Asyn en kakiebos in tyd van maanskyn en rose Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 20 January 2023 13:02
Untitled Document

Moenie dink dat die Valentynskaartjies wat ons vandag ken, die enigste soort is wat ooit bestaan het nie. In die Victoriaanse tydperk was daar ’n gewoonte om aaklige, beledigende kaartjies op dié dag te stuur.

Die sogenaamde ‘Vinegar Valentines’ – amper soos die boelie-gedrag wat weer met hedendaagse sosiale media bekend geword het – het in Brittanje vanaf die 1830’s tot in die 1940’s hoogty gevier. Die gebruik het glo eers ná die Amerikaanse burgeroorlog in die 1860’s in die VSA posgevat. Sommige van dié viese kaartjies is tot in die laat 1970’s nog uitgestuur.


Dié kaartjie van ’n meisie wat glad nie belangstel nie, kom uit
ongeveer 1875
Foto: Royal Pavilion & Museums,
Brighton & Hove


Dié kaartjie uit 1875 beledig ’n man wat glo net vir
homself lief is
Foto: Royal Pavilion & Museums,
Brighton & Hove


’n Viese kaartjie vir ’n vrou wat te veel lees kom uit 1875
Foto: Royal Pavilion & Museums,
Brighton & Hove

.

Historikus Annebella Pollen, wat ’n proefskrif oor ‘Vinegar Valentines’ geskryf het, sê dat alhoewel Valentynsdag se oorsprong in antieke Rome gevind kan word, dit mense uit die Victoriaanse era is wat die dag as ’n romantiese hoogtepunt begin vier het.

Sy sê dat so baie kaartjies uitgestuur is in die oploop na 14 Februarie, dat posmanne spesiale ete-toelae gekry het sodat hulle kon aanhou aflewer sonder om middagetetyd af te vat. Van die miljoene Valentynskaartjies wat in die Victoriaanse tyd uitgestuur is, was bykans die helfte van die viese variant.


’n Kaartjie uit 1875 vir ’n man wat te veel drink
Foto: Royal Pavilion & Museums, Brighton & Hove


Die kaartjie insinueer dat dié vrou ’n regte pou is
Foto: Royal Pavilion & Museums

Dié soort kaartjies se temas het gestrek van ’n ligte gespot tot blatante aggressie. Daar was ’n beledigende kaartjie vir elke soort mens – van aanmatigende verkoopsmense en pronkerige vroue tot leuenaars, bedrieërs, alkoholiste en mans in huise waar die vrou die broek dra. Die groteske sketse op die kaartjies was karikature van algemene stereotipes met die klem op belediging van die ontvanger se fisiese eienskappe of karaktertrekke.


HDié Valentynskaartjie uit 1900 sê dat die outjie nie ’n kans staan nie.
Foto: Ken Florey Suffrage Collection / Gado \ Getty Images
.
.


Dié kaartjie kom uit 1909 en lees: “Tis a lemon that I hand you and bid you now ‘skiddoo’, because I love another – there is no
chance for you!”
Foto: Missouri Historical Society

Net soos romantiese Valentynskaartjies is dié beledigende kaartjies anoniem gestuur. Geskiedkundiges sê dat die stuur van dié kaartjies behoorlik vlam gevat het toe Brittanje se pennie-pos op 10 Januarie 1840 ingestel is. Dit het enige iemand in Engeland toegelaat om enige iets vir slegs een pennie te pos.


H’n Kaartjie uit die 1840’s wat met vroueregte spot
Foto: Ken Florey Suffrage Collection /
Gado \ Getty Images


“Moenie dink dat enige iemand jou as ’n ware heer sal sien nie”
Foto: Royal Pavilion & Museums
.


Dié kaartjie beledig verouderende oujongkêrels
Foto: Royal Pavilion & Museums
.

Om by te dra tot die beledigings wat dié ‘Vinegar Valentines’ uitgedeel het, was die feit dat anonieme afsenders nie eers die pennie-posgeld hoef te betaal het nie. Hulle kon die kaartjies stuur sodat dit kontant by aflewering betaal moes word. Die arme beledigde mens moes dan ’n pennie betaal om te sien of dit ’n mooi of lelike Valentynskaartjie is.


Vraatsug is ’n lelike ding
Foto: Gepubliseer deur A Park, Leonardstraat 47, Londen


“Jy laat mense se senuwees uitrafel”
Foto: The Strong

In 1871 het Londen se poskantoor 1,2 miljoen kaartjies geprosesseer. Daar was glo baie meer kaartjies, maar posmeesters het sommige van die poskaarte gekonfiskeer omdat dit as “te vulgêr vir aflewering” beskou is.

Die Londense ‘Pall Mall Gazette’ het in 1885 berig dat ’n man sy vervreemde vrou in die nek geskiet het ná hy ’n viese Valentynskaartjie van haar af gekry het. ’n Paar van dié kaartjies het glo ook na selfmoord gelei.


Dié kaartjie uit 1880 sê dat die afsender glad nie vir die
man omgee nie
Foto: Hulton Archive / Getty Images


Dié man is behoorlik vasgevang
Foto: Collectors Weekly
.


Die Victoriaanse tyd is gekenmerk deur seksistiese idees oor rolle wat mans en vroue veronderstel is om te vertolk
Foto: Royal Pavilion & Museums

Vandag is dié soort kaartjies versamelstukke – juis omdat daar so min van hulle behoue gebly het. Wie sou tog so iets, wat boonop jou naam dra, veilig vir die nageslag wegbêre. Die meeste kaartjies is opgeskeur en dit is glo net kaartjies wat nooit verkoop is nie, wat vandag in versamelings gesien kan word.

 

© 2024 Die/The Bronberger