Eiers deur die eeue – van offerande tot doekvoet danse Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 16 November 2023 12:00
Untitled Document

Angie Kleijn

Hoeveel is jy bereid om vir hoendereiers te betaal? Die krisis waarin voëlgriep die pluimveebedryf gedompel het, is aanvanklik die duidelikste in die bykans leë rakke, waar eiers eens te koop was, gesien. Dié penarie het iets dieper aangeroer; iets wat derduisende jare reeds in die mensdom se kultuur vervleg is.

Van offerande tot eierdanse – eiers was nog altyd simbolies en is in baie kulture wêreldwyd as ’n sinnebeeld van nuwe lewe, vrugbaarheid en wedergeboorte gesien. ’n Antieke Romeinse spreekwoord het gesê dat alle lewe van ’n eier af kom.


Eier-produksie in Antieke Egipte by die grafkelder van Nebseni
Bron: famouspharaohs.blogspot.com

Sommige kulture dwarsoor Afrika, Europa en Suid-Amerika breek ’n eier oop by huwelikseremonies of geboortes as ’n wens vir voorspoed. In die 17e eeu in Frankryk het bruide ’n eier oopgebreek om swangerskap te verseker. In Duitsland het boere in die lente eiers op hulle ploeë gesmeer om ’n goeie oes te waarborg.


’n Borsbeeld van Dionysos wat ’n eier en ’n hoender vashou, ongeveer 350 vC vanaf Tanagra
Bron: Britse Museum

Eierdanse
In die Middeleeue was daar ’n tradisionele speletjie wat in die Paasfeestyd gespeel is. Eiers is op die grond neergelê en mense moes tussen hulle deur dans en probeer om so min as moontlik eiers te breek.

’n Variasie hiervan was om ’n eier uit ’n bak te kantel en dan te probeer om die bak bo-oor die eier om te keer – alles deur net jou voete te gebruik. Jy moes binne-in ’n sirkel, wat met kruit op die grond getrek is, bly. Die speletjies was in die 16e en 17e eeu gewild in klein Europese dorpies.


Pieter Brueghel het ‘Die Eierdans’ rondom 1620 geskilder
Bron: publicdomainreview.org

In ’n ander weergawe in dié tyd is 100 eiers onder sand begrawe en ’n jong paartjie moes hande vashou en begin dans. As hulle klaar gedans het sonder om ’n enkele eier te breek, is hulle daar en dan getroud en niemand – nie eers hulle ouers – kon die huwelik teenstaan nie.

Een van die vroegste verwysings na dié soort eierdanse het te doen met die huwelik van Margaret van Oostenryk en Philibert van Savoje op Paasmaandag 1498. Hulle het ’n dans voltooi sonder om enige eiers te breek en is getroud.


‘Eierdans’ in ongeveer 1645 deur Jan Galle gegraveer, na Maerten de Vos
Bron: Rijksmuseum

Daar is verskeie literêre verwysings na eierdanse en Joseph Strutt beskryf in sy boek, ‘The Sports and Pastimes of the People of England’ (1801), ’n gewilde dans wat hy in die 1770’s gesien het: Die danser moes geblinddoek op die maat van musiek deur sekere dansstappies gaan sonder om op die eiers te trap.

So ’n geblinddoekte eierdans kom ook in Goethe se ‘Wilhelm Meister’s Apprenticeship’(1795) voor. Sommiges glo dat Goethe se vertelling die frase “eienen wahren Eiertanz aufführen” (om ’n ware eierdans uit te voer) tot gevolg gehad het en dat dit vandag as “op eiers loop” geken word.


Geb, vader van Isis, met die gans op sy kop
Bron: isiopolis.com

Dié soort eierdans met ’n lugtige danser is gereeld in die politieke spotprente van die 19e eeu uitgebeeld, waar verskeie politieke figure, van Bismarck tot Disraeli, versigtig oor ’n vloer vol breekbare eiers oor die weg probeer kom.

Op plaaslike bodem is daar met politieke vergaderings in die tyd van die Sappe en Natte gereeld eiers gegooi. Selfs koning Charles van Brittanje was laat verlede jaar twee keer die teiken van eiergooiers. Die gooiers is in hegtenis geneem selfs al het hulle eiers nie die teiken getref nie.


’n Nes vol eiers by Toetankamon se grafkelder
Bron: isiopolis.com

Prehistories
Argeologiese bewyse toon dat mense sedert die Neolitiese tydperk (8 000 tot 10 000 vC) reeds eiers eet. In prehistoriese tye het mense wilde eiers met jagtogte gestroop en makgemaakte pluimvee-eiers geëet.

Die antieke Romeine het pou-eiers geëet en die Sjinese was lief vir duifeiers. Die eerste opgetekende resepte vir omelette dateer terug na die 10e eeu in ’n Arabiese kookboek. Eiers is ook as medisyne gebruik: In antieke Griekeland om velprobleme te behandel en in antieke Sjina om spysvertering te help en vrugbaarheid te verhoog.


’n Skildery van Diego Velazquez wys ’n vrou wat eiers gaarmaak
Bron: artfund.org

Argeologiese opgrawings wys dat hoenders – vir eierproduksie – so ver terug as 6 500 vC in Sjina makgemaak is. Sjinese argeoloë het op ’n baie ongewone ding afgekom in ’n grafkelder in oostelike Sjina, naby die destydse hoofstad Nanjing. Hulle het ’n groot kleipot vol eiers, wat ongeveer 2 500 jaar oud is, gekry. In dieselfde graf was daar porseleinkoppies, potte, borde en ander kookgerei sodat die oorledene nie in die hiernamaals moet honger ly nie.

Die ‘kosmiese eier’ verskyn in verskeie legendes in Sjinese mitologie, een daarvan wesende dat spesifieke lede van die samelewing hulle voorouers kan terugtrek na ’n prinses wat eiers gelê het.


Antieke Egiptenare het eiers as offerande gebring
Bron: isiopolis.com

Egipte
Die Antieke Egiptenare het reeds in 4 000 vC hoenders makgemaak vir hulle vleis en eierproduksie. Volgens Diodorus is die eiers van plaaslike voëls in Egipte uitgebroei met die hulp van kunsmatige hitte wat deur mis afgegee is.

Die antieke Egiptenare het verskeie skeppingstories wat almal met eiers te doen het. Een van dié verhale lui dat die god Khnum, gebore uit die oseaan en die ‘oereier’, op sy beurt eiers – of die saad van lewe – geskep het.


In Griekse mitologie is Leda ontsteld oor die reuse eier op die tempel-altaar
Bron: edithorial.blogspot.com

Hulle het ook geglo dat Ra, die son-god, uit ’n kosmiese eier uitgebroei het. Egiptenare het aan die son as ’n eier gedink – een wat deur Seb, ’n gans wat in die hemele woon, gelê is, maar wat ook die feniks uitgebroei het.

Isis word die ‘eier van die gans’ genoem as dogter van Geb, god van die aarde, wie se simbool ’n gans is. Isis is self as voël-godin gesien en haar eiers was Horus en die Horus-koning. In die piramide-tekste bespreek Isis en Nu, god van die oer-afgrond, hoe die koning wedergebore gaan word deur uit sy eier te breek.


Die eiers in ’n grafkelder in Sjina is ongeveer 2 500 jaar oud
Bron: smalljoys.tv

‘Eier’ is selfs die naam wat antieke Egiptenare vir die binneste sarkofaag gebruik het. Dié soort verwysing na afgestorwenes as kuikens in eiers word algemeen in graftekste gevind. Eiers, as waardevolle voedsel, is ook aan die gode en afgestorwenes geoffer.

Grieke
Nog een van die vroegste voorbeelde van die eier as mitologiese simbool was in antieke Griekeland waar Orfeus en die Orfiese tradisie ’n gewilde geloofsrigting was. Die oergodheid, Phanes, het uit die Orfiese eier uitgebroei, en het op sy beurt al die ander gode geskep.


‘Democracy’s Disastrous Egg-dance’ in 1884 deur Joseph Keppler. Die vrou, ‘Demokrasie’, dra ’n blinddoek, gemerk ‘dwaasheid’
Bron: Library of Congress

En dan is daar Helen, wat uitgebroei is uit ’n eier wat deur Nemesis of Leda (afhangende van watter antieke skrywer jy lees) gelê is. Daar is geglo dat Nemesis swanger geraak het by Zeus, in die vorm van ’n swaan of gans, terwyl sy geslaap het. Sy het dié eier by Leda afgelaai, wat die eier uitgebroei het en Helen se aanneemma geword het. In ander weergawes van die storie is Leda die biologiese ma van Helen, die Dioscuri en soms Clytemnestra.


’n ‘Eiertanz’ rondom 1510 aan die bokant van die Rynrivier
Bron: landesmuseum.de

Simbool
Hindoeïsme trek ook verbintenisse tussen die eier en die kosmos. In die Chandogya Upanishads, ’n versameling Sanskrit-tekste, word die eier as simbolies van alle skepping gesien: Die dop as die hemel en die eiergeel as die aarde.

Eilande in die suide van die Stille Oseaan het ’n soortgelyke eier-gebaseerde mitologie: Ta’aroa kom voort uit ’n eier, wat dan in twee breek en die hemel en aarde vorm.


’n Skildery in 1756 deur Jean-Baptiste Greuze – eiers rol uit die mandjie en breek
Bron: metmuseum.org

In Australië beskou die Aborigenes se Droomtyd die eier as simbool van die son. Die mite begin met Dinewan, die emoe, en Brolga, die dansende voël. In ’n bakleiery tussen dié twee vat Brolga ’n eier uit Dinewan se nes en gooi dit in die lug op. Die eiergeel het hout getref, aan die brand geslaan en die son geword.

Dwarsdeur die geskiedenis beskou sommige samelewings eiers as ’n simbool van nuwe lewe of opstanding. Die gebruik van eiers het deur die Middeleeue uitgebrei en het meer prominent geword soos godsdienstige vakansiedae gewilder geword het. In dié tyd was dit ’n sonde om eiers op sekere tye van die jaar te eet, weens die verbintenis met vrugbaarheid en lewe.


Die vrou by die tafel ‘toets’ eiers – ’n skildery deur die Sweedse Pehr Hilleström (1732-1816)
Bron: Nasionale Museum van Swede

In die Oekraïene het mense Pysanka-eiers gemaak deur hulle met was te bedek en te versier ter ere van Dazhboh, die songod. Uiteindelik het Christene in Oekraïene dié tradisie vervang deur dié versierde eiers met Paasfees te gebruik om Christus se heropstanding te vier.

 

© 2024 Die/The Bronberger