ’n pianis en een van die stigters van die musiekkonservatorium op Stellenbosch, maar het alles opgegee om Gideon na sy plasie net buite Pretoria te volg. Dié plaas is na haar nooiensvan vernoem en in die oorspronklike verbandhoudende dokumentasie is die naam as ‘Villeria’ gespel.


Die Von Wielligh-Kremetart
Bron: lionroarsafaris.co.za

Villieria
Gideon het die plaas in 1885 gekoop, waar hy met skape, beeste en bye geboer het. Hy en Bettie het ses kinders gehad: Nico (oorlede toe hy 10 maande oud was); Jan Stephanus de Villiers; Maria van der Lingen; Gideon Francois Alexander; Wilhelm van der Lingen; en Pieter (wat dood is toe hy 15 maande oud was).

Bettie en die kinders het op die plaas gebly terwyl Gideon op landmeterstogte gegaan het en soms maande lank in die wildernis gekamp het. Een van sy kampplekke was naby die samevloei van die Letaba- en Olifantsrivier, ongeveer 8 km noord van Olifantskamp in die Krugerwildtuin. Sy tweede seun is in 1891 gebore en hy het sy voorletters in die kremetart waaronder hy gekamp het, gegraveer. Dit staan vandag as die Von Wielligh-Kremetart bekend.


Gideon Retief von Wielligh, regs, en Abel Erasmus, links, in 1890 in die suide van Mosambiek
Bron: housesofmaputo.blogspot.com

In die vroeë 1890’s het groot terugslae Gideon bykans gelyk getref. Sy jongste seun, Pieter, is dood, 200 beeste het aan longsiekte gevrek en talle skape aan gifblaar. Sy huis se dak is in ’n storm afgewaai en sakevennote het hom in £17 000 se skuld gedompel.

Dit was ’n groot skande om so diep in die skuld te wees en in 1895 het Gideon sy werk as landmeter-generaal bedank. Hy het al sy besittings verkoop en het sy plasie in erwe begin opdeel om sy skuld te delg. ’n Klein gebied met die naam Villeria is so vroeg as 1895 op kaarte van die distrik aangedui. Dit is as vier strate, Noord-, Zuid-, Oost- en Weststraat, rondom ’n plein met die naam Villeriapark, wat vandag as Rietondalepark bekendstaan, gekarteer.


‘Die vrouens van Vrindenburg’
Bron: wikitree.com

Villieria is die eerste keer in 1896 aan die publiek te koop aangebied met 1 530 erwe. Gideon het die voorstad ontwikkel en die 1899-kaart noem dat Villieria oorspronklik deel van die plaas Rietfontein 24 uitgemaak het en dat dit geleë is waar die voorstad, Rietondale, vandag is.

In 1907 het Villieria, as deel van Wyk C, sy eie gesondheidsraad gekry en in 1914 is dit as deel van Wyk 1 van die aparte munisipaliteit van Innesdale ingedeel, voor dit in 1931 by Pretoria ingesluit is. Dit was ’n jaar voor Gideon se dood, maar teen daardie tyd is Bettie lankal oorlede.


Gideon toe hy die ZAR se landmeter-generaal was. Die foto is in die landmeter-generaal se stoorkamer in Pretoria gevind, vergunning van dr LF Braun
Bron: familielegkaart.blogspot.com


Gideon Retief von Wielligh
Bron: S2A3 Biographical Database of Southern African Science
.
.

Geskei
Met al die terugslae in die 1890’s het Gideon sy vriendekring verloor en huislike probleme het gevolg. Bettie en Gideon is in Augustus 1899 uitmekaar uit. Sy en die kinders was met die Anglo-Boereoorlog in die Kaap, glo vir hulle veiligheid, maar Bettie het nooit weer teruggekeer nie.

Bettie en Gideon is in Februarie 1904 geskei en daarna het sy haar en die kinders se van na die Duitse spelling, ‘Von Willich’, verander. Sy is op 9 Junie 1908 in die ouderdom van 47 jaar en 11 maande op Robertson oorlede.

Gideon het ná die verkope van alles wat hy besit het, finansieel herstel en het weer as landmeter vir die ZAR begin werk. Toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek, was hy besig om die grens tussen Transvaal en Mosambiek uit te meet en hy is dringend na Pretoria terug geroep. Hy het sy landmeterinstrumente na Delagoabaai gestuur vir veilige bewaring.

Terug in Pretoria is hy as krygskommissaris aangestel. Gideon was verantwoordelik vir ’n kamp wat tot 5 000 Britse krygsgevangenes gehuisves het. Dié kamp is later na Waterval-Noord, noord van Pretoria, verskuif en dit is daar waar Gideon gevange geneem is toe die Britte Pretoria ingeneem het.


Gideon se ouers, Nicolaas von Wielligh en Martha Maria, ’n nooi Retief
Bron: Lavonn von Wielligh

Gevange
Drie dae ná sy gevangeneming het die Britte sy ou pos as landmeter-generaal vir hom aangebied. Hy het geweier om vir hulle te werk en was vir die res van die oorlog in Pretoria ingeperk. Die Britte het sy besittings en baie van die aantekeninge wat hy oor die jare gemaak het, geplunder.

Gideon het probeer om uit Pretoria te ontsnap om by generaal De la Rey aan te sluit. Op 2 Maart 1901 het hy deur die doringdraad en Britse magte gekom, maar teen die oggend was hy aan die rand van ’n groot konflik tussen De la Rey en die Britte, met die Britte tussen hom en De la Rey, en hy is maar weer terug deur die doringdraad na Pretoria.


Gideon se graf op Hendrina
Bron: eGGSA


Ná die oorlog is Gideon in 1903 terug na Delagoabaai om sy instrumente te gaan haal. Daar was ’n karnaval aan die gang en iemand het kalk in sy oë gegooi wat tot feitlik volslae blindheid gelei het. Ná mediese behandeling het hy darem ’n kwart van die sig in sy regteroog teruggekry en kon met ’n dubbele vergrootglas en sterk bril met groot moeite lees. Met sy neus amper teen die papier kon hy vyf of ses letters op ’n slag sien.

Gideon kon nie meer ’n landmeter wees nie en hy het voltyds begin skryf. ‘Dierestories’ verskyn in 1907 en voer lesers terug na die tyd toe “diere nog gepraat het”. Van die bekendste van dié stories gaan oor die onnosele wolf wat gewoonlik deur die slim jakkals uitoorlê word.


Bettie se graf op Robertson met die van se nuwe spelling
Bron: eGGSA

Hy het die materiaal vir ‘Dierestories’ en ‘Boesmanstories’, wat vertellings, uitdrukkings en gesegdes van die Khoi-Khoi en San bevat, grootliks in sy tyd as landmeter versamel. ‘Jakob Platjie’, karaktersketse uit die volkslewe van die Khoi-Khoi, Korannas en San, kom uit sy tyd as 11 jarige saam met sy pa in die Boesmanland en is van 1912 tot 1914 in ‘Ons Klyntji’ gepubliseer, later in ‘Die Brandwag’ en daarna as ’n boek.

‘Ons geselstaal’ kom ook uit aantekeninge wat hy gemaak het in sy omswerwinge deur die lengte en breedte van die land. Hier deel hy interessante anekdotes oor die ontstaan van ’n groot aantal gesegdes.


Gideon Retief von Wielligh
Bron: wikitree.com

Vele ander boeke volg en Gideon is in 1922 as erelid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns verkies. In die 1920’s is hy in die polemiek rondom PC Schoonees se proefskrif, ‘Die prosa van die Tweede Afrikaanse Beweging’, ingesleep. Langenhoven het Schoonees verkwalik vir sy negatiewe oordeel oor Gideon se werk. Gideon het in ‘Die Huisgenoot’ van Januarie 1923 beswaar gemaak teen die manier waarop sy werk bespotlik gemaak is.


‘Dierestories’
Bron: antiquarianauctions.com

Brief
In ’n private brief (12 Februarie 1925) aan PC Schoonees, skryf Gideon: “Ek het ’n ander klas lesers onder hande wat van kuns geen besef het nie en ek gee my ook nie uit as kunstenaar nie.”

“En stop hul my eendag onder die grond, dan is die kers van die ou Taalbeweging meteens uitgeblaas; maar ons ou garde se eienaardighede sal voort bly bestaan solank daar ’n Afrikaanse letterkunde is, want ons volg die idioom en vertel ’n verhaal in die woorde soos ons volk praat. Terwyl die nuwe rigting is om iets voor te stel en nie te vertel nie. En deurdat ons die geselstaal volg, skryf ons soos die mense praat en bedien ons nie van kuns nie.’


Boesman-Stories
Bron: gutenberg.org

Gideon het sy laaste jare op sy jongste broer, Marthinus, se plaas naby Hendrina deurgebring. Op gevorderde leeftyd het hy ‘Eerste skrywers’, sy herinneringe aan die Genootskap van Regte Afrikaners en die stryd vir Afrikaans, geskryf.

Hy is op 9 Augustus 1932 op sy broer se plaas oorlede en met sy heengaan het “die laaste stem van die Genootskap van Regte Afrikaners” verdwyn.

 

© 2024 Die/The Bronberger