Só was die base van toeka se plase aan mekaar verwant Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 21 September 2023 14:00
Untitled Document

Oor die afgelope 21 jaar het ons die verhale vertel van die eerste plase in ons kontrei en die lief en leed van die families wat daar ’n bestaan gemaak het. Ons doen ’n vlugtige herbesoek aan ’n paar van dié plase en wys hoe hulle base aan mekaar verwant was.

Hatherley

Alois Hugo Nellmapius

In September 2009 berig ons dat Alois Hugo Nellmapius in 1878/79 ’n vennootskap aangegaan het met Robert Cottle Green, wat die 4 000 akkers grootte plaas Hatherley, aangedui as 17 km oos van Pretoria aan die Pienaarsrivier, besit het.

Dit is nie duidelik presies wanneer Nellmapius alleen-eienaar van Hatherley geword het nie, maar rondom Oktober 1881 het Nellmapius saam met die maatskappy Lewis and Marks, bestaande uit sy vriende Sammy Marks en neefs Isaac en Barnett Lewis, beter bekend as Barney Barnato, ’n onderneming met die naam ‘De Eerste Fabrieken’ gevorm. Dit was die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR) se eerste wettige brandewynstokery en is deur president Paul Kruger geopen en as ‘Volkshoop’ herdoop.

Sammy Marks het die plaas Zwartkoppies langs Hatherley gekoop.

Zwartkoppies

Die Marks-gesin: Girlie, Joe, Dolly, Sammy, Louis, Bertha en Phil. Ted is afwesig

In November 2018 vertel ons dat die Joodse sakeman, Sammy Marks, die gedeelte van die plaas Zwartkoppies 364 JR noord van die Pienaarsrivier (773 hektaar groot) in Desember 1883 gekoop het. Sammy, wat tussen 1880 en 1920 ’n groot rol in mynwese, nywerheid- en landbou-ontwikkeling gespeel het, het sy deel van Zwartkoppies vir £1 400 by Charles William Rufus Cockcroft gekoop.

Daar was ’n huis, Christienen Hall, op die noordelike deel van die plaas en Sammy het aanvanklik daar gebly terwyl hy ’n herehuis, Zwartkoppies Hall, laat bou het. In 1884 het hy sy jong bruid, Bertha, uit Sheffield, Brittanje na dié huis gebring. Sammy is in sy veertigs met Bertha getroud en hulle het nege kinders gehad.

Die herehuis langs die Ou Bronkhorstspruitpad is in Maart 1989 as ’n nasionale monument verklaar.

Hazeldean

Charles Malleson

Hazeldean was die naam van die suidelike helfte van die plaas Zwartkoppies en in Junie 2012 berig ons oor die Mallesons van dié historiese melkplaas en vertel hoe hulle aan die buurplaas, The Willows, se Strubens verwant is.

Harry Struben is in 1868 met Mary Cole getroud. Hulle het op The Willows gewoon en Harry het Hazeldean later ook aangekoop. Toe hy in 1915 oorlede is, het sy seun, Arthur, Hazeldean geërf. Dele van die plaas, soos die deel waar Silver Lakes en Silver Oaks vandag is, was reeds verkoop.

Charles Malleson het Hazeldean in 1944 by sy oom, Arthur Struben, gekoop. Charles se ma, Beatrice, was Arthur se suster. Charles was met Rhoda, ’n nooi Kotzé, getroud en hulle het twee seuns gehad, Harry en Ivan.

Toe die gesin op Hazeldean aankom, het hulle in die ou opstal gewoon en Charles het begin om die groot opstal met die Kaaps-Hollandse gewels te bou. Dié opstal kan vanaf die N4-snelweg, net oos van Silver Lakes, gesien word.

The Willows

Kaptein Johan Marinus Struben

In Januarie 2010 vertel ons die verhaal van die Struben-plaas, The Willows. Harry en Fred Struben was seuns van die Hollandse skeepskaptein, Johan Marinus Struben, wat in die 1860’s belangrike poste in die ZAR beklee het.

Harry het The Willows in 1862 gekoop en Fred het as sy assistent gewerk. Ná vele mislukte boerderypogings met volstruise en beeste, is die gesin in 1870 Aliwal-Noord toe om met skape te boer. Die diamantvelde het gevolg, toe ’n terugtog na The Willows en daarna het die broers begin reis. The Willows is in die Eerste Vryheidsoorlog verwoes.

Fred het in 1892 in Barberton goud gesoek, nie gekry nie en is terug na The Willows. Die broers het besluit om na Nieu Zeeland te emigreer, maar net voor hulle vertrek het ’n vriend, wat saam met Fred op Barberton was, daar aangekom met ’n klip wat hy op sy plaas, Wilgespruit, gekry het. Fred het Harry oortuig om die buurplaas, Sterkfontein, met sy laaste geld te koop. Op die tweede dag het Fred daar tekens van goud gevind.

Grootfontein

Generaal Daniël Jacobus Elardus Erasmus en Sibella Margaretha Aletta Schabort

In Julie 2006 berig ons dat Elta en Frans Viljoen op ’n deel van die plaas Grootfontein woon wat aan Elta se oupagrootjie, generaal Daniël Jacobus Elardus Erasmus, behoort het.

Sy seun Petrus Johannes Ernst, Elta se oupa, het die grond by hom geërf en op sy beurt die plaas aan sy seun Pieterman, wat dieselfde doopname as sy pa gehad het, nagelaat.

Pieterman was Elta se ma, Susara Jacomina Margaretha, se broer. Pieterman se seun, Danie, het die deel van die geskiedkundige plaas waarop die ou familie-opstal is, geërf. Elta het vertel dat haar neef Danie ’n deel van sy grond verkoop het – dit is waar Grootfontein Landgoed gebou is. Danie het 30 hektaar van die grond oorgehou en in die geskiedkundige ou familie-opstal gewoon.

Mooikloof

Veldtogte teen Mooikloof as grysgebied

In April 2005 vertel ons dat die Voortrekker Daniël Jacobus Erasmus se seun, Stephanus, Mooikloof van sy pa geërf het. Sy broer, generaal Daniël Jacobus Elardus Erasmus, het Rietfontein, Grootfontein, Tierpoort, Bashewa en Welbekend geërf.

Met Stephanus se dood het sy seun, Daniël Jacobus (Blink Dael), Mooikloof geërf. Blink Dael het Mooikloof aan sy aangetroude neef, Jacobus Gerhardus (Dowe Koos) Opperman verkoop.

Dowe Koos is met Sibella Margaretha Erasmus getroud, ’n dogter van generaal Daniël Jacobus Elardus Erasmus van Grootfontein. Met Dowe Koos se dood in 1942 het sy dogter, Susara Jacomina Margaretha, en haar man, Daniël Pieter (Oks) Liebenberg, Mooikloof geërf. Oks het Mooikloof in 1950 aan ene mnr Sacks verkoop, wat dit aan die eiendomsontwikkelaar, Tucker, verkoop het. Volkskas het Tucker finansier en toe dinge skeefloop, het Volkskas Mooikloof aan die Bester-broers verkoop. Hulle wou Mooikloof as ’n grys dorpsgebied ontwikkel en veldtogte daarteen is in 1989 geloods. Die Besters het bankrot gespeel en Mooikloof is deur Leorand Eiendomsmakelaars oorgeneem, wat die landgoed in 1994 ontwikkel het.

Garstfontein

Marneweck-huis

In September 2008 het ons die eerste keer die geskiedenis van die plaas Garstfontein vertel. In Augustus 2021 het ons dié plaasgeskiedenis herbesoek en vertel dat inwoners van dié eertydse plaas se nalatenskap steeds te siene is in die 1877 Rademeyer-opstal, wat deesdae ’n kapel in Moreletakloof-reservaat is, Marneweck-huis, wat nou ’n restaurant is, en Erasmuskasteel, beter bekend as die Spookhuis.

Mnr G Kruger het die plaas Garstfontein op 9 Augustus 1841 geïnspekteer. Die transportakte is op 14 Maart 1859 op die naam van JH Beetge geregistreer en op dieselfde dag het sy boedel die plaas na Jacobus Cornelis Rademeyer oorgedra. Op 5 Julie daardie jaar het Jacobus ’n deel van die plaas na Matthys Johannes de Beer oorgedra.

Jacobus is met Cornelia Jacoba Erasmus getroud, die dogter van Daniel Jacobus Erasmus en Cornelia Jacoba Susanna Kruger, ’n niggie van president Paul Kruger. Drie van Jacobus se seuns het elkeen ’n derde van die plaas geërf. Dié oordragte was op 1 Maart 1875. Ons het vertel hoe Carel Jacobus Erasmus die plaas stuk vir stuk begin opkoop het.

Erasmuskasteel

Carel Jacobus Erasmus

In Julie 2006 het ons probeer uitvind hoeveel waarheid daar in die spookstories oor die Erasmuskasteel, beter bekend as die Spookhuis, steek. Waar kom die stories oor melaatse dogtertjies, wat in die toring opgesluit is, en spoke in Victoriaanse rokke wat snags ronddwaal, vandaan?

Ons het uitgevind dat dit wel waar is dat van die Erasmuskinders aan melaatsheid oorlede is, maar dat die feite oor die jare heeltemal uit verband geruk is.

Die kasteel is in 1903 deur Jochemus Johannes Petrus Erasmus en sy vrou Johanna Jacoba, ’n nooi Van Schalkwyk, op die plaas Garstfontein laat bou. Die plaas was toe reeds in 13 dele onderverdeel. Jochemus is op 30 Augustus 1863 in Pretoria gebore. Hy was die tweede seun van Carel Jacobus Erasmus wat dele van die plaas Garstfontein, waarop die kasteel gebou is, besit het. Carel is in 1832 gebore en is met Martha Louisa Prinsloo getroud.

Tierpoort

Bosch Kop Governmentskool

In Januarie 2003 het ons by Doreen en André Fourie gaan kuier. Die dele rondom die Boschkop-Tierpoort grondpad was in die laat 1800’s Fourie-wêreld. Hulle het ’n regeringservituut gereël om die grondpad te maak en uitspanplek te gee vir die mense wat met hulle waens daar verbygetrek het.

Dié meegaande foto van die Bosch Kop Governmentskool is in 1916 geneem. Die meisie reg agter die onderwyser in die tweede ry van agter is die 16-jarige Maria Fourie – André se ma. Maria se ouers, Anna en Johannes Petrus Fourie, het die opstal, wat in 2003 ’n sigbare murasie was waar die Tierpoort-grondpad in Lynnwoodweg inkom, gebou.

In die Engelse Oorlog het ouma Anna gehoor dat die kakies op pad was en huise afbrand, en sy het haar meubels, staanhorlosie en bakke, wat sy as trougeskenke gekry het, in ’n spoelsloot begrawe.

Zwavelpoort

Isabella Susanna, ’n nooi Viljoen, en Gert Petrus Bezuidenhout in 1919

Zwavelpoort is in 1842 deur JSG Bronkhorst beset. Dit is op 27 September 1859 deur die Registrateur van Aktes op sy naam geregistreer.

In Oktober 2002 berig ons dat Piet Colyn ’n afstammeling is van die Viljoensusters, agterkleindogters van Piet Retief, wat die plaas Zwavelpoort geërf het. In Februarie 2023 het ons dié verhaal herbesoek in ‘Ons vat Zwavelpoortse vroue se spoor terug tot by Piet Retief’. Piet Retief en sy vrou, Lenie, se dogter, Magdalena Margaretha Retief, is met generaal Martinus Jacobus Viljoen getroud. Hulle tweede jongste seun, Jan Hendrik Viljoen, is met Isabella Susanna, ’n nooi Prinsloo, getroud en van die Viljoen-susters se getroude name was Isabella Susanna Bezuidenhout, Magdalena Margaretha Erasmus, Debora Jacoba Evans en Maria Aletta Pieternella Wessels.

Boschkop

Kotie en Gert Viljoen bak brood in ’n miershoop

In Maart 2011 vertel ons dat ons uiteindelik gesigte by die Barnard-name op die grafstene in die plaasbegraafplaas by Waterlake Farm, kon sit. In Desember 2010 het ons geskryf dat dié grafstene ’n verhaal van die lief en leed van Boschkop se Barnards vertel; van die seuns wat in die Engelse Oorlog gesneuwel het; dié wat in die 1914 rebellie dood is; en van die Groot Griep wat die familie so genadeloos getref het.

Petrus Johannes Barnard en Jacoba Johanna Aletta, ’n nooi van Dÿk, het die Victoriaanse herehuis laat in die 1800’s op die plaas Boschkop gebou. Ons het met ’n afstammeling van dié mense, Coba Maree, gepraat en sy het vertel dat haar ouma Kotie was – Jacoba Johanna Aletta Terblanche, die dogter van Magdalena Christina Terblanche, ’n nooi Barnard, en Daniël Johannes Terblanche. Kotie is met Gert Viljoen getroud

Rietfontein

Frans Pienaar van Molendorff

In Februarie 2017 vertel ons dat ’n skatkis vol inligting oor die plase Rietfontein (Rayton-distrik) en Pienaarspoort ontdek is toe Bernice Roets ’n sak vol dokumente by haar ouma gekry het. Dié dokumente strek vanuit die 1800’s en vertel die verhaal van Joseph Willem van Molendorff, gebore 21 Augustus 1852. Hy het Pienaarspoort in die 1890’s by die Wolmarans-familie gekoop en het met die dogter van die buurplaas, Rietfontein, getrou – Hendrina Maria Cornelia, gebore van der Merwe. Plaasbelastingkwitansies vanaf 1900 wys dat Rietfontein toe aan Joseph en sy vrou se broers, Petrus Jacobus en Johannes Jacobus van der Merwe, behoort het.

Joseph is op 30 Mei 1930 oorlede en Hendrina op 16 Mei 1939. Hulle grafte is op Rietfontein te sien. Hulle kinders was Gertruida Catharina Susanna (getroud met Joachim Petrus Botha), Willem Petrus, Catharina Elizabeth (Tienie) wat later met ’n Engelbrecht getroud is en Frans Pienaar van Molendorff, met die voorname wat op ’n onbekende manier na Pienaarspoort en Franspoort verwys.

Donkerhoek

Donkie Wolmarans

In Junie 2008 vertel ons vir die eerste keer die verhaal van Donkerhoek se trotse ou herehuis uit die 1800’s, wat deur ’n destydse lid van Paul Kruger se volksraad, Jacobus Marthinus Andries (Donkie) Wolmarans gebou is. Donkie het later hoof van die uitvoerende raad van die ZAR geword.

Hy het sy gedeelte van die plaas Donkerhoek op 15 Junie 1896 gekoop en het dit Wolmarans Rust gedoop. In die Anglo-Boereoorlog is die huis deur die Engelse opgekommandeer om as hospitaal te dien.

In 1916 is die gedeelte van die plaas met die huis op deur ’n seun van Donkie, Jacobus Wolmarans, aan ’n sakevennoot van Sammy Marks, J Levin, verkoop. Die huis en grond is in 1924 deur
JB Wouda gekoop en sy nageslagte het tot verlede jaar daar gewoon.

Ons het dié verhaal in Julie 2022 herbesoek toe Ian MacDougall aangekondig het dat die familie ná vyf geslagte uit die herehuis moet trek omdat hulle deur Pienaarspoort se groeiende plakkerskampe ‘omring’ word. Die herehuis is intussen afgebreek.

Rhenosterfontein

Catharina Jacoba Schutte

In Julie 2012 het ons by Chris Joubert op die plaas Rhenosterfontein gekuier. Die plaas is op
5 Augustus 1841 geïnspekteer en die naam van die versoeker was W Botha, familie van die buurplaas, Kleinfontein. In Januarie 2021 het ons Rhenosterfontein se geskiedenis herbesoek.

Jan Francois (Frans) Schutte, ’n pionier wat Pretoria in die 1850’s begin ontwikkel het, is op 25 Maart 1883 op Rhenosterfontein oorlede en is daar begrawe. Hy was getroud met Martha Salomina Dorothea, gebore Schoeman. Sy was die weduwee van Donkie Wolmarans se oom, Josephus Johannes Wolmarans (1810-1837). Een van Frans en Martha se dogters, Catharina Jacoba Schutte, het op 26 Junie 1869 met Donkie getrou en haar jongste suster, Aletta Marthina Philippina Schutte, is met ‘n swaer, Josephus Johannes Hermanus Wolmarans (1851-1899), getroud. Een van hulle seuns, Daniël Egnatius, was die eerste kommissaris van polisie in die ZAR. Nog ’n seun, Christiaan Ernst, was die laaste hooflanddros van Pretoria.

Kleinfontein

David Adolf Michael Botha en sy vrou, Maria Elizabeth Carelse, se handtekeninge op hulle testament

In Oktober 2020 het ons die geskiedenis van die plaas Kleinfontein opgediep en meer vertel oor Pretoria-pionier, David Adolph Michael Botha, wie se plaas dit was. David was die voorsitter van die ZAR Volksraad in die worsteljare van broedertwis, wat op die burgeroorlog van 1861–1864 uitgeloop het.

Sy eerste plaashuis, gebou in die laat 1840’s op die plaas Hartebeestpoort, is vandag as die Pioniers Opelugmuseum in Silverton bekend. David het Hartebeestpoort verkoop en Kleinfontein,
1 658 morge groot, aangekoop. Dié plaas is op 14 April 1853 deur veldkornet Van der Walt geïnspekteer, maar het eers op 10 Maart 1859 met goewermenttransport op David se naam gekom.

David het die westelike gedeelte van Kleinfontein reeds in 1866 op sy seun, Johannes Jacobus, se naam geregistreer. David is op 26 Maart 1879 in die ouderdom van 72 jaar op Kleinfontein oorlede. Sy vrou, Maria Elizabeth, ’n nooi Carelse is op 26 April 1890 ook daar oorlede.

Elandsfontein

Willem Wragtag

In April 2011 vertel ons dat Cornelis Jacobus Minnaar die plaas Elandsfontein 85 op 7 November 1859 geregistreer het. Cornelis se twee seuns, Roelof en Paul Minnaar, het die erfplaas verdeel en Paul het die deel gekry waarop die Cullinan-diamantmyn later ontwikkel het.

Paul het ’n deel van sy plaas op 7 Desember 1896 vir £570 aan Willem Petrus (Willem Wragtag) Prinsloo, waarna die landboumuseum vernoem is, verkoop. Willem het dit vir sy suster Miertjie, oujongnooi Maria Elizabeth Prinsloo, gekoop.

Roelof is voor die oorlog dood, en sy weduwee is met Salmon Stephanus Maritz getroud, wat in 1903 die suidelike gedeelte van Elandsfontein uit Roelof se boedel gekoop het. Hy het dié grond vir £20 000 aan die Premier (Transvaal) Diamantmyn maatskappy verkoop.

In die na-oorlogse tyd het Thomas Cullinan tant Miertjie se deel van Elandsfontein gekoop. Willem Wragtag, wat Cullinan se aanbod teëgestaan het, is in 1898 oorlede en ná die oorlog het Thomas met tant Miertjie se ander broers onderhandel om die gedeelte vir £52 000 te koop.

Byenestpoort

Karel Petrus Minnaar se graf

In Mei 2015 het ons vertel dat nog ’n Minnaar die plaas neffens Elandsfontein gekoop het. Karel Petrus Minnaar, gebore op 21 Augustus 1805, het die plaas Byenestpoort, van omtrent 6 000 hektaar, in 1857 gekoop.

Die 86-jarige Koos Minnaar het vir ons die verhaal van Byenestpoort se delwers vertel. Prospekteerders het in 1898 op Byenestpoort begin diamante soek. Koos was die vyfde generasie Minnaars op dié grond en die oudste van sy familie wat op Byenestpoort oorgebly het.

Hy het vertel dat die plaas na ’n reusagtige bynes in die kranse waardeur die spruit loop, vernoem is.

Jakkalsdans en Brandbach

Daniël Cornelis Malan en Maria Johanna, ’n nooi Steenkamp

In November 2015 vertel ons die vele verhale agter die plaas Brandbach se naam. In Januarie 2016 vertel Piet van der Walt vir ons dat Brandbach, Jakkalsdans, Papkuilfontein en Rietfontein se mense soveel kere onder mekaar getrou het dat sy oupa se skoonpa ook sy swaer was en sy ouma se stiefma haar skoonsuster geword het.

Piet het die verhaal vertel van Hendrik Frederik Cornelis (Damara) Prinsloo van Jakkalsdans. Sy familie het vir 102 jaar lank nie geweet waar sy graf was nie. Damara, wat in die Anglo-Boereoorlog gesneuwel het, se kleinseuns, Piet en Jan van der Walt, het dié graf in Julie 2002 eers gevind.

Piet het die verhaal wat dié soektog vooraf gegaan het, aan ons vertel en verduidelik hoe dié mense afstammelinge was van die Voortrekker Daniël Malan, wat hom in 1849 op die plaas Brandbach gevestig het. Een van sy seuns was Daniël Cornelis, wat met Maria Johanna Steenkamp getroud is en agt kinders by haar gehad het. Hulle het op die plaas Rietfontein, aangrensend aan sy pa se plaas Brandbach, gewoon.

Maria is in 1875 oorlede en Daniël het in 1877 ’n tweede keer getrou, dié keer met Martha Louisa Prinsloo, Damara Prinsloo se ouer suster.

 

© 2024 Die/The Bronberger