’’As dié mure kon praat’’ – geskiedkundige hotel se verlede word lewendig Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 26 January 2024 22:00
Untitled Document

Angie Kleijn

Al ooit gewonder waar al die Van der Merwe-grappies vandaan kom? Ons almal ken die stereotipe van dié soort grap en sal glad nie verras wees om te hoor dat die oorsprong daarvan by ’n kroegtoonbank gevind kan word nie. Wat ons dalk nie sou verwag nie, is dat dit ’n Pretoriase kroegtoonbank was.

Dit was die jaar 1959. Die splinternuwe oostelike vleuel van ’n bekende hotel op die dorp is pas voltooi. Dié vleuel was onder andere die tuiste van die Norman-kroeg en die jong argitekte wat die vleuel ontwerp het, het ’n ondersteuningspilaar in die middel van die private kroegtoonbank gesit.


Die bord voor die hotel lees ‘Vlootmenasie / Naval Mess’
Bron: Scientia Militaria, South African Journal of Military Studies, Vol 14, Nr 1, 1984

In dié pilaar was daar ’n spyker gekap en die bouvoorman, genaamd Van der Merwe, het altyd sy jas aan dié spyker gehang. Enige iemand wat na hom op soek was, het by die pilaar gewag tot hy opdaag en die pilaar is mettertyd na hom vernoem.

Die pilaar was ’n bietjie van ’n beslommernis ná die oostelike vleuel voltooi is, maar die naam het gebly en diegene wat nonsens gepraat het, is daarheen gestuur om “met Van der Merwe te gaan praat”. ’n Mens kan net dink hoe ’n samekoms van ’n klomp van dié nonsenspraters by die kroegtoonbank sou afloop.


John Johnston Kirkness
Foto: aboutorkney.com

Dié inligting (nie die bespiegeling nie) kom uit senior luitenant JD Bredenkamp se vertellinge oor die geskiedenis van die vloot-menasie – voorheen die Union Hotel – in ‘Scientia Militaria, South African Journal of Military Studies’, Vol 14, No 1, 1984.

Dié hotel-perseel in Kerkstraat het ’n geskiedenis wat teruggaan na Pretoria se beginjare en ’n hotel is juis daar gevestig en Union Hotel genoem om as verblyf te dien vir die werkers wat van 1910 tot 1913 by die Uniegeboue se konstruksie betrokke was.


Die oorspronklike hotel van naderby
Bron: Poskaartversameling van dr Udo Küsel

JD Bredenkamp se navorsing sluit die vroeë grondeienaars van die perseel in. Mevrou
ACE Ziervogel het erwe 591, 592, 598 en 599 op 18 Junie 1898 vir £2 315 aan die boedel van wyle William C Faure verkoop.


Oostelike aansig op die Union Hotel met die ‘Union Buildings Supply Store’ langsaan
Bron: Poskaartversameling van dr Udo Küsel

Kirkness
William Nottingham, wat erwe 599 en 598 uit William C Faure se boedel gekoop het, het erf 599 op 10 Mei 1906 vir £800 aan die Skot, John Johnston Kirkness, verkoop. William was ’n bouer en het onder andere die Poskantoorgebou op Kerkplein gebou.

John Johnston Kirkness en sy vrou Mary het in 1885 in Pretoria aangekom. Hier het hy so baie geboue opgerig, dat hy besluit het om sy eie baksteenfabriek aan te skaf. In 1888 het die firma wat Groenkloof Baksteen, Teël en Pottebakkerswerke (Groenkloof Brickfields) besit het, bankrot gespeel. John het oorgeneem en die plek na JJ Kirkness herdoop.


Noordelike aansig
Bron: Poskaartversameling van dr Udo Küsel

Die steengroef, baksteenoonde en hulle swart gebrande skoorsteenstapels was waar George Storrarweg nou is, op pad na Fonteinesirkel. Vandag is die historiese ou fabriek afgebreek, die steengroef is opgevul en die sportgronde van die Universiteit van Pretoria se Opvoedkunde-fakulteit in Groenkloof is bo-oor dit gebou.

Onder John se eienaarskap het die baksteenwerke enorme sukses behaal en sy bakstene en teëls is in baie van Pretoria se ou geboue gebruik – van die Raadsaal, Ou Staatsmunt en die Nasionale Bank op Kerkplein tot die eerste gebou van die Landbank, die Sammy Marks-gebou, Union Hotel en Uniegeboue.


Die foto is in 1979 geneem toe die Union Hotel die vlootmenasie geword het
Bron: SA Weermagvereniging

Poskaarte
Dr Udo Küsel se historiese poskaartversameling wys hoe die perseel, waar die Union Hotel later gestaan het, toentertyd gelyk het. ’n Geïsoleerde gebou, wat eens ’n skool was, staan onder Meintjeskop en bestaan uit ’n houtraamwerk bedek met sink en ’n stoep aan vier kante.

Die gebou was binne loopafstand van die Uniegeboue se konstruksieperseel. Toe die aanvraag vir verblyf vir die baie werkers aan die Uniegeboue duidelik raak, het Philip Lapin vir ’n hotellisensie aansoek gedoen. Philip het in 1890 as spysenier by sy Bodega-kroeg in Markstraat begin. Hy het ’n tydelike lisensie gekry en het die skoolgebou in ’n hotel omskep.


Die ingang na die ‘nuwe’ hotel
Bron: Scientia Militaria, South African Journal of Military Studies, Vol 14, Nr 1, 1984

Dié gebou het in Julie 1913 afgebrand, maar die hotellisensie was nog geldig. Die nuwe eienaar het aansoek gedoen om die lisensie oor te dra na ’n nuwe hotel, wat hy op die perseel wou bou, maar sy aansoek is op 22 September 1913 afgekeur.

William Nottingham het erf 598 op 4 November 1923 vir £4 000 aan John Johnston Kirkness, wat reeds erf 599 besit het, verkoop. John en William Millar het ’n nuwe onderneming, Union Mansions Beperk, op 26 Mei 1924, daargestel.


Argitek George Esslemont Gordon Leith 
Bron: ww1cemeteries.com

William was ook ’n Skot en het in 1887 in Pretoria aangekom waar hy die bekende William Millar & Co winkel (stoffeerders, hoedemakers en uitrusters) oor baie jare op verskeie persele bedryf het. Ná sy aftrede in 1921 is die onderneming deur AE Reich oorgeneem, wat later in vennootskap met John Garlick gegaan het en die nuwe winkel, wat ons as Garlicks onthou, op die hoek van Kerk- en Van der Waltstraat gebou het.

John en William se onderneming, Union Mansions, het die erwe op 27 Mei 1924 vir £32 500 by John gekoop. John se seuns, Tom en John Niven Kirkness, en ’n mejuffrou JN Gilchrist het later as aandeelhouers by dié oorspronklike twee direkteurs aangesluit.


Die JJ Kirkness-baksteenfabriek in 1940. Klapperkop is links agter en Skanskop is regs
Foto: Martin Gibbs

Bouwerk
Bouwerk het reeds in 1923 begin en omdat John die hoofkontrakteur was en bakstene voorsien het, is die projek in 1925 onder toesig van Alex Grand (wat later provinsiale raadslid in die Transvaalse Provinsiale Administrasie geword het) voltooi.

Die argitek van dié nuwe hotel op die perseel tussen Hamilton- en Leydstraat in Kerkstraat was George Esslemont Gordon Leith, wat sy loopbaan begin het deur vir Herbert Baker, argitek van die Uniegeboue, te werk.


Die hoeksteen van die Uniegeboue word gelê
Bron: Heritage Portal via ARRA

Sy werk sluit in die Calais Suidelike Oorlogbegraafplaas in Frankryk, die Barclays Bankgebou op Kerkplein, Johannesburg se Park-stasie, Bloemfontein se stadsaal, die Suid-Afrikaanse Reserwebank in Johannesburg en die Koningin Victoria-hospitaal in Johannesburg.

George het die Union Mansions met twee-slaapkamer woonstelle en suites ontwerp. In 1930 is uitbreidings, wat nuwe kamers en ’n kroeg ingesluit het, gedoen en die naam is van Union Mansions na Union Hotel verander.


Die Atlas-standbeeld word bo-op die toring by die Uniegeboue gehys
Bron: Heritage Portal via ARRA

Mense
Die naam van die hotel se eerste bestuurder is onbekend, maar hy is in 1928 opgevolg deur
AL Nixon, wat in 1919 van Brittanje af in Pretoria aangekom het. Hy is in Julie 1938 opgevolg deur die assistent-bestuurder, P Herbst van Suid-Wes Afrika, wat toe nog bykans heeltemal Duits was. So rukkie ná die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, is hy afgedank en ’n nuwe bestuurder,
LD Vynne, is in Julie 1940 aangestel met ’n salaris van £50 ’n maand met gratis verblyf, etes, wasgoed en 14 dae verlof ’n jaar.

Die voorsitter van die maatskappy, John Johnstone Kirkness, is in Junie 1939 oorlede en sy seun, TG Kirkness, is as voorsitter gekies.


Die Union Hotel met sy lang toegangspad suid van Meintjeskop
Bron: Poskaartversameling van dr Udo Küsel

In dié tyd is woonstelle teen £37.10 ’n maand uitgehuur vir twee mense of £45 ’n maand vir drie mense met alle maaltye ingesluit. Die hotel het £1 ’n maand vir parkering gevra en het £20 ’n jaar op advertensies in verskeie publikasies spandeer.

Union Hotel is as ’n duur hotel bestempel en in die oorlog het die prys van voedsel en ander noodsaaklikhede geweldig gestyg. Weens verskepingsprobleme was die gewilde soorte whiskey skaars en die bestuurder is gevra om voorraad van omtrent £1 000 – ’n onaardige bedrag in daardie dae – gereed te hou. Dié bedrag is verhoog toe alle whiskey-produksie in Skotland opgehou het.


Samuel en Frieda Gavronsky
Bron: MyHeritage.com

Verkoop
Die finansiële las het te groot geword en die direksie het die hotel op 13 Maart 1942 vir £65 000 aan Samuel Gavronsky en Percival Hirch Harris verkoop. Daarvan is £23 000 in kontant betaal en die res in 42 jaarlikse paaiemente.

LD Vynne is as hotelbestuurder behou en sy salaris is na £65 ’n maand plus £3 ’n maand vir reiskostes verhoog. Hy is in Maart 1944 met AF Quirk vervang.


Helen Suzman
Bron: Wikimedia

In 1948 is die Nasionale Party met dr DF Malan as leier ingestem. Hy het in die Union Hotel gebly waar daar oor die samestelling van die nuwe kabinet besluit is.

’n Nuwe bestuurder, NY Roberts, ’n Springbok kleiduif-skut, is op 20 September 1951 aangestel saam met ’n mevrou Roberts as boekhouer. Hulle gesamentlike salaris was £80 ’n maand met ’n begroting van £15 vir ‘vermaak’.

Die maatskappy se naam is op 23 Julie 1953 na Union Hotels (Eiendom) Beperk verander. In September daardie jaar het Samuel Gavronsky en Percival Hirch Harris ’n onderonsie gehad en ná ’n lang bespreking is daar besluit dat Percival die Natalse belange (aandele in Balmoral Holding, Metropole Hotelle en Union Hotel Eiendomme) sou koop. Die vennootskap is beëindig en Samuel het die enigste direkteur van Union Hotel geword.


Uniegeboue en tuine in 1920
Bron: Heritage Portal via ARRA

Vleuel
Die nuwe oostelike vleuel van die hotel is in Julie 1959 deur die administrateur van Transvaal,
FH Odendaal, geopen. Dit het restaurante (en die kroeg waar Van der Merwe se pilaar was) ingesluit.

Samuel Gavronsky is in 1965 oorlede en sy twee dogters, die bekende politikus Helen Suzman en mev G Posel, het direkteurs van Union Hotels (Edms) Bpk geword.

Die departement van gemeenskapsontwikkeling het die hotel op 2 Januarie 1979 namens die Suid-Afrikaanse vloot aangekoop. Dit is amptelik op 24 Augustus 1979 as vloot menasie deur die destydse hoof van die vloot, vise-admiraal JC Walters, geopen.

 

© 2024 Die/The Bronberger