Toeval vervleg twee immigrante se lewensverhale van Potch tot Pretoria Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 23 February 2024 08:00
Untitled Document

Angie Kleijn

’n Hollandse en ’n Duitse immigrant het saam die eerste private koerant in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) begin. Nie een van dié twee was koerantmanne nie, maar tog was hulle later onder die uitgelese geselskap wat kapitaal voorsien het om ‘De Volksstem’ in Pretoria te begin.

Dié is die verhaal van die Hollander Hendrik Christiaan Bergsma en die Duitser Friedrich Heinrich Jeppe, wat mekaar toevallig op Potchefstroom raakgeloop het en later albei belangrike rolle in Pretoria gespeel het.


Hendrik Christiaan Bergsma
Foto: Abraham Adrianus Vermeulen. Bron: RKD – Nederlands Instituut voor Kunstgeschiedenis

Hendrik
Hendrik Christiaan Bergsma is op 23 Julie 1829 op die dorpie Bunnik by Utrecht as seun van Theodoor Paul Bergsma en Christina Johanna, ’n nooi Casius, gebore. Hy het hom as koopman in Utrecht gevestig en het daar met Carolina Wilhelmina Walraven getrou. Sy is in 1832 by Djokja op Java in die Oos-Indies gebore. 

In die ‘Pretoriana’ van April 1988 skryf C de Jong dat Hendrik ná ’n briewewisseling met prokureur Vels op Fauresmith besluit het om na die Oranje-Vrystaat te emigreer. Hendrik en Carolina en hulle drie kinders het in 1861 vanaf Rotterdam met die ‘Zaanstroom’ na Kaapstad geseil. Hulle dogter, Christina Johanna Oceana, is met dié seilvaart gebore.

Die gesin het op 2 September 1861 in Kaapstad aangekom en dit het hulle 47 dae per ossewa gevat om Fauresmith te bereik. Die teleurstelling was groot en hulle het besluit om terug te keer na Kaapstad, maar ’n reisgenoot het hulle genooi om eerder eers by Potchefstroom aan te gaan, wat nader aan Natal is, vanwaar hulle na Nederland kan seil.


Hendrik as eerste konsul-generaal van Nederland in Transvaal (1888 – 1895)
Bron: Gedenkboek van de Nederlandsche Vereeniging te Pretoria

Die Bergsma-gesin het egter in Potchefstroom agtergebly. Hendrik het vir twee jaar by die handelaars Miller & Co gewerk en vir die Duitser Friedrich Heinrich (Fred) Jeppe, wat ook toe in die handel betrokke was, ontmoet. Dié twee het die tweetalige weekblad, ‘Transvaal Argus’, op 8 Mei 1866 as die heel eerste private koerant in die ZAR begin. Hendrik het die Nederlandse deel geredigeer en Fred die Engelse deel. Die drukker was P Borrius.

Die koerant was nie ’n finansiële sukses nie en het in Julie 1867 sy deure gesluit. Tog bevat dit ’n reeks artikels met waardevolle geografiese en ander inligting oor die ou ZAR.


Friedrich Heinrich Jeppe
Bron: Posmuseum, Pretoria

Fred
Fred is op 25 Julie 1834 in Rostock, Duitsland as die seun van Carl Friedrich Wilhelm Jeppe en Magdalena Anna Carolina, ’n nooi Westphal, gebore. In Januarie 1861 het hy saam met sy suster Francisca en haar man, kaptein Dietrich, Durban toe geseil. Hy het in April in Durban aangekom en het na Potchefstroom gereis om by sy oudste broer, Hermann Jeppe, aan te sluit. Nog ’n broer, Julius Jeppe, het in 1870 gevolg.

Fred het op 28 Desember 1863 op Rustenburg met Susanna Wilhelmina Truter getrou en hulle het vier dogters en twee seuns gehad. Hy is op 26 Desember 1866 as posmeester van Potchefstroom aangestel. In Desember 1867 het hy waarnemende posmeester-generaal van die ZAR geword.

Fred het in sy leeftyd die vernaamste kartograaf in die ZAR geword. Sy eerste kaart van Transvaal is saam met sy artikel, ‘Die Transvaal'sche oder Süd-Afrikanische Republik beschrieben’, in 1868 in ‘Petermanns Geographische Mitteilungen’ gepubliseer.

In 1868 is Fred as posmeester-generaal aangestel, maar het ook posmeester van Potchefstroom gebly. Hy het poskarre op die hoofpaaie van Pretoria na die Kaapkolonie, Oranje-Vrystaat en Natal ingestel.


Fred Jeppe toe hy in 1867 posmeester-generaal van die ZAR was
Bron: Wikipedia

Kort na sy aanstelling het hy stappe begin neem om die gebruik van posseëls in die ZAR in te voer. Hy het self die ontwerp geteken en in 1869 het Fred die eerste Transvaalse seëls in Duitsland laat druk.

Hy het in 1871 tesourier-generaal van die ZAR geword en weens die verskuiwing van die standplaas van die posmeester-generaal van Potchefstroom na die regeringsetel in Pretoria, is Fred in Maart 1874 as posmeester van Pretoria aangestel. 

Intussen het dr Rutherford in 1871 ’n pro-Britse koerant, ‘Transvaal Advocate’, gestig. President Thomas Francois Burgers wou ’n pro-republikeinse koerant stig en in 1873 is die kapitaal daarvoor byeengebring deur staatsekretaris NJ Swart, staatsprokureur J Buchanan, Fred Jeppe as posmeester-generaal en Hendrik Bergsma as posmeester.

Die eerste uitgawe van ‘De Volksstem’ het op 8 Augustus 1873 in Pretoria verskyn.


“Jeppe’s Map of the TRANSVAAL S. A. Republic and Surrounding Territories”
Bron: antiquarianauctions.com

Pretoria
Hendrik Bergsma het in 1865 sekretaris van die Volksraad van die ZAR geword, wat afwisselend in Potchefstroom en Pretoria vergader het. Hy is in 1867 as plaaslike landdrosklerk en openbare aanklaer aangestel en het Fred as posmeester van sy dorp opgevolg.

In 1872 het president Burgers vir Hendrik as ouditeur-generaal aangestel en in 1873 as weesheer. Hendrik en sy gesin het toe na Pretoria verhuis en hy het soms as veilingmeester opgetree.


President Thomas Francois Burgers
Bron: dbnl.org

Fred Jeppe het in 1874, op grond van sy aardrykskundige publikasies, ’n genoot van die Royal Geographical Society geword en het dieselfde jaar as tesourier-generaal uitgetree. Op 7 April 1875 is sy uittrede as posmeester-generaal en posmeester van Pretoria aangekondig.

In 1877 het Fred se ’n artikel oor sy kaart van Transvaal in die ‘Quarterly Journal of the geological Society of London’ verskyn. Daardie selfde jaar het hy sy eerste ‘Transvaal book almanac and directory’ uitgebring. Bygewerkte uitgawes het later verskyn en, met sy seun Carl as medewerker, het hy sy kaart en ’n indeks tot sy kaart laat publiseer.

Fred het op 16 April 1878 ook vertaler en tolk van die hooggeregshof geword.


Catharina Maria Anna Stiemens, gebore Bergsma (1858 – 1912)
Bron: eggsa.org

Terug
In die anneksasietyd onder Britse bestuur, ná 12 April 1877, het Fred se destydse vennoot, Hendrik, enkele male ook as waarnemende magistraat opgetree. Hendrik het op 1 Mei 1878 as ouditeur-generaal bedank. Hy het tot Augustus 1880 as waarnemende weesheer aangebly en is daarna saam met sy vrou, Carolina, en vyf van hulle kinders terug Nederland toe omdat sy ma siek was.

Hulle het vir sewe jaar in Utrecht gewoon en het in dié tyd na sy vrou se geboorteland in die Oos-Indies gereis. Hendrik is ingevolge Koninklijk Besluit No 7 van 16 Maart 1888 tot konsul-generaal van Nederland vir die ZAR te Pretoria benoem. 


Hotel de Hollande, Montreux in Switserland ongeveer in 1900
Bron: ebay

Carolina is op 8 November 1892 in Pretoria oorlede en begrawe. Hendrik het in 1895 afgetree en het hom in die Hotel de Hollande by Montreux in Switserland gevestig, waar hy op 15 Junie 1899 in die ouderdom van 70 jaar oorlede is.

Sy destydse vennoot, Fred, is 11 maande voor hom oorlede. Ten tyde van sy dood was hy besig met ’n kadastrale kaart van Transvaal, wat kort voor die Anglo Boere-oorlog in Switserland gedruk is. Dié kaart is in die oorlog deur die Britse en Boeremagte gebruik.

Fred het op 8 Julie 1898 op kantoor siek geword. Hy is nege dae daarna op 17 Julie 1898 weens ’n lewerkwaal oorlede. Fred is in die Ou Kerkhof, Pretoria begrawe en onder die draers was van die dorp se invloedrykste burgers. 

Die nedersetting, Jeppes Reef, 25 km suidoos van Kaapmuiden en 42 km oos van Barberton is na Fred genoem. 


‘The Transvaal Argus’
Bron: readex.com

Kinders
In die ‘Pretoriana’ van April 1988 skryf C de Jong dat Hendrik en Carolina Bergsma ses kinders gehad het, waarvan drie hulle op Java gevestig het en drie in Pretoria gebly het en ’n nageslag in Suid-Afrika agtergelaat het.

Die inligting oor die kinders het in 1894 so gelyk: Theodoor Carel is in Pretoria gevestig. Catharina Maria Anna is getroud met Frits Casper Stiemens, seun van Hendrik Stiemens, die eerste goewermentsonderwyser in Transvaal, en hy is in 1913 as staatsamptenaar en inwoner van Pretoria aangedui.


‘De Volkstem’, vroeër ‘De Volksstem’ 
Bron: Wikipedia

Jelle Roelofs het op Malang, Java in die Nederlands Oos-Indies gewoon. Christina Johanna Oceana, gebore onder seil van Rotterdam na Kaapstad, is met Hendrik Elink Schuurman getroud en het by Malang op Java gewoon.

Willem Bernardus het by Blitar op Oos-Java gewoon. Jacoba Clara was in 1894 nog nie mondig nie en ongetroud en sou haar pa in haar minderjarigheid doodgaan, sou sy onder voogdy van haar swaer Frits C Stiemens in Pretoria wees. Frits was in 1899 die eksekuteur van Hendrik se boedel. 

 

© 2024 Die/The Bronberger