Ons vat Zwavelpoortse vroue se spoor terug tot by Piet Retief Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 17 February 2023 11:29
Untitled Document

Angie Kleijn

Wat het ’n vermoorde Voortrekkerleier met Zwavelpoort te doen? In Oktober 2002 het Piet Colyn aan Die Bronberger vertel dat Zwavelpoort nagelaat is aan drie van Piet Retief se agterkleindogters met die nooiensvan Viljoen. Ons het in dié vroue se genealogiese voetspore terug gestap en afgekom op minder bekende feite oor hulle vroulike voorsate.

Pieter Retief se verhaal is ‘n bekende een. Hy is op 12 November 1780 op die plaas Soetendal, Wagenmakersvallei in die distrik Wellington gebore. As jong man trek hy Oos-Kaap toe en bly op die plaas Mooimeisjesfontein. Hy trou in Julie 1814 met Magdalena Johanna (Lenie), ’n nooi De Wet, wat op 30 Mei 1782 op Stellenbosch gebore is.

Lenie was die weduwee van veldkornet Jan Christoffel Greyling en hulle het nege kinders gehad. Lenie het ’n verdere ses kinders saam met Piet gehad. Hulle het aan die destydse oosgrens, in die Albanie-distrik, gewoon waar Piet as die rykste man in die streek beskou is.


Debora skryf haar pa, Piet Retief, se naam en verjaardagdatum teen ’n rots by Kerkenberg: Voortrekkermonument friespaneel nommer 10 (beeldhouer: Lourika Postma)
Bron: Wikimedia

Hy het alles agtergelaat om op die Groot Trek te gaan, en het drome van groter onafhanklike grondbesit gekoester. Koning Dingaan het hom ’n stuk grond tussen die Tugela en Umzimvubu belowe, as hy beeste terugbring wat deur Sikonyella gesteel is.

So gevra, so gemaak en op 3 Februarie 1838 kom Piet by Dingaan se uMgungundhlovo aan met ongeveer 70 vrywilligers, insluitende sy eie seun en stiefseun, asook 30 agterryers.

Die volgende dag onderteken Dingaan die grondbrief en nooi Piet en sy gevolg uit na ’n onthaal, waar hulle ongewapend moes verskyn. Dit is daar, op 6 Februarie, waar Dingaan die bevel gegee het om die ‘towenaars’ dood te maak. Hulle is na die galg-heuwel, kwaMatiwane, gesleep, vermoor en aan die aasvoëls oorgelaat.


Piet Retief
Bron: Afrikanergeskiedenis.co.za

Lenie
Wat het daarna met Lenie gebeur? Ons weet dat sy uiteindelik op die noord-oostelike hoek van Retief- en Bergstraat (later Van Riebeeckstraat en nou Peter Mokabastraat) op Potchefstroom gewoon het en dat Retiefstraat na haar vernoem is.

In Julie 1994 het die Potchefstroomse tak van die Simon van der Stel Stigting ’n gedenkbeeld in haar eer in die tuin van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom (nou Die Bult) opgerig. Met die onthullingseremonie het Potchefstroomse geskiedkundige, prof Gert van den Bergh, meer oor Lenie vertel.


Piet Retief se vrou, Lenie, ’n nooi De Wet
Bron: Johan Wolfaardt: Pinterest

Hy het gesê dat sy in haar eie reg nooit ’n leier was nie. Sy het geen spesifieke suksesse behaal nie, was nie in die openbare oog nie en het nie meer of minder as die ander vroue in die Groot Trek swaargekry nie. Baie van dié vroue het mans en kinders aan die dood afgestaan. Dit is eintlik Lenie se alledaagsheid, wat haar gedenkwaardig maak, het prof Gert gesê.

Lenie was maar 16 jaar oud toe sy die eerste keer getroud is. Sy was 28 jaar oud en swanger met hulle laaste kind, toe haar eerste man in ’n militêre ekspedisie op die oosgrens dood is. Uit sy boedel het Lenie die volgende geërf: Omtrent 900 skape, 300 bokke, 20 trekosse, 50 teelkoeie, vier waperde, ’n ryperd, ses teelperde en ’n hoeveelheid geld.


Die Retiefklip-inskripsie agter glas
Bron: Wikimedia

Weduwee
Lenie was vir twee jaar ’n weduwee toe sy Piet Retief ontmoet het. In die enigste brief wat behoue gebly het, skryf Piet aan Lenie en verwys na haar as “waarde en geliefde vrou”. Prof Gert sê dat Lenie vir Piet in alles ondersteun het. Sy het selfs toegelaat dat twee van haar seuns saam met hom na Dingaan gaan.

Lenie het haar vorige man en vier kinders in die Oos-Kaap begrawe. Nou moes sy vir Piet en twee van haar seuns, een juis nog van haar vorige man, ook aan die dood afstaan. Sy was 56 jaar oud toe Piet dood is en kon vir twee jaar daarna nog self finansieel regkom voor sy die Voortrekker Volksraad in 1840 vir ’n pensioen weens armoede gevra het.


Johan Wolfaardt van die Potchefstroomse Museum meen dat die sittende vrou hoogs waarskynlik Lenie Retief is en dat haar dogter, Debora, links op die foto staan
Bron: Potchefstroomse Museum

Dié raad het self nie baie fondse gehad nie en het vir haar ’n eiendom in Pietermaritzburg (voorheen Boesmansrant) gegee waar sy en twee van haar weduwee-dogters gaan woon het. Hulle het van armoede krepeer en die Volksraad kon nie weer help nie. Kort ná Brittanje Natal geannekseer het, het Lenie besluit om Potchefstroom toe te trek, waarskynlik saam met Andries Pretorius, meen prof Gert.


Magdalena Margaretha Viljoen, gebore Retief
Bron: geni.com

Potch
Op Potch het sy ’n eiendom op die dorp, ’n plaas, asook ’n klein regeringspensioen ontvang. Volgens prof Gert was Lenie waarskynlik die eerste mens wat ’n regeringspensioen van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) ontvang het. Dit was nie genoeg om van te oorleef nie en Lenie het die eerste tuisnywerheid op Potch begin deur brood en beskuit te bak vir mans wat op kommando gaan. Sy het ook fyngebak aan die dorpsmense verkoop.

In 1852 het die Nederlandse handelaar, Jacob Stuart, haar in Potchefstroom besoek en ’n paragraaf in sy boek, ‘Hollandse Afrikanen’ oor haar geskryf. Hy skryf dat sy ’n waardige dame is en hy het spesifiek opgelet hoe netjies haar huis was, ten spyte daarvan dat haar armoede haar verhoed het om hom iets te ete aan te bied.


Isabella Susanna, ’n nooi Viljoen, en haar man Gert Petrus Bezuidenhout in 1919
Bron: Piet Colyn

Vyftien jaar is glo verby voor haar Kaapse familie geskryf het om te hoor hoe dit met haar gaan. Lenie het terug geskryf en vertel dat “. . . mijn rampte is bijna te zwaar om Ud daarvan een behoorlike melding te doen.” Sy skryf dat haar eerste man dood is en dat drie van haar kinders by hom as babas dood is. ’n Dogter is dood toe sy gekraam het en nog een weens hartprobleme.

Twee van haar seuns, een Greyling en een Retief, is saam met Piet dood. Van die ses Retief-kinders is twee as babas dood. Haar seun, Jacobus Francois Retief, se vrou en kinders is dood; haar dogter Debora Jacoba Retief se man en kinders is dood en kinders van Magdalena Margaretha Retief is ook dood.


Debora Retief
Bron: Nasionale Kultuurhistoriese Museum, Pretoria Katalogus

Debora
Lenie en Piet se oudste dogter, Debora, is vandag die bekendste van al hulle kinders en ’n afbeelding van haar kan gesien word as Voortrekkermonument friespaneel nommer 10: ‘Die verblyf by Kerkenberg’.

Dié paneel wys hoe Debora haar pa se naam in 1837 op ’n rots skryf. Die Retiefklip-erfenisterrein by Kerkenberg, naby Harrismith in die Oos-Vrystaat, is op gedeelte twee van die plaas Aberdeen. Die terrein is in 1934 as ‘monument’ verklaar. Dit is in 1937 opgemeet om die verklaring as historiese monument te finaliseer en in 1939 is dit deur die Historiese Monumentekommissie geproklameer.

Debora was drie keer getroud en het al drie haar mans oorleef. Sy was eerste met Lucas Petrus Johannes Meyer getroud, toe met Willem Adolph Landmann en toe, in 1843, met Marthinus Wessel (Swart Martiens) Pretorius – nie die eerste ZAR president MW Pretorius nie, maar nou verwant. Die president was die seun van Voortrekkerleier Andries Pretorius en Swart Martiens was die seun van Andries se broer, raadslid Henning Petrus Nicolaas Pretorius.


Die Preller-begraafplaas op Pelindaba
Bron: Wikimedia

Debora en Swart Martiens het in 1848 op die plaas Welgegund (later bekend as Pelindaba in die Pretoria-distrik) gaan woon. Hy is in 1864 in die burgeroorlog by Silkaatsnek dood. Hulle oudste seun, Henning Petrus Nicolaas, was die ZAR Staatsartillerie se eerste kommandant.

Sy dogter, Johanna Christina (Hannie) Pretorius, het met Gustav Schoeman Preller getrou – die bekende joernalis, geskiedkundige, skrywer, literêre kritikus, leier van die Afrikaanse beweging in Transvaal en stigter van ‘De Volksstem’ koerant. Vyf generasies van die Pretoriuse en Prellers se grafte lê vandag op Pelindaba.


Henning Petrus Nicolaas
Bron: boereafrikana.com

Magdalena
Destyds, op Potchefstroom, het Lenie nie net oor Debora se wedervaringe aan haar familie geskryf nie, maar ook oor haar jonger dogter, Magdalena Margaretha Retief. Sy is op 15 November 1820 op Uitenhage gebore en is met generaal Martinus Jacobus Viljoen getroud. Hulle het 14 kinders gehad. Magdalena is in die ouderdom van 63 op 13 Junie 1884 op die plaas Middelburg, distrik Pretoria, oorlede.

Magdalena se tweede jongste seun, Jan Hendrik Viljoen, is op 13 April 1858 gebore en is op 10 Mei 1933 in die ouderdom van 75 jaar oorlede en is op Delmas begrawe. Hy is getroud met Isabella Susanna, ’n nooi Prinsloo, gebore op 24 Oktober 1860. Sy is op 9 Mei 1917 in die ouderdom van 56 jaar in Pretoria oorlede.

Jan Hendrik en Isabella het agt kinders gehad, en dit is hier waar Zwavelpoort se Viljoen-susters inkom. Daar is van dié afstammelinge wie se inligting privaat gehou word, maar van die Viljoen-susters se getroude name was Isabella Susanna Bezuidenhout, Magdalena Margaretha Erasmus, Debora Jacoba Evans en Maria Aletta Pieternella Wessels.


Debora en Swart Martiens se grafsteen by Pelindaba
Bron: Wikimedia

Isabella Susanna is op 10 Desember 1883 gebore en is redelike jonk dood – op 3 Desember 1925 in die ouderdom van 41 jaar. Sy is getroud met Gerhardus Petrus (of Gerrit Pieter) Bezuidenhout, bekend as Gert Goeiman. Hy het van Wolmaransstad se wêreld gekom, waar hy in 1887 gebore is, en is op 1 Junie 1964 in Pretoria oorlede.

Isabella en Gert Goeiman het tien kinders gehad, onder meer Isabella Susanna (San), 1916 – 1991, wat getroud is met Pieter Colyn van Holland, 1906 – 1994. Piet Colyn van Zwavelpoort, wat Die Bronberger in 2002 van die Viljoen-susters vertel het, is hulle kind.

 

© 2024 Die/The Bronberger