Rotskuns wys dié Afrikaners is al baie lank inheems Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 18 May 2023 09:24
Untitled Document

Angie Kleijn

As ’n mens aan eeue-oue rotstekeninge in grotte dink, sien jy in jou geestesoog elande, buffels en blouwildebeeste; allermins iets wat kuddes beeste, wat aangekeer word, uitbeeld. Hoe lank is beeste dan al ‘mak’ in suidelike Afrika?

Die Afrikanerbees, Bos indicus, is een van die oudste inheemse rasse en die Europese bees, Bos taurus, het niks met die ras se ontwikkeling te doen gehad het nie. Ensiklopedieë sê dat die Afrikaner waarskynlik uit die vlakhoring-seboe ontwikkel het, wat saam met Khoi-Khoi-stamme langs die weskus van Afrika suidwaarts getrek het. Die skatting is dat dié herders reeds 2 000 jaar gelede begin het om skape en beeste na suidelike Afrika te bring.

Die woord ‘Khoi-Khoi’ beteken “die regte mense” of “mense onder mense” en sommige bronne meen die term is eerder ‘Khoekhoen’. Dié mense is voorheen Hottentotte genoem, maar die term word deesdae as neerhalend beskou.

Die Nguni is ’n inheemse Sanga-ras wat die Zambezirivier tussen 590 en 700 AD saam met hulle eienaars oorgesteek het. Die Nguni was basters tussen verskillende soorte Indiese en Europese beesrasse en DNS-toetse bevestig dat hulle ’n kombinasie van Bos indicus en Bos taurus is. Die Tuli-ras is nasate van die Sanga wat in die semi-woestyn dele van suid-westelike Zimbabwe aangepas het en is as Bos taurus geklassifiseer.


Mak beeste word in rotskuns in dié grot uitgebeeld
Bron: africanrockart.org

15e eeu
Herders van inheemse beeste het reeds in die 15e eeu aan die Kaap met Europese seevaarders handel gedryf. Professor Andrew B Smith van die Departement van Argeologie aan die Universiteit van Kaapstad se navorsing wys dat die mees prominente herder-perseel Kasteelberg was, wat van omtrent 1 600 tot 800 jaar gelede bewoon is.

Dié herders het groter troppe skape gehad, alhoewel bene van beeste ook gevind is in lae wat omtrent 1 000 jaar terug dateer. Professor Andrew sê dat die Khoi-Khoi se veekuddes die rede was hoekom hulle in die omgewing van Tafelbaai gestasioneer was – om voorraad aan seevaarders te verskaf.


Khoi-Khoi besig om koeie te melk
Bron: Wikimedia Commons

Verskeie verslae, wat uit die begin van die 17e eeu dateer, vertel van Europese onderhandelings met die Kaapse Khoi-Khoi. In ‘History of South Africa 1486 – 1691’ vertel GM Theal (1887) van Joris Spilbergen, kommandeur van die Hollandse Vloot, wat Tafelbaai in 1601 sy naam gegee het. Hy vertel dat siek matrose aan land moes gaan waar ’n hospitaal gevestig is.

In ‘Callers at South Africa from 1488 to 1652’ vertel R Raven-Hart dat 1 839 skape en 149 beeste tussen 1601 en 1608 met ruilhandel aan vier skepe verkoop is. In ‘The six travels of Jean Baptista Tavernier’ vertel JB Tavernier dat die Kaapse Khoi-Khoi hulle vee en ander goedere dadelik vir ruilhandel-doeleindes strand toe geneem het wanneer ’n skip aangekom het.

Toe Jan van Riebeeck in 1652 aan die Kaap geland het, het die Afrikanerbees reeds floreer, terwyl die eerste Europese beeste eers in 1706 ingevoer is.


’n Khoi-Khoi-nedersetting aan ’n Kaapse strand in 1711
Bron: Wikipedia

Sketse
In 1986 is ’n stel van 27 sketse op 15 velle in die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika gevind. Die sketse beeld die Khoi-Khoi uit saam met die diere wat hulle besit het: Beeste, skape, bokke en honde.

Die kunstenaar was waarskynlik ’n Hollander, wat in een of ander hoedanigheid aan die Hollands Oos-Indiese Kompanjie verbonde was, en moontlik op pad na die Oos-Indies of terug na Nederland was toe hy die Kaap besoek het. Daar is bewyse dat die sketse nie later as 1713 gemaak is nie, waarskynlik heelwat vroeër. Die meeste sketse het aantekeninge in Hollands by, maar dit is glo later, ná 1730, deur iemand anders gemaak.


‘Landrace Breeds: South Africa’s indigenous and locally developed farm animals’, wat deur die Plaasdier Bewaringstrust uitgegee is, wys rotstekeninge van beeste

Professor Andrew sê dat die Khoi-Khoi in die suidwestelike Kaap hulle weiding en stadigaan hulle kuddes in die gebied verloor het. In 1713 het ’n pokke-epidemie die Khoi-Khoi geweldig beïnvloed, juis op ’n tyd toe hulle kuddes swaar gekry het weens droogtetoestande en veesiektes. Hulle lewenswyse as herders het nooit van dié terugslag herstel nie.

Daar was nog tot in die 18e en 19e eeu nou en dan opstande in ’n poging om kultureel onafhanklik van die Kaapse kolonie te wees, maar uiteindelik het baie Khoi-Khoi uit die kolonie met of sonder hulle beeste noordwaarts gevlug, terwyl ander plaaswerkers in die kolonie geword en met slawe ondertrou het.


Beeste en jagters met pyl-en-boë
Bron: Grant Jurius: WordPress.com

Transvaal
Met die Groot Trek, toe die Voortrekkers die kolonie vanaf 1835 begin verlaat het, is osse voor waens ingespan maar sketse en skilderye wys dat dit allermins almal “rooi Afrikanerosse” was.

CF Gronum vertel dat die Voortrekkers verskillende soorte Afrikanerbeeste in die Transvaal aangetref het. In ‘Transportry, runderpes en poskoetse’ het professor JH Coetzee van die Instituut vir Afrikanistiek by die destydse (1975) Potchefstroomse Universiteit vertellinge van CF Gronum, wat uit die einde van die 1800’s dateer, versamel en verwerk.


Die skildery, ‘The Great Trek’, van Charles E Peers (1874 – 1944) wys dat nie naastenby alle
trekosse ‘rooi’ was nie
Bron: artnet.com

Hy sê daar was die donkerrooi vleis-Afrikaner met die rondeboud, dieprib, reguit rug, groot hoë skof, swaar nek, breë kop, groterige bek en dik lippe en ’n swaar keelvel met breë skouerknoppe. Hy het fyn, langerige horings met weglêers gehad en ’n langerige stert met ’n groot kwas om vlieë te waai.

Die tweede soort was die ligrooi melk-Afrikaner, wat ’n fyner bek en kop as die vleis-Afrikaner gehad het en nie die ronde vleisboud nie. Die koeie het wit spene gehad met ’n wit uier, ’n wit plek onder die pens en gewoonlik tussen die voorbene. Dié koeie het in goeie weiding maklik tot drie gallon melk in ’n trek gegee. Gronum sê dat die melk-Afrikaners sonder enige goeie rede stadig en vir goed uitgeskuif, uitgeslag en uitgewis is.


Van die sketse van Khoi-Khoi en hulle beeste wat in die Nasionale Biblioteek van
Suid-Afrika gevind is
Bron: Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika

Plooibees
Ander soorte Afrikaners was ’n swart bees met dieselfde vorm as die melktipe; ’n vale wat ’n bietjie swaarder was en meer soos die vleis-Afrikaner gebou was; en ’n vaal-bont Afrikaner met meer koedoeagtige horings, wat as ’n Afrikaner deurgegaan het, ’n sogenaamde plooibees, net bietjie ligter op die bene. Hier en daar was daar ook ’n geel of baie ligte Afrikanerbees.

Verder noord was daar die kort, frisgeboude besie, meestal rooi met ronde regop horings, sê Gronum. Hulle is later baie met die swaar soort Afrikaner gekruis en die boere het hulle die ‘ghwarras’ genoem.

Dan noem hy ook die sogenoemde Madagaskarbesies met hoë skoffies en hoë horings in Zimbabwe en Mosambiek en vertel dat transportryers baie van hulle in die noorde raakgeloop het. Hulle was gelerig en ligrooi en het van ’n afstand af soos ’n klomp elande gelyk. Sommige van hulle het ‘tierstrepe’ gehad en die horings was dieselfde vorm as die van ’n eland, net ’n bietjie meer krom gebuig met punte meer na binne.


’n Rotstekening van trekosse en ossewaens by ’n grot op die plaas Groenfontein in die Koue Bokkeveld, omtrent 250 km vanaf Kaapstad
Bron: sahistory.org.za

Nog ’n soort was die ou waterdraers, wat Gronum ’n regte Sesjeelse (Sechele) bees noem, wat in die weste raakgeloop is. Hulle het geweldige groot horings gehad en was meestal ’n lang, rank bees met smal heupe, bietjie lig op die bene met taamlike lae ribbes, ’n dun nekkie en sonder die groot kop. Selfs dié ou waterdraers is glo gereeld met transportry na Bulawayo se wêreld voor waens ingespan; veral toe bek- en klouseer uitgebreek het.

Vandag sê die ensiklopedieë dat die Afrikanerbees ’n inheemse slagbeesras is. Die melk-Afrikaner, die vaal-bont plooibees, die beeste wat van ver af amper soos elande lyk en dié met tierstrepe leef net in vertellinge en rotskuns voort.

 

© 2024 Die/The Bronberger