’n Griek, Nicolas die Wonderwerker, was die ware Sinterklaas Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 20 December 2023 08:00
Untitled Document

Angie Kleijn

Hoor die woord ‘Sinterklaas’ en jy sien ’n jolige vet omie in ’n rooi uitrusting met ’n lang wit baard en bolwange in jou geestesoog. Die ware Sinterklaas was ’n monnik en word gesien as die beskermheilige van matrose, kinders, wolwe, boogskutters, berouvolle boewe, ongetroude mense, studente en pandjies-handelaars.


’n Groot, 184 cm hoë ikoon van Sint Nicolaas is in 1294 vir die Lipno Kerk geverf
Bron: Wikipedia

Eeue na sy dood loop die legendes steeds oor hoe hy ’n woeste storm kalmeer het om matrose te red en geld geskenk het aan ’n pa wat gedwing sou wees om sy dogters as prostitute te laat werk. Die bekendste legende vertel hoe hy drie seuntjies, wat ’n wrede slagter in ’n hongersnood opgekap het om as varkvleis te verkoop, weer lewend gemaak het.


Thomas se Sinterklaas het ’n kenmerkende blaartjie op sy mus gehad
Bron: art.com

Hoe op aarde het dit gekom dat dié legendariese figuur aan die Amerikaners se Santa Claus verbind is? Die antwoord kom uit die vroeë Hollandse setlaars in New York. Die Hollanders vier die fees van Sinterklaas of Sint-Nicolaas, ‘De Goede Sint’ of ‘De Goedheiligman’ op 6 Desember. Die fees is jaarliks op die aand van 5 Desember in Holland afgeskop met die gee van geskenke. In België, Luxemburg, westelike Duitsland, noordelike Frankryk en Hongarye gee hulle geskenke op die oggend van 6 Desember.


Sint Nicolaas gee nuwe lewe aan drie seuntjies, wat deur ’n wrede slagter opgekap is. Dié illustrasie is uit ‘Grandes Heures d`Anne de Bretagne’ (tussen 1503 en 1508)
Bron: Wikipedia

Kouse
Die Hollanders wat na New York geïmmigreer het, het kouse opgehang om hulle geskenke die aand van 5 Desember te ontvang. In sy fantasieboek, ‘A History of New York’, wat op 6 Desember 1809 gepubliseer is, skryf Washington Irving, onder die skuilnaam Diedrich Knickerbocker, dat Sinterklaas met ’n wa “bo oor die bome” ry om geskenke in dié kouse te gaan sit.


Clement Clarke Moore
Bron: Wikipedia

Die Hollandse Sinterklaas het glo die Amerikaanse Santa Claus geword danksy ’n New Yorkse drukker, William Gilley, wat in 1821 ’n anonieme kinderboek-gedig gepubliseer het. Dié gedig verwys na ‘Santeclaus’ wat met ’n slee, wat deur ’n enkele rendier getrek word, ry.

Op 23 Desember 1823 is die Kersgedig, ‘A visit from St Nicholas’, vir die eerste keer anoniem gepubliseer. Die gedig het later beter bekend geraak vir sy openingslyn, “Twas the night before Christmas”.


’n Vollengte ikoon deur Jaroslav Čermák wys Sint Nicolaas met ’n stralekrans
Bron: Wikipedia

Die Amerikaanse skrywer, Clement Clarke Moore, het in 1837 outeurskap van dié Kersgedig erken, en dié feit is nie in sy leeftyd betwis nie, maar wel ná sy dood toe ’n teenstaander ook op outeurskap aanspraak gemaak het. Geleerdes stry steeds hieroor.

Clement het die bestaande tradisies van die tyd ’n bietjie verander – geskenke word nie meer op die aand van 5 Desember gegee nie, maar op Oukersaand. Vir die eerste keer het “St Nick” agt rendiere, elk met sy eie naam, en die wa het in ’n slee verander.


Thomas Nast se oorspronklike Burgeroorlog Kersvader-tekening in ‘Harper’s Weekly’. Die kleiner prentjies wys tipiese 1860 Kersfees-tradisies
Bron: www.lambiek.net/artists/n/nast_thomas.htm

Thomas
Tog het die jolige Sinterklaas met boepens en baard, soos ons hom vandag ken, vir die eerste keer in 1860 met die Amerikaanse Burgeroorlog sy verskyning gemaak. Met dié oorlog het Abraham Lincoln vir ’n politieke spotprenttekenaar, Thomas Nast, gevra om die Unie-troepe se gemoedere te lig met ietsie snaaks vir Kersfees. Sy skepping het sedertdien verstommend min verander en het wêreldwyd bekend geraak.


Dié skets met die stapel briewe van stoute kinders en soet kinders het in ‘Harper’s Weekly’
se 30 Desember 1871 uitgawe verskyn
Bron: fineartamerica.com – foto deur Granger

Thomas is op 27 September 1840 in Duitsland gebore en het baie Duitse Kersfees-tradisies, soos die Duitse verhale van Sint Nikolaas, die beskermer van kinders, ook bekend as ‘Sankt Nikolaus’ en ‘Weihnachtsmann’, geleen om ’n Sinterklaas te skep.


Thomas Nast
Bron: www.vintag.es

Sy gesin het na New York geïmmigreer toe Thomas nog ’n kind was. Toe hy 15 jaar oud was kon sy ouers nie meer bekostig om hom kunsskool toe te stuur nie en hy moes gaan werk soek. Sy eerste werk was by ‘Leslie’s Illustrated’ en hy het in 1859 vir ‘Harper’s Weekly’ begin teken.


’n Illustrasie uit ‘St Nikolaas en zijn knecht’ deur Jan Schenkman (1850)
Bron: Wikipedia

Thomas se eie kinders en sy huis in Morristown, New Jersey verskyn in baie van sy Sinterklaas-tekenings. Dit was hy wat Kersfees-stories, soos dié van ’n speelgoedwerkswinkel in die Noordpool, geskep het. Die soort speelgoed wat hy geteken het, is dié wat in die 1860s gewild was, soos speelgoedsoldaatjies, houtdiere, poppe en ’n jack-in-the-box (wat glo as ‘duiwel-in-’n-dosie’ vertaal moet word).


Thomas Nast se beroemde skets, ‘Merry Old Santa Claus’ het in die 1 Januarie 1881 uitgawe van ‘Harper’s Weekly’ verskyn
Bron: britannica.com

Monnik
Die werklike mens agter die Hollandse en Duitse tradisies van Sinterklaas was Sint Nicolaas van Myra, ’n Christelike monnik van Griekse afkoms, wat in die tyd van die Romeinse Ryk geleef het. Die Katolieke en Oosterse Ortodokse kerke vier sy sterfdatum op 6 Desember. Daar word gesê dat hy op 15 Maart 270 gebore is en op 6 Desember 343 in die ouderdom van 73 jaar in Myra – vandag bekend as Demre in Turkye – oorlede is.


Die voorblad van ‘Harper’s Weekly Journal of Civilization’ van 3 Januarie 1863 wys hoe Sinterklaas geskenke aan Unie-troepe in die Amerikaanse Burgeroorlog uitdeel
Bron: civilwarprofiles.com

Weens die wonderwerke wat aan sy voorbidding toegeskryf word, het hy ook as Nicolas die Wonderwerker bekend gestaan en Sinterklaas se Kersgeskenktradisie word aan dié monnik se gewoonte om geheime geskenke uit te deel, toegeskryf.


’n ‘Turkse Sinterklaas’ is op Kersdag 2008 onthul
Foto: C Myers, St Nicholas Center

Eeue ná sy dood is daar eers oor hom geskryf en min inligting kan bevestig word. Hy is glo in die Griekse hawestad Patara, Lisië in Klein-Asië as die seun van ryk Christelike ouers gebore. In sy jeug het hy ’n pelgrimstog na Egipte en Palestina onderneem en na sy terugkoms het hy biskop van Myra geword. Met die vervolging van Diokletianus is hy in die tronk gegooi, en is ná die toetreding van Konstantyn vrygelaat.


Dié portret van Washington Irving is in 1809 deur John Wesley Jarvis geskilder
Bron: Wikipedia

Oorskot
Minder as 200 jaar ná sy dood is die Sint Nicolaas-kerk in Myra onder bevel van Theodosius II gebou op die plek waar die kerk was waarin Nicolaas as biskop gedien het. Sy oorskot is toe na ’n sarkofaag in dié kerk verskuif.


’n ‘Sinter Claes’ afbeelding teen die muur van ’n Amsterdamse huis uit die 16e eeu
Bron: Wikipedia

Later is die Griekse Christene in daardie streek aan gesag van die Moslemse Seljuk Turke onderwerp. Dié gesagverskuiwing en die feit dat die kerk glo in skeuring met die Katolieke kerk verklaar is, het ’n groep handelaars van die Italiaanse stad Bari in 1087 gemotiveer om van Sint Nicolaas se beendere – sonder toestemming – uit sy sarkofaag te verwyder.


Jan Steen se ‘Het Sint Nicolaasfeest’ uit die 1660’s
Bron: Wikipedia

Hulle het die beendere na Bari geneem waar dit in die Basilika di San Nicola geplaas is. Die oorblywende fragmente is later deur Venesiese matrose uit die oorspronklike sarkofaag verwyder en is in die Eerste Kruistog na Venesië geneem.


In 1981 is dié standbeeld in die tuin van die Kerk van Sint Nicolaas opgerig
Foto: C Myers, St Nicholas Center

Beelde
Daar is vier verskillende beelde van Sint Nicolaas in sy tuisdorp Demre, voorheen Myra, in hedendaagse Turkye, waar die bevolking uit 99,8% Moslems bestaan.

In 1981 is ’n standbeeld van ’n geniale Kersvader in die tuin van die Kerk van Sint Nicolaas opgerig. Dié brons figuur dra ’n kapmantel met ’n geskenksak oor sy skouer en is deur drie kinders omring.


In Februarie 2005 het die Demre-stadsraad dié bloedrooi figuur, aangetrek as die Sinterklaas
wat ons vandag ken, opgerig
Foto: C Myers, St Nicholas Center

In Desember 2000 het die Russiese beeldhouer, Gregory Pototsky, en Moskou se burgemeester, Yuri Luzhkov, ’n brons Ortodokse Sint Nikolaas aan Demre geskenk. Die figuur, aangetrek in die ampsgewaad van ’n Ortodokse biskop, het bo-op ’n aardbol gestaan. Die aardbol was op ’n hoë voetstuk op die dorpsplein, reg voor die Kerk van Sint Nicolaas.


Die Russiese Ortodokse standbeeld wat na die binnehofmuur buite die kerk geskuif is
Bron: Wikipedia

In Februarie 2005 het die Demre-stadsraad die bronsbeeld met ’n bloedrooi sintetiese hars (bakeliet) figuur, aangetrek as die Sinterklaas wat ons vandag ken, vervang. Die ou beeld is van die aardbol afgehaal en langs die binnehofmuur buite die kerk geplaas.


Die leë sarkofaag in die Sint Nicolaas Kerk in Demre
Bron: Wikipedia

’n Splinternuwe ‘Turkse Sinterklaas’ is op Kersdag 2008 onthul. Die beeldhouer, Necdet Can, het die beeld op opdrag van die kulturele ministerie gemaak. Dié beeld, gemaak uit veselglas bo-oor ’n ysterraamwerk, is later met konstruksiewerk aan die dorpsplein voor die kerk verwyder. Ná voltooiing van die werk is die beeld nie teruggesit nie.

 

© 2024 Die/The Bronberger