Heldin van Britse kampe sterf pennieloos en alleen Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 20 January 2023 12:59
Untitled Document

Angie Kleijn

Noem die naam Emily Hobhouse en almal weet jy praat van die vrou wat die gruwelike omstandighede van die Anglo-Boereoorlogse konsentrasiekampe ontbloot het. ’n Minder bekende feit oor dié Britse aktivis is dat sy vir ’n ruk in Pretoria gewoon het.

Emily het in 1908, toe sy ná die oorlog besig was om spin- en weefskole te stig om die lot van vroue te probeer verlig, ’n huis in Wesselstraat, Arcadia gehuur. Haar tyd in Pretoria word gekenmerk deur haar vriendskap met generaal Jan Smuts en sy vrou, Isie. Sy het hulle in 1903 ontmoet en het tot kort voor haar dood in 1926 met hulle gekorrespondeer.


Emily Hobhouse
Bron: wiki commons

Een van die bekendste foto’s van hulle saam dateer uit 1903 toe Emily Pretoria besoek het en ’n teepartytjie ter ere van haar gehou is. Sy staan tussen generaals Christiaan Beyers en Jan Smuts. Die partytjie is in Burgerspark beplan, maar die Britse owerhede, wat toe in beheer van Pretoria was, het toestemming geweier en dit is in ’n private tuin gehou.

Die Magnoliaboom wat vandag nog by die trappe na die ingang van die Smuts-huis museum staan, kom van saad wat Emily aan die Smutse gestuur het. In ’n brief gedateer 29 Oktober 1911, skryf sy dat sy die saad gekry het by die gravin Ludolf, wat in die Palazzo Capponi in Florence gewoon het.

’n Gedenkplaat by die Smuts-huis lees: “Die saad waarvan hierdie Magnoliaboom gegroei het, is in 1911 van Rome deur Emily Hobhouse aan mev Smuts gestuur.”


Emily se spin- en weefskool op Irene
Bron: Pretoria Historia

Cornwallis
Dié lewenslange pasifis en een van die mees invloedryke humanitêre kampvegters van haar era is op 9 April 1860 in Cornwallis, Brittanje gebore as die sewende van agt kinders van die Anglikaanse aartsdeken, Reginald Hobhouse, en Caroline Trelawny, dogter van die liberale parlementslid vir Oos-Cornwallis, sir William Trelawny.

Haar ma is dood toe Emily 20 jaar oud was en sy het vir die volgende 14 jaar, tot haar pa se dood in 1895, na hom omgesien op die Corniese dorpie, St Ives. Toe Emily 35 jaar oud was, het sy besluit om Amerika toe te gaan om welsynswerk onder die Corniese mynwerkers wat soontoe geïmmigreer het, te gaan doen. Daar het sy verloof geraak aan John Carr Jackson, ’n sakeman van Minnesota.


Emily ontvang ruikers by die Pretoria-stasie
Bron: Emily Hobhouse: Boer War Letters

Dié twee sou in Meksiko gaan bly en Emily is vooruit om ’n beesplaas te koop en ’n huis te laat bou. John kon egter nie by haar aansluit nie en sy was vol twyfel oor haar toekoms. Sy het hom in Amerika gaan besoek en in 1897 na Engeland gereis. Die verlowing is verbreek en vandag hang Emily se bruidsluier, wat sy nooit gedra het nie, in die hoofkantoor van die Oranje Vrouevereniging in Bloemfontein. Emily het nooit getrou nie en nooit kinders gehad nie.

Sy is alleen terug na Meksiko, waar haar boerdery nie uitgewerk het nie en sy die meeste van haar geld in ’n spekulatiewe onderneming verloor het. Sy is terug na Engeland en toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 uitbreek, het sy sekretaresse van die Suid-Afrikaanse Versoeningskomitee geword en het die Noodlenigingsfonds vir Suid-Afrikaanse Vroue en Kinders gestig.


Emily het dié perdeskoen-speldjie aan die Smutse geskenk
Bron: tshwanetourism.wordpress

Kampe
Emily en ander Britse burgers het nie eers geweet van die konsentrasiekampe nie. Hulle het gehoor van die beleid van verskroeide aarde, maar het weens die Krygswet en sensuur, nie besef dat plase afgebrand word en vroue en kinders huisloos en sonder besittings in oop treintrokke soos vee na kampe gestuur is nie. Dit was eers toe sy op 27 Desember 1900 in Suid-Afrika aankom, om self toesig te hou oor die Noodlenigingsfonds se verspreiding, dat sy die omstandighede ervaar het.


Emily Hobhouse is in die wit rok met die swart hoed regs van generaal Christiaan Beyers en links van generaal Jan Smuts
Bron: Jan Smuts, An Illustrated Dictionary

Emily het die kampe besoek, die toestande daar opgeteken en foto’s geneem. Van die bekendste foto’s van die uitgeteerde kindertjies, wat vandag nog in die omloop is, is deur Emily geneem. Sy het ook self trommels vol voorraad in kampe gaan aflewer.

’n Verskeidenheid staaltjies is van geslag tot geslag oorgelewer oor persoonlike ontmoetings met Emily in konsentrasiekampe. Johanna Susanna (Hannie) Viljoen, ’n nooi Pieterse, was in die Brandfort-konsentrasiekamp. Emily het die kamp besoek en gesien dat Hannie se manteltjie in die bittere koue aanhoudend van haar skouers afgly. Sy het haar eie borsspeld afgehaal en Hannie se mantel daarmee vasgesteek. Dié borsspeld is twee generasies later aan die Vrouemonument geskenk.


Die gedenkplaat by die Smuts-huis

Verslag
Te midde van dreigemente van deportasie en gevangeneming het Emily feite oor misbruike in dié kampe aan die lig gebring in haar ‘Report of a visit to the camps’, wat in 1901 gepubliseer is.

Dié verslag het ’n oproer veroorsaak en het gelei na ’n openbare ondersoek. ’n Vrouekomitee, met steun in invloedryke kringe, is in Engeland aangestel en danksy hulle werk het die geweldige sterftesyfer onder kinders en vroue in die kampe begin daal.


Die Magnolia-boom by die Smuts-huis
Foto: Peter Dickens

Ná die verslag het Emily terug gekom na Suid-Afrika en is op 27 Oktober 1901 met haar aankoms met die Avondale Castle in Tafelbaai onder militêre arres geplaas. ’n Deportasiebevel is aan haar beteken, Britse soldate het haar met geweld na die Roslyn Castle oorgeplaas en sy is na Engeland teruggestuur.

Ná die oorlog het Emily teruggekom, met opheffingswerk onder vroue begin en het haar eerste spin-en-weefskool op Philippolis gestig. Dié skole is uitgebrei na groter stede soos Johannesburg waar baie Afrikanergesinne onder ellendige omstandighede in die stad moes bly omdat hulle plase deur die Britte vernietig is.


Emily se verslag
Bron: Bodleian Libraries, University of Oxford

Skole
Sy het so ’n skool opgerig in ’n leë ou sinkskuur op Langlaagte by dominee Abraham Kriel se later bekende weeshuis sodat weesmeisies ook kon leer spin en weef. Die Johannesburgse skool is na Bellevue verskuif en het begin spesialiseer om onderwyseresse op te lei wat ander skole in ander distrikte kon begin. Daar was uiteindelik 26 spin- en weefskole reg oor Suid-Afrika waar vroue gratis opleiding kon ontvang. Emily het gehelp om die produkte wat hulle gemaak het, te bemark.


Meisies dra Emily Hobhouse se as in ’n houtkissie na die voet van die Nasionale Vrouemonument
Bron: Wikipedia

In April 1906 is dié skole se werk op die Randse Skou ten toongestel. Teen die einde van 1908 het Emily die tuisnywerhede wat met dié skole se hulp gevestig is, aan die landsregerings oorgegee en Transvaal en Vrystaat het elk ’n eie raad gehad met Emily as adviseur.

Gegrond op die spin- en weefbedryf se sukses het Emily ’n Afrikaanse meisie, Hannah Rood, saamgeneem na Europa en laat oplei in die kuns van kantmaak. Hanna is met Stephen Osborne getroud en het ’n kantskool gestig, wat later deur die land beroemd geword het.


’n Kamptuin by Irene-konsentrasiekamp, 1901 uit Emily se plakboek
Bron: Bodleian Libraries, University of Oxford

Pennieloos
Met die Eerste Wêreldoorlog het Emily haar noodlenigingswerk in Europa voortgesit. Teen 1921 was sy in haar 60’s, verswak, arm en huisloos. Suid-Afrikaners het £2 300 ingesamel, wat haar in staat gestel het om haar eie huis op haar grootword-dorp, St Ives, te koop. Dié huis vorm vandag deel van die Porthminster Hotel.

In ’n brief aan Tibby Steyn, vrou van die Vrystaatse president MT Steyn, het Emily geskryf dat haar eerste impuls was om dié skenking nié te aanvaar nie of om dit elders in openbare belang te spandeer. Ná sy egter Tibby se bygaande brief weer gelees het, het sy besluit om die geskenk in dieselfde eenvoudige en liefdevolle gees waarin dit gegee is, te aanvaar.


Emily het haar eie borsspeld vir klein Hannie Pieterse in die Brandfort-konsentrasiekamp gegee
Bron: Petronella Joubert

In Emily se laaste brief aan Tibby op 23 Mei 1926 skryf sy dat sy reikhalsend uitsien na die dood. “My siel is gevul met die musiek van ’n lied wat ek as kind in Cornwallis geleer het: ‘Kom Vader kom’”. Emily het op 8 Junie 1926 in Kensington, Londen gesterf voor haar brief Suid-Afrika bereik het.

Die oorsaak van haar dood word aangedui as borsvliesontsteking, hartdegenerasie en ’n vorm van interne kanker. Daar is niks oor haar dood in die Britse koerante berig nie. Geen reëlings is vir ’n begrafnis getref nie en niemand het by haar verassing opgedaag nie – nie eers ’n dominee nie, net die begrafnisondernemer. Vir die Britte was Emily ’n verraaier.


“Cooking in camp. Irene, 1901” uit Emily se plakboek
Bron: Bodleian Libraries, University of Oxford

Hulde
Vier maande later is Emily se as na Suid-Afrika gebring en is op 26 Oktober 1926 met ’n staatsbegrafnis, wat duisende mense bygewoon het, aan die voet van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein begrawe – die monument wat opgerig is as nagedagtenis aan die vroue en kinders wat dood is in die konsentrasiekampe wat Emily help onbloot het.

’n Huldeblyk is gelewer deur niemand anders nie as Emily se ou vriend, Jan Smuts. Hy het gesê: Ons staan alleen in die wêreld, vriendeloos onder mense, die kleinste volk teen die magtigste ryk op aarde.

Toe is een klein hand, die hand van ’n vrou, uitgereik na ons. Op daardie donkerste uur toe dit gelyk het of ons verdoem is tot vernietiging, het sy as engel verskyn, as ’n hemelse boodskapper, en die vreemdste van alles is dat sy ’n Engelse vrou was.

 

© 2024 Die/The Bronberger