Brooklyn se ontstaan vervleg verhale van bekendes uit ou Pretoria Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 15 June 2023 09:19
Untitled Document

Angie Kleijn

Die storie van Brooklyn se ontstaan is een wat die verhale van ’n hele paar bekende karakters uit toeka se Pretoria ineenvleg. Baie van dié verhale het afgespeel in Brooks House, die swierige herehuis wat vandag steeds in Brooksstraat 109 staan.

Die eerste eienaar van die grond waarop die voorstad Brooklyn later uitgelê is, was die kinderlose Skot James Brooks, bekend as Jas. Hy is in 1841 in Invergarden, op die oewer van Cromarty Firth in Skotland gebore as die seun van James Brooks en Margaret, ’n nooi Taylor. Jas het ’n landmeter geword en het na Suid-Afrika gekom om die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se regering te help met die opmeet van die Lourenço Marques-spoorlyn. Dié spoorlyn is later weer opgemeet deur generaal Machado, na wie Machadodorp vernoem is.


Frederick Pine Theophilus (Fred) Struben
Bron: afrikanergeskiedenis.co.za


Kaptein Johannes Hermanus Marinus Struben
Foto: Emagameni

Brookdorp
Jas was ook verantwoordelik vir die uitlê van ’n regeringswoonbuurt aan die Oosrand. Hy wou graag sy van, Brooks, aan dié woonbuurt gee. Die idee was om dit iets soos Brookdorp of Brooklands te noem, maar Jas het vinnig van plan verander toe hy agterkom wat ‘broek’ in Afrikaans beteken. Hy het die naam na ‘De Springs’ verander omdat ‘Brook’ in Skotland gewoonlik na ’n ‘stroom water’ verwys.

Argiefmateriaal wys dat Jas reeds op 30 Desember 1870 ’n versoek ingedien het om die “Goevernementsgrond, gelegend naby Nazareth” in die Pretoria-distrik by die regering te koop. “Indien ik onmiddellyk transport van dit stuk grond kan bekomen, ben ik bereid 1/3 Engelsche munt per morgen by de aflewering van het transport te betalen.”


Jas Brooks se huis op Kerkplein was die Pretoria Klub se eerste klubhuis
Bron: Rosa Swanepoel-versameling

Daar is ’n kaart wat wys dat Nazareth kerkgrond op Klipfontein Gouvernements Plaats was en dat dit “1 207 morgen 232 roeden” groot was. Jas het die grond, wat Brooklyn sou word en toe as uitvalgrond nommer 67 bekendgestaan het, in 1886 gekoop.

Voor dit weet ons dat hy sedert 1880 in ’n woonhuis op erfnommer 277 op die noord-oostelike hoek van Kerkplein en Markstraat gewoon het. Dié huis het in 1885 die eerste klubhuis van die Pretoria Klub geword.

Die Pretoria Klub se eerste byeenkoms van 55 lede is op 21 Februarie 1885 in James Brooks se kothuis op Kerkplein gehou. Die Ou Reserwebank-gebou is later op dié perseel gebou.


Kaart nommer 106 wys “Kerk’s Grond (Nazareth), Klip Fontein Gouvernements Plaats” en is geteken deur Jas Brooks, landmeter
Bron: geni.com

Catherine
Jas was reeds getroud toe die klub in sy huis gestig is. Hy is op 13 Oktober 1875 in die landdroskantoor in Pretoria met Catherine getroud, die weduwee van kaptein Johannes Hermanus Marinus Struben, die stamvader van die Strubens in Suid-Afrika. Hulle huwelikslisensie is deur landdros William Skinner onderteken.

Catherine is op 20 Augustus 1836 in Garnkirk, Skotland gebore as die dogter van William en Elizabeth Anderson. Sy was kaptein Struben, ’n offisier in diens van die Nederlandse oorlogsvloot en later kaptein in die handelsvloot, se tweede vrou. Sy eerste vrou was Frances Sarah (Fanny) Beattie, die dogter van Alexander Beattie, ’n Skotse skeepseienaar en neef van die digter Beattie.


Alan Yates het dié foto van Brooks House in 1933 vanaf die oprit geneem
Verwysing: Cumming-George 1933:74


Alan Yates se 1933 foto van die voorkant
van Brooks House
Verwysing: Cumming-George 1933:75

Hulle is op 2 Mei 1838 in Engeland getroud, waar die meeste van hulle kinders gebore is. Hulle twee bekendste seuns was Hendrik Wilhelm, bekend as Harry, en Frederick Pine Theophilus, bekend as Fred, wat beroemd geword het toe hulle die eerste goud aan die Witwatersrand ontdek het.

Lynnwoodweg is eers ‘Strubenpad’ genoem omdat dit die enigste perdekar-roete was na Harry se plaas, The Willows, oos van Pretoria. Strubenstraat in die middestad, Strubenkop in Lynnwood en Strubendam in Lynnwood Glen is na dié familie vernoem.

In 1850, toe kaptein Struben 44 jaar oud was, het die gesin Natal toe getrek, waar hy hoofmagistraat in Ladysmith was. Fanny is op 25 Augustus 1854 in die ouderdom van 36 jaar daar oorlede en kaptein Struben is in 1855 met Catherine getroud. Hulle het vier kinders gehad: Elizabeth Catherine Henrietta, wat met Robert Downie Mackenzie getrou het; William Charles Marinus Struben, May Hermina Struben; en Archibold Anderson Struben.


Brooks House
Bron: Wikipedia

Testament
Ná Catherine met Jas Brooks getroud is, het hulle tot Jas se afsterwe op 21 November 1901 (in die ouderdom van 60 jaar) in Brooks House, Brooklyn gewoon. Hulle het nooit kinders gehad nie. Jas het sy testament op 20 Junie 1901 onderteken en die twee getuies was van Pretoria se bekendste prokureurs, JHL Findlay en N MacRobert.

Die eksekuteurs van Jas se boedel was sy stiefseun, William Charles Marinus Struben, sy halfbroer, Alexander Brooks, en sy stiefskoonseun, Robert Downie Mackenzie. Robert was getroud met Catherine se dogter, Elizabeth Catharina Henrietta Struben, wat op 17 Februarie 1895 oorlede is.


Hendrik Wilhelm (Harry) Struben
Bron: geni.com

Reeds in sy leeftyd het Jas sy grond in 722 erwe laat onderverdeel deur landmeter HM Anderson. In sy testament het Jas sy eksekuteurs spesifiek opdrag gegee om erwe 467, 509 en 1 510 en sy woonhuis tesame met sewe aangrensende erwe nie in sy vrou se leeftyd te verkoop nie.

Catherine is eers op 19 September 1914 in die ouderdom van 82 jaar oorlede, maar Brooks House is lank voor dit reeds verkoop. Louis Eugen Kothe het Brooks House in 1904 gekoop en het dit daardie selfde jaar aan die prokureur Rupert Marais van die firma Pienaar en Marais verkoop.


Argitek Ernest Marston Powers
Bron: artefacts.co.za


Argitek Norris Tynwald Cowin
Bron: artefacts.co.za

Rupert
Rupert Ford Marais is op 30 Junie 1879 gebore as die seun van Petrus Johannes (Lang Piet) Marais en Sarah Mary Catherine Florence, ’n nooi Belfield. Lang Piet, ook bekend as Ryk Piet, was die langste man in Pretoria en ’n plakkaat is destyds gemaak van hom en die dwerg King Coffee – die langste en kortste man in Pretoria.

Lang Piet het in 1861 uit die Kaap na Pretoria getrek en was direkteur van die Lydenburg Gold Prospecting Co en aandeelhouer in Transvaal Mining. Verskeie winkel- en dranklisensies is aan hom toegestaan en hy het heelwat eiendomme in Pretoria besit, soos Nigel House en die huis wat later as ‘Ulundi House’ bekend sou staan. Hy het ’n erf op die noord-westelike hoek van Kerkplein, wat eers aan kaptein Struben behoort het, besit.

Sy seun Rupert was 27 jaar oud toe hy op 5 Oktober 1905 in Vryheid met die 19-jarige Stella Felicia Emmett getrou het. Hy het later advokaat in die Hooggeregshof geword. Rupert was maar 44 jaar oud toe hy op 1 Augustus 1924 in die Arcadia-verpleegkliniek in Parkstraat oorlede is, maar Brooklyn se straatname wys vandag nog die Marais-verbintenis met die voorstad.


Lang Piet Marais en King Coffee
Foto: Engelbrecht, SP, Eeufees-Album. Pretoria se eerste eeu in beeld

Strate
Volgens Lappe Laubscher se inligting werk dit so: Rupertstraat (vernoem na Rupert Marais); Charlesstraat (Rupert se broer, ’n landmeter wat help opmeet het aan Brooklyn en Silverton); Stellastraat (Rupert se vrou, Stella Felecia, ’n nooi Emmett); Maystraat (Charles se vrou Catherine May Venitia Emmett); Farrellstraat (Rupert se suster, Dorothy Noreen Farrell); Maraisstraat (Rupert se pa, Lang Piet); en Pienaarstraat (Rupert se vennoot in Pienaar en Marais).

Strate wat na Jas Brooks verwys is: Brooksstraat (vernoem na Jas); Andersonstraat (Jas se vrou, Catherine, se nooiensvan); Williamstraat (Jas se stiefseun, William Struben); Mackenziestraat (Jas se stiefskoonseun, Robert Downie Mackenzie); Haystraat (Robert Mackenzie se tweede vrou, Elizabeth Rennie Hay); Murraystraat (Jas se stiefseun, William Struben, se vrou, Helen Murray); en Alexanderstraat (Jas se halfbroer).


Die ingang na Brooks House
Bron: Google Maps

Leopold
Ná Rupert Marais se afsterwe is Brooks House deur Leopold Greenberg (21 Maart 1885 –
12 September 1964) gekoop. Hy het van Calvinia af gekom en was een van die jongste regters toe hy in 1924 in die ouderdom van 39 by die Transvaalse provinsiale afdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika aangestel is.

In 1938 het hy regter-president van dié afdeling geword en vyf jaar later het hy appèlregter van die Hooggeregshof in Bloemfontein geword. In 1953 is hy as waarnemende hoofregter aangestel.

Leopold het net ’n paar maande in Brooks House gebly. In 1924 het hy aan Philip Arbuthnot verkoop. Die huis is herstel en uitgebrei ná dit in 1924 gedeeltelik in ’n brand verwoes is. Daar was in 1925 weer aanbouings en dit lyk asof die argitekfirma Cowin, Powers en Ellis hiervoor verantwoordelik was. Die vennootskap tussen argitekte Norris Tynwald Cowin, Ernest Marston Powers en Thomas Gordon Ellis is in 1921 gestig. In 1929 is Brooks House se huidige kombuis, spens, stoor en koelkamer bygevoeg.


Regter Leopold Greenberg
Bron: Calvinia-museum

Ná Philip Arbuthnot in 1939 oorlede is, is die huis in trust gehou en die bedoeling was om verblyf aan predikers en sendelinge van die Church of England te bied. In ’n stadium is die huis ook aangepas om as studenteverblyf te dien.

Brooks House is in 1991 deur die Afrikaanse Protestantse Kerk aangekoop en gerestoureer en huisves vandag dié kerk se Kweekskool op die destydse ZAR-kerkgrond wat Jas Brooks gekoop het.

 

© 2024 Die/The Bronberger