Die storie agter die sterrewag op Waterkloofrif Print E-mail
News - Toeka se dae
Saturday, 23 March 2024 08:00
Untitled Document

Angie Kleijn

Ry jy met Johan Rissik-rylaan in Waterkloofrif gaan jy so paar kilometer voor die ou Fort Klapperkop deur klippilare wat lees: “The Observatory Gates – 1948”. Dié hekke het eens gelei na die 25 hektaar grootte stuk grond op Waterkloofrif wat die destydse Pretoriase Stadsraad aan Radcliffe Sterrewag gebied het.

Hier het bekendes en beroemdes met die grootste teleskoop in die suidelike halfrond na die hemelruim gestaar. Ons vertel die storie van sy begin in die 1700’s in Oxford, Brittanje en eindig hom af met die tragiese dood van die sterrekundige wat eens op dié rif aan die stuur van sake gestaan het.


Radcliffe Sterrewag in 1970
Foto: Patrick Moore, The Astronomy of Southern Africa

Nalatenskap
Die Radcliffe Sterrewag is in 1771 by Oxford Universiteit deur trustees van die nalatenskap van
dr John Radcliffe (1652 – 1714) gestig. Dr John was ’n suksesvolle mediese praktisyn in Londen. Sy naam word ook verbind aan die Radcliffe-kamera en die Radcliffe Siekeboeg.

Dié sterrewag was vir ’n eeu en ’n half hoofsaaklik besig om die posisies van sterre op te teken. In 1924 het Harold Knox-Shaw (1885 – 1970) die hoofwaarnemer geword. Met sy belangstelling in astrofisika en omdat hy voorheen in Egipte gewerk het, het hy ’n veldtog begin om die sterrewag na die suidelike halfrond te skuif.


Die sterrewag-hekke met die datum 1948
Bron: Igmar

Teen die 1930’s het ligbesoedeling en rookmis waarnemings by Oxford bykans onmoontlik gemaak. Harold Knox-Shaw, wat toe die direkteur was, het besluit om die instituut na die Unie van Suid-Afrika te skuif. In 1934 het die Radcliffe trustees die gebou verkoop – vandag vorm dit deel van die Green Templeton-kollege by die Universiteit van Oxford – en die trek het in 1935 begin.

Die tweede assistent, mnr EG Williams het op die nuwe perseel op gedeelte 11 van die plaas Groenkloof 358 JR, Waterkloofrif, ingetrek ná die eerste geboue voltooi is. Teen 1938 is die sterrewag-gebou met ’n hoë-tegnologie roterende koepel op Waterkloofrif voltooi. Die hoofassistent, dr RO Redman, het in Engeland agtergebly om toesig oor die vervaardiging van die apparaat en bybehore te hou.


Binne-in die koepel
Bron: Hein van der Merwe

Vertraging
Die teleskoop het eers ’n dekade later, in 1948, in Pretoria aangekom. Die vertraging was aanvanklik weens regsaangeleenthede te doen met die oordrag van die Radcliffe liefdadigheidsfonds na ’n vreemde land. Ná die saak gewen is, het die sterrewag die opbrengs van die verkoop van die Oxford-eiendom gebruik om ’n massiewe teleskoop van 1,9 meter in deursnee, te bestel.

Corning Glass in Amerika was nog besig om die twee-ton optiese spieël te vervaardig toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek en enige verdere vordering was van die baan.


Die administrasieblok in die 1930’s
Bron: Strategic Environmental Focus, Augustus 2010

Toe hy uiteindelik voltooi is, was die reuse teleskoop die grootste teleskoop in die suidelike halfrond en die vyfde grootste in die wêreld. ’n ‘Moderne’ spektograaf was eers in 1951 beskikbaar.

Die nuwe Radcliffe Sterrewag was tegnies baie gevorderd en sterrekundiges van dwarsoor die wêreld het daar besoek afgelê. Die teleskoop kon oorgeskakel word tussen optiese en spektrografiese werk, die gebou was geïsoleer en die temperatuur is beheer om dwarsdeur die jaar dieselfde te bly. ’n Meganisme wat geleidelik roteer om die reuse teleskoop die hemelruim te laat waarneem, was haarfyn deur die vibrasies van ’n stemvurk beheer.


Die koepel
Bron: Strategic Environmental Focus, Augustus 2010

Andrew
Andrew David Thackeray is aan die begin van 1948 as hoof-assistent aangestel. Hy was ’n briljante wetenskaplike en ’n spesialis in spektrografie. In 1950 het hy die hoofwaarnemer geword en toe Harold Knox-Shaw in 1951 aftree, het Andrew direkteur geword, ’n pos wat hy tot 1974 beklee het.

Andrew is op 19 Junie 1910 in Chelsea, Londen gebore. Hy was in die bekende skool, Eton, en daarna by King’s College, Cambridge. Sy pa was die klassieke geleerde, Henry St John Thackeray, en sy ma was Lucy Elizabeth Orr. As ’n kind is sy belangstelling in sterrekunde geprikkel deur sy oom, John Evershed, ’n sterrekundige wat in sonnestelsels gespesialiseer het, en sy tannie, Mindie Orr, die skrywer van ’n gewilde boek oor sterre van die suidelike halfrond.


Die teleskoop by die Radcliffe Sterrewag in Pretoria, afgeneem terwyl dit opgestel is
Bron: Hein van der Merwe

Andrew is in 1944 by Weston-Super-Mare, Somerset, Engeland met Mary Howarth, ’n nooi Rowlands, getroud en hulle het vier kinders, twee dogters en twee seuns, gehad.

Met sy aankoms in Pretoria het Andrew, soos die meeste van die ander wetenskaplikes, in ’n amptelike huis op die sterrewag se perseel gewoon. Die baie klein operasionele begroting het beteken dat administratiewe sake tot ’n minimum beperk is en groepies entoesiastiese werkers het sommer in die gange besprekings gehou.


Andrew David Thackeray
Bron: Astrophysics and Space Science 60 (1979)

Seun
Andrew het ’n baie noue band met sy seun, John Francis, gebore op 21 November 1952, gehad. ’n Swart-en-wit foto van geskiedkundige belang, wat John Francis geneem het, bestaan vandag nog. Dit is in 1965 met ’n eenvoudige kamera sonder ’n lens, maar met ’n piepklein opening (“pin-hole” kamera) geneem en wys die Radcliffe Sterrewag soos gesien deur Andrew se kantoorvenster.

Andrew was besig om sy seun die tegnieke om swart-en-wit foto’s te prosesseer te leer – nie net van landskaptonele nie, maar ook van die spektra van sterre (opgeneem op glas emulsie plate). John Francis het ook elke nou en dan as ‘nag-assistent’ vir sy pa gedien.


Die foto wat John Francis Thackeray as kind met die spesiale kamera uit sy pa
se kantoorvenster geneem het
Bron: Wikitree

Andrew het nou saam met die internasionaal bekende sterrekundige, Theodore Walraven, gewerk. Theodore was betrokke by die Broederstroom-perseel van die Unie Sterrewag, wat deur Leiden Universiteit bedryf is. John Francis het gereeld saam met sy pa soontoe gegaan, waar hy die vroeë ystertydperk-perseel verken het. Dit het sy belangstelling so geprikkel dat hy uiteindelik ’n loopbaan as ’n vooraanstaande argeoloog en paleo-antropoloog gevolg het.

Met ’n string grade agter sy naam, onder andere van Yale Universiteit, het hy hoof van die departement paleontologie en paleo-omgewingstudies by die Transvaal-museum in Pretoria geword. Hy was ook die eerste direkteur van die instituut vir menslike evolusie by Wits Universiteit.


Mary Howarth Thackeray
Bron: funeral-notices.co.uk

John Francis is op 8 Desember 1976 met Anne Hogan-Fleming getroud en hulle het ’n seun, Henry Robert.

Sy pa, Andrew David Thackeray, se baanbrekerswerk by Radcliffe Sterrewag het wêreldwyd bekend geraak. Dit waarvoor hy die beste onthou sal word, is wat nou as Thackeray’s Globules bekendstaan – donker gasbondels in die Magellaanse Wolke, waaruit hy kon aflei dat die heelal twee keer so oud is as wat voorheen geskat is.


Die oorspronklike perseel van die Radcliffe Sterrewag vorm vandag deel van
Green Templeton-kollege by die Universiteit van Oxford
Bron: Wikipedia

Besoedeling
Ligbesoedeling het toegeneem soos Pretoria aanhou uitbrei het en die Radcliffe Sterrewag het gesluit om in 1974 met die Koninklike Sterrewag, Kaap van Goeie Hoop saam te smelt om die Suid-Afrikaanse Astronomiese Sterrewag te vorm.

Die Radcliffe trustees het die teleskoop en bygaande instrumente aan die Suid-Afrikaanse Raad vir Wetenskaplike en Industriële Navorsing verkoop om by die Suid-Afrikaanse Astronomiese Sterrewag in Sutherland onder die destydse direkteur, Richard Woolley, gebruik te word.

Andrew het die Radcliffe professor van sterrekunde aan die Universiteit van Kaapstad geword. ’n Paar dae voor sy dood het hy ’n assosiaat van die Koninklike Astronomiese Verenging geword.


Die ou sterrewag se hekke in Johan Rissik-rylaan, Waterkloofrif
Bron: Google Maps

Andrew is op 21 Februarie 1978 in ’n motorongeluk oorlede toe hy terug gekeer het van ’n besoek aan Sutherland. Hy was die laaste van die sewe Radcliffe-waarnemers in die 200 jaar tradisie wat in Oxford begin het.

Sy vrou, Mary Howarth Thackeray, is op 24 Julie 2006 by Moreton-in-Marsh, Engeland oorlede. Haar begrafnis-kennisgewing het gesê dat sy oorleef word deur Ruth, Amanda, Michael en Lisa, Francis en Anne en deur kleinkinders Caryn en Mike, Anna, Lara en Henry.


John Francis Thackeray in 2016
Bron: Wikimedia

Perseel
Suid-Afrikaanse verdedigingintelligensie het die perseel van die Radcliffe Sterrewag in Waterkloofrif in Junie 1975 oorgeneem. Die perseel is deur die destydse minister van verdediging, PW Botha, geopen.

Die sirkelvormige gebou waarin die teleskoop was, bekend as die koepel, is opgeknap en in ’n konferensiesentrum omskep. Die res van die geboue het die kampus vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Verdedigingskollege geword.

In Augustus 2010 het Strategic Environmental Focus ’n fase een kultuur-erfenis impakstudie op dié perseel vir Kagiso Financial Services gedoen. Dié studie was nodig vir die konstruksie van die departement van verdedigingintelligensie se voorgestelde hoofkantoor-kompleks.

Geskiedkundige strukture uit die sterrewagdae, wat toe nog bestaan het, sluit in: die administrasieblok, die koepel, kleiner koepel, huis van Orion, huis van Sagittarius, huis van Icarus, klein woonstel en stalle.

Die geskiedenis van dié perseel is nie net in die name van die geboue weerspieël nie, maar ook in die kollege se embleem, die suiderkruis.

 

© 2024 Die/The Bronberger